Thrift (koop tweedehands) soos ’n kenner

Was jy al by ’n tweedehandse klerewinkel? Ingeloop en weer dadelik uitgeloop? Oorweldigend, ons weet! Ons word bederf in winkels waar als perfek netjies hang – kleur en soort bymekaar, visueel mooi uiteengesit. Maar dit is nie altyd die geval as jy graag tweedehandse klere wil aankoop oftewel “thrift” nie. Ons het vir twee “thrift” kenners, wat onder meer hul eie Instagram en aanlyn thrift winkels bestuur, vir hul top wenke gevra.

Carien Langeveldt van Maria Anna Vintage Attire en Nadine Brits van Winkelpop Vintage deel hul beste raad vir “thrifting”. Deur Justine Kroes

16/09/2022

Waarom thrift?

Carien sê –Om te thrift is ’n volhoubare modekeuse – daar word gereken dat 85% van winkels se klere in stortingsterreine opeindig. Nes jy jou vullis herwin – hoekom nie klere ook ’n tweede kans gee nie? In werklikheid, hoe minder mense nuwe klere koop hoe minder klere word gemaak.

Jy spaar geld – Om klere tweedehands te koop beteken jy betaal meestal die helfte van die prys

Carien
Carien van Maria Anna Vintage

Thrifting is ook ’n ongelooflike manier om jou eie styl te ontwikkel, een wat heeltemal uniek is. Jy sal nooit by ’n geleetheid opdaag en dieselfde rok as iemand anders dra nie”.

Nadine
Nadine van Winkelpop Vintage

15 Beste wenke om te “thrift” soos ’n kenner:

Carien van Maria Anna Vintage Attire en Nadine van Winkelpop Vintage deel hul heel beste wenke hier:

1. Kies items wat jy oor en oor gaan dra

Dink aan stapelitems vir jou klerekas. Soos ’n blazer, rok, broek of bloes wat by alles sal pas. Hierby kan jy jou meer moderne klere of items met patrone/ interessante bykomstighede ook dan daarby dra. Carien

Maria Anna Vintage

2. Kies ‘n ‘wow’ item

Kies een uitstaan of WOW stuk as jy gaan “thrift”. Veral as jy van vintage klere hou. So bou jy jou versameling op! Carien

Maria Anna Vintage

3. Vintages groottes gewoonlik kleiner

Uit my ondervinding – as dit ’n ouer/vintage items is sal die groottes gewoonlik kleiner pas as wat die etiket lees. As die etiket sê dit is n grootte 12, pas dit gewoonlik ’n grootte 10 – hou dit in gedagte.  Carien

4. Maak ‘n lysie

Maak vooraf ’n lysie van wat jy graag wil hê, anders koop jy alles wat jy nie nodig het nie. Ek sal byvoorbeeld op die uitkyk wees vir ’n high waisted rooi broek en ’n Houndstooth blazer, dan sal ek net hierdie items soek totdat ek dit kry.  Carien

5. Wees ‘groen’ en:

Neem altyd jou eie inkopiesak saam. Carien

Maria Anna Vintage

6. Kontant is ‘n goeie idee

Neem kontant, nie al die tweedehandse winkels het kaartmasjiene nie. Carien

7. Trek so aan;

Dra gemaklike, noupassende klere sodat jy sommer daar en dan kan aanpas (oor jou klere of om die draai). Carien

8. Kyk mooi voor jy koop

Kyk mooi voor jy koop, baie keer is daar ’n haakplekkie of ’n vlekkie op waaroor jy spyt is wanneer jy tuis kom. Carien

9. Handsak met ‘n bandjie ‘n moet!

Dra ’n moonbag of sling bag, iets wat gemaklik oor jou lyf kruis, anders sal jou handsak wegraak tussen al die aanpas en klerasie. Carien

Carien van Maria Anna Vintage

10. Eet eers!

Eet voor jy gaan – as jy honger is raak, affekteer dit net jou bui teenoor inkopies doen. Jy mag dalk net kwaad raak vir iemand wat die item vat wat jy wil hê. Carien

