Die bonkige stewel is beslis die mode-item van die oomblik, ons kan byna nie glo dat hierdie styl van die 90’s, ons jonger dae, terug is in al sy glorie nie. Hierdie trend omvat so baie verskillende stewelstyle om uit te kies, jy sal beslis ’n paar kan vind wat by jou persoonlike styl, bui en uitrusting sal pas. So ’n paar bonkige staatmakerstewels is nie slegs veelsydig nie maar ook só gemaklik!



Bonkige stewels, dra dit so: ons deel die beste wenke vir bonkige stewels – as jy huiwerig is om die trend ’n kans te gee, kyk eers na ons wenke hier: : Deur Justine Kroes
Dra dit so:
Vroulik en sag


As jy bekommerd is dat hierdie stewel-trend jou te bonkig of manlik sal laat lyk, kombineer dit met ’n sagte midi- of maksirok, verkieslik met vroulike valle en romantiese blompatrone. Dit bring dadelik ’n sagter voorkoms mee.
Dra bonkige stewels in warmer weer



Ja, die meeste van ons dra ons stewels in die winter, maar daar is geen reël wat sê dat jy nie jou stewels in warmer weer mag dra nie. Verby is die dae van ’n somer- en winterklerekas, kies eerder mode-items wat veelsydig is wat jy die hele jaar lank kan dra.
Dra jou bonkige stewels saam met jou gunsteling denimkortbroek, somerrokkie of -rompie vir ’n koel somer-sjiek voorkoms.
Maklik mooi


Die maklikste manier om jou bonkige stewels te dra? Kombineer hulle met ’n staatmaker wit T-hemp en ’n swart (of blou) denim met minimale bykomstighede. Ideaal vir ’n gemaklike naweekvoorkoms wat steeds trendy lyk.
Rol jou pype om



Rol die pype van jou broek om tot net bo die stewel om jou enkel om ’n bietjie vel te wys. Dit skep die illusie van dunner enkels. ’n Stilis se truuk wat bene en enkels vlei, veral lekker vir die somer. As jy nie jou pype wil oprol nie – dra jou stewels met ankle-grazer denims wat ook vel wys.
Netjies vir werk



Met die regte klerekeuses kan jy jou bonkige stewels selfs kantoor toe dra. Kies netjiese opsies soos ’n wit kraaghemp met ’n netjiese broek (of selfs potloodromp). Nog ’n wenk – hou die kleurskakerings van jou uitrusting neutraal en eenvoudig. Hou jou haar- en grimeervoorkoms netjies en simplisties. Die kontras tussen die netjiese uitrusting en bonkige stewels lyk sjiek maar steeds cool.
Met sokkies
’n Prettige manier om hierdie styl te dra is met sokkies wat effens uitsteek (lank of kort). Deursigtige enkelsokkies soos hierdie van Falke gee dit ’n sagter en meer vroulike aanslag.
Verskillende bonkige stewels
Die stewelopsies is eindeloos:
- van die oorspronklike Dr Martens -styl tot,
- style met veters en weer die sonder veters,
- bonkige stewels met hakke,
- bergklim stewels,
- selfs meer modieuse stewels in verskeie kleure teksture en patrone.
Pas sommer ’n klomp aan totdat jy die regte paar vind.
Pssst: As jy kort is of swaarder bene het, kies ’n bonkige stewel met ’n effense hak – dit laat kort meisies langer lyk en verleng groter bene wat baie vleiend is.
Stylvol dra dit so


Suzanne sê: “Ek dra graag my bonkige stewels – Docs (Dr Martens) saam met blompatrone of sagte materiaalrokke of -rompe. Sokkies van fyn deursigtige materiaal met patrone wat by die stewels uitsteek, lyk ook vir my mooi. Ek ryg die veters net so halfpad deur en draai dit dan om die stewels en knoop dit voor vas. Anders is dit net te veel moeite om aan- en uit te trek en gelukkig is dit hoe die meeste mense deesdae hulle stewels dra.”
Lees ook: Blompatrone, dra dit so.