Slim stylwenke vir korter vroue

 Om kort te wees hoef nie noodwendig ’n modestryd te wees nie. Twee voorkomskonsultante deel stileer en aantrekfoute wat hul korter vroue gereeld sien maak plus stylwenke om langer te lyk. Loer hier vir slim stylwenke vir korter vroue om proporsies reg te stileer en balans in jou uitrusting te skep. Saamgestel deur Justine Kroes

27/01/2023

Pasop vir die foute:

Hou dit bo die knie

Voorkomskonsultant Lizanne Anderson deel met ons “Een van die foute wat korter vroue maak is om knielengte kortbroeke te dra.  Dit is een van die vinnigste maniere om jou bene korter te laat vertoon. Dra eerder kortbroeke wat ’n klein gedeelte bo die knieë en net onder die breedste deel van jou bo-bene eindig (enige plek in daardie area). Dit is ’n baie meer vleiende lengte en sal nie jou bene kort laat vertoon nie.

Foot: Pinterest

Pasop vir langer bloese

Nog ’n fout wat korter vroue maak is om langer bloese en hemde te dra wat oor hul broeke hang (tot by die heupe).  Dit laat jou bene korter vertoon. Koop eerder gemiddelde lengte bloese wat net onder die broek se middellyfband eindig verduidelik Lizanne.

Lang rokke en rompe is ’n nee

Moenie lang rokke dra nie, voorkomskonsultant Hanli Saunderson sê “Dra rokke/rompe net bo, of op of net onder die knieё, wys ’n bietjie been, dit gee visuele lengte. Vermy liefs daardie lang rokke of rompe wat tot op die grond val, dit sal jou net nog korter laat lyk”.

Hou verby met horisontale lyne

“Nog ’n fout wat ek gereeld sien is vroue wat kledingstukke dra met horisontale lyne, hierdie “blok” jou en gee breedte aan jou voorkoms. Dra eerder klere met meer vertikale patrone of ontwerp wat die teenoorgestelde illusie van lengte sal skep” sê Hanli.

Foto Pinterest

Koebaai kleurblok

Om kleurblokuitrustings aan te trek kan jou korter laat lyk, verduidelik Hanli “Wees versigtig vir kleurblok “colour-blocking” as jy byvoorbeeld een kontrasterende kleur bo aantrek en ’n ander skakering aan jou onderlyf aantrek. Dit verdeel dadelik jou lyf in twee en kan jou liggaam ook korter en breёr laat voorkom.”

’n Kleiner handsak vir ’n kleiner mens

Vermy dit liefs om ’n oorgroot handsak te dra – hierdie stylfout op kort en petite vroue kan jou nog kleiner en korter laat vertoon. ’n Kleiner handsak sal meer in proporsie lyk teenoor jou petite bou. Dink so daaraan – ’n kleiner handsak vir ’n kleiner persoon – dit gaan alles oor die skep van die regte proporsies en balans.

Foto: Shutterstock

6 Slim stylwenke vir korter vroue:

1. Kies “high-waisted”

Een van my beste stylwenke vir kort vroue is om ’n “high-waisted’ romp of broek te kies of die “french tuck” truuk te doen;  ’n broek, romp of selfs oefenbroek, gepaard met ’n bloes of hemp wat voor deels ingesteek is, sal dadelik enige kort en petite vrou se bene langer laat vertoon.  Lizanne

Foto: Pinterest

2. Enkel lengte broeke

Kies “cropped” jeans en broeke wat op die enkel been eindig in lengte.  Om bietjie enkel te wys gee die illusie van langer bene (glo dit of nie!). Lizanne

3. ‘n Hak vir ‘n tikkie ekstra hoogte

Hierdie is nie noodwendig iets wat alle korter vroue MOET doen nie, maar dit kan beslis ’n bietjie help om ’n effense hakskoen te dra. Lizanne sê “Persoonlik is ek mal oor ’n ‘kitten heel’, want dit pas my bedrywige mamma-leefstyl goed en bied natuurlik daardie ekstra bietjie elegansie aan sekere uitrustings. ’n Effense blokhak is ook ’n pragtige styl, sou jy dit verkies”.

Foto: Shutterstock

4. Skerper voorpunt skoene

“As hakke nie jou styl is nie, gaan dan eerder net vir skerper voorpunt plat skoene eerder as ronde punte. Ronde punte sal ’n korter persoon se bene net nog korter laat vertoon.” Is Lizanne se raad.

5. Kies monokroom

Hanli se wenk “Trek een kleur van bo tot onder aan, hierdie monochromatiese manier van aantrek is ’n slim truuk om jou visueel langer te laat vertoon.”

Foto Shutterstock

6. Regaf broeke eerder as wyepyp

Hanli sê “Dra eerder “straight leg” regaf broeke in plaas van wyepypbroeke wat jou verder sal verkort.

Stylkenners

Lizanne Anderson

Lizanne Anderson – Kontak vir Lizanne hier en volg haar op sosiale media hier.

Hanli Saunderson

Hanli Saunderson – Kontak vir Hanli hier; hanlisaunderson@gmail.com en volg haar op sosiale media hier.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Emily in Paris 4
Mode-inspirasie: ‘Emily in Paris 4’ se sjiek voorkomste
error: Content is protected !!