11. Los kinders eerder tuis

My seuntjie is al gewoond hieraan maar kinders is geneig om onder al die stowwerige klererelings te wil speel en wegkruip – dit gee dadelik hooikoors. Onthou sommer ’n anti-histamien vir jouself! Carien

12. Besoek ‘n hospice winkel

Indien jy avontuurlustig is en ekstra tyd op jou hande het is die maklikste manier om ’n welwillendheids of hospice winkel in jou area te besoek. Daar is gereeld nuwe items en soms vind jy skatte, en ander kere weer niks. Nadine

Winkelpop Vintage

13. Hou moed en moet nie bang wees om te krap nie.

Ek het op ’n dag ’n bekende luukse Duitse handelsmerk vintage handsakkie onder in ’n emmer gevind. Vol stof en vergete, vir slegs R20. Met ’n vinnige internetsoektog het ek besef daardie handsakkie is byna R 4000 werd. Ek het die sakkie gerestoureer en soos nuut laat lyk, voor ek dit op Winkelpop Vintage verkoop het. Nadine

Winkelpop Vintage

14. Koop tweedehands aanlyn:

Indien jy nie graag deur hope klere wil grawe nie, dan is vintage/thrift/tweedehandse winkels op instagram vir jou. Ons doen al die soekwerk, was, en was en was die items tot hulle weer vars is. Ons werk daardie verlore knopie terug aan en herstel daardie soom. Nadine

15. Wenke vir aanlyn thrifting –

Maak seker oor die mates. Koop by aanlyn/Instagram winkels wat ’n goeie verduideliking het van mates van items. Meet ook natuurlik jouself en stoor jou mates op jou foon sodat jy daardie informasie byderhand het wanneer jy aanlyn inkopies doen. As ’n aanlynwinkel nie mates lys nie – moet glad nie skaam wees om vir die winkel ’n boodskap te stuur om te vra nie. Nadine

Nadine van Winkelpop Vintage

Pssst – Thrift hier kenners se gunsteling plekke om te koop:

Carien en Nadine het elkeen hul eie platforms waar jy tweedehandse klere-items direk van ’n Instagramblad of webtuiste af kan koop. Hul deel hier hul gunsteling winkels en markies waar hul self ook koop:

“Ek thrift graag by markies, die pryse is billik en die meeste markte het R 50 rails. Ek kan soms R 500 spandeer en ek stap weg met 10 items, dit kan jy nie in ’n gewone winkel doen nie!” Is Carien se raad.

Asseblief Vintage kry jy by The Old Biscuit Mill in Kaapstad oor naweke.

Dorpstreet Sunday Market in Stellenbosch.

Goodwood Sports club het soms ook stalletjies

Thrift Fest in Trenchtown.

Slow Fashion Collective Market in Observatory.

Straatverkope in Kuilsrivier.

Picnic and Thrift in Johannesburg.

Retro Rendezvous market – Stellenbosch

First Thursday Night Market – Bree Street CT

Novalis Thrift Fest – Wynberg

Blue Bird Garage Food and Goods Market – Muizenberg

Carien Langeveldt

Carien is ‘n voltydse kunsonderwyseres, maar Vintage mode en thrifting is haar passie. Haar Instagram winkel Maria Anna Vintage Attire (na haar Ouma Anna vernoem) is vanaf 2017 aan die gang. Loer in vir weeklikse nuwe klere, in alle groottes, unieke ontwerpe en uitgesoekte kwaliteit items van jare 70’s tot 90’s. loer/koop hier.

Nadine Brits

Is ’n groot aanhanger van “slow fashion” en volhoubare mode. Sy koop self geen meer klere items by groot kettingwinkels nie – slegs plaaslike ontwerpers en tweedehandse vintage items. Nadine se aanlyn winkel Winkelpop Vintage het ook in 2017 op Instagram begin met klere van haar eie wat sy nie meer so baie dra nie “Ek het gevoel iemand anders kan hulle geniet”. Van Instagram na ’n webstuiste het Winkelpop Vintage nou ’n nuwe huis – loer/koop hier.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
dopamienemode
Dopamienmode en kleurterapie het my deur chemo gehelp
error: Content is protected !!