The Gardenspa, Babylonstoren-
The Gardenspa, Babylonstoren-

‘The Garden spa, Babylonstoren’

Sielsalig en in ’n beswyming is hoe ons gevoel het na ’n onlangse bederf by ‘The Garden spa, Babylonstoren’. Dit is deur en deur ’n daguitstappie werd. Deur Suzanne Kotzé en Justine Kroes

Ons is onlangs genooi om Babylonstoren se nuwe wynmuseum te besoek en het besluit om ’n daguitstappie daarvan te maak en ons gunsteling spa ook te besoek.

’n Besoek aan Babylonstoren laat ons voel of ons kuier by (ryk) familie op die mooiste plaas. ’n Plaas waar personeel so gulhartig en vriendelik is en met soveel passie van alles op die plaas praat, dat jy dadelik tuis voel. ’n Plaas waar soveel aandag aan detail gegee word en alles so mooi is, maar waar jy nooit voel jy hoef te maak of jy grênd is nie. ’n Plek waar jy jou skoene kan uitskop om plaasstof aan jou voete te voel, terwyl jy salig langs ’n dammetjie kan sit en dink aan niks terwyl jy ’n yskoue sappie drink wat net daar op die plaas gemaak word.

The Garden spa, Babylonstoren

Die spa besoek was ook ter viering van my verjaarsdag aan die einde van die maand. En vir ’n ‘vissie’ soos ek, bly die Hotelswembad, wat my vir soos ’n baie luukse plaasdam (kompleet met swart binnebande) voel, een van die heel lekkerste bederwe.

Ons het reeds ’n uur vroeg gekom om die geriewe ten volle te kan benut. Soos alles by Babylonstoren is die tuin en natuur sentraal rondom die tema van die spa. Dit voel behoorlik of jy deur ’n bamboes-woud loop met lawende leivore.

Daar is oral stoele waar jy kan sit en ontspan terwyl jou sintuie gestreel word met tuingeluide en die reuk van vars kruie. Dis maklik om te sien hoekom hierdie spa al soveel internasionale pryse gewen het. Ons sou beslis aanbeveel dat jy genoeg tyd inruim om al hierdie heerlike geriewe ook te geniet.

Ons ‘couples massage’ by The Garden spa

Aangesien ons vriendinne is en graag saam wou wees, het ons op die couples massage besluit. Die spa-kamer kyk uit op die allermooiste groen bamboestuin – en skep die gevoel dat jy werklik in die natuur jou behandeling geniet. Die massering kan aan die agterkant en voorkant van jou lyf gedoen word. Ons het egter altwee besluit dat ons terapeute eerder op ons agterkant moet fokus aangesien ons ons spanning in ons rûe dra.

Die massering

Die behandeling begin met diep asemteue terwyl aromatiese olies ingeasem word. Africology masseer-olies is gebruik en veel meer kan nie een van ons onthou nie, want ons was behoorlik in ’n beswyming van lekkerkry en ontspan. Die volgende wat ons weet het ’n klokkie saggies gelui om die einde van ons massering aan te kondig.

Wat ons altwee opgeval het, is dat ons nie net ontspanne gevoel het na die tyd nie, maar versorgd.

Dit het my herinner aan hoe die vroue in die hammam in Turkye aan jou vat; met so ’n moederlike, versorgende aanraking.

Na die behandeling het ons van die badkamergeriewe gebruik gemaak om ons ontspanne lywe gereed te maak vir ’n funksie. Ons wat so beïndruk met alles. In ware Babylonstorenstyl dink hulle aan alles; van ’n sakkie om jou nat swemklere in te bêre, ’n japon (wat pas!), plus ’n Dyson haardroër om ons nat hare droog te blaas. Ons het nie eers nodig gehad om ons eie opknapper in te pak nie, Babylonstoren het selfs daarvoor gesorg. 

Ons couples massage het R2 500 per paartjie gekos vir 60 minute. Jy kry ’n klein geskenkie ook by. Ons het Babylonstoren se heerlike Bitterlekker gekry en ’n mooi inkopiesak.

Masserings se pryse begin by sowat R700 vir 30 minute. Ons het al vantevore hulle manikuur- en pedikuurbehandelings ook gehad, wat ook hoogs aanbevole is.

Besoek https://babylonstoren.com/spa vir meer inligting en pryse.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Oulike selfsorgbykomstighede
error: Content is protected !!