Foto: Country Road

Terug kantoor toe; die nuwe kantoorstyl

Dis tyd om weer ’n bietjie vroeër op te staan en kantoor toe te gaan! Na amper 2 jaar van meestal van die huis af werk in jou pajamabroek, zoom toppie en oorbelle, is dit nou weer tyd om aan te trek. Voorkomskonsultant Adrienne du Plessis spesialiseer in voorkoms vir die werksplek – hier is haar raad en wenke vir die nuwe kantoorstyl PLUS stylwenke vir ’n werksonderhoud. Deur Adrienne du Plessis. Saamgestel deur Justine Kroes.

Wys jou persoonlike styl!

Die “nuwe” kantoorstyl is meer pret en minder vervelig. Dit is nou die tyd om jou persoonlikheid te wys en die werksuniform van die verlede te bêre.   

Verby is die era toe ons almal “werksklere” en “naweek” klere gehad het.

Die fokus nou is op volhoubaarheid en hoe ons verder kan kom met ons klerekas. Dit beteken nie dat jy met jou ripped shorts en plakkies werk toe kan gaan nie, maar wel dat jy slimmer moet koop om meer dra uit jou klere te kry. 

Adrienne Du Plessis

Dit is nog steeds belangrik om professioneel te lyk, maak nie saak waar jy werk nie, te veel skouer, bors en been wys is nooit ’n goeie idee nie.

Hou industrie in gedagte vir jou kantoorstyl

  • Dit is belangrik om jou industrie ingedagte te hou en wat die kantoordragreëls is. Veral as jy vir ’n groot maatskappy werk. 
  • Moenie net aannames maak dat almal nou in jeans werk toe gaan nie. Vind uit by jou personeelbestuurder en maak seker oor dragkodes.
  • Beplan jou uitrusting volgens jou dag en afsprake.
  • Ons is almal meer ingestel op gemak, so jy hoef nie meer elke dag hoë hakke aan te trek nie.

Voordat jy al jou klere uitgooi hier is ‘n paar slim wenke:

  • Sorteer eers jou klerekas uit en kyk wat jou nog goed laat voel. Wat kan jy nog dra, wat kan jy dalk laat verstel en wat moet verkoop of weggegee word.
  • Speel in jou kas met nuwe kombinasies voordat jy winkels toe gaan en maak ’n lys van wat jy kort, wat jy wil vervang en wat ’n “nice to have” sal wees.
  • ’n Swart pak, wit bloes en spykerhakke sal altyd klassiek wees, maar is dalk nie meer jou elke dag “go to” nie. (Behalwe as jy ’n prokureur in die hof is!) Maar moenie ontslae raak daarvan nie, dra dit apart en kombineer dit met die res van jou klerekas. Dra jou vleeskeurige lyfkous onder die pak met goue kettings en kitten hakke vir ’n meer moderne voorkoms wat jou van die kantoor na die restaurant kan neem.
  • Dra jou wit hemp met ’n vroulike romp en brogues of sandale vir ’n meer gemaklike voorkoms. 
  • Dra jou swart baadjie en jeans (sonder skeure vir die kantoor) met ’n paar vierkantige voorpuntskoene in ’n helder kleur. 
  • Verander die lengte van jou swart broek na net bo jou enkels en dra dit met sneakers en ’n pofmou bloes.
  • As jy hou van die veelsydigheid van ’n pak, belê liewers in een in jou beste kleur en styl wat jy saam of apart kan dra met hakke, tekkies of sandale. Jy sal verbaas wees oor hoe baie jy die items sal dra en moenie bang wees om nog kleur in te bring nie.
  • As jy eerder by ’n neutrale kleurpalet wil hou, speel met teksture, verskillende skakerings en bykomstighede. En wanneer jy wel weer winkels toe gaan, moenie vir die swart opsie gaan nie, soek iets in kleur!

Dit het jy in jou werksklerekas nodig

Dit is belangrik om hierdie basiese items in jou kas te hê: 

Neutrale hemde, bloese, T-hemde, ’n donker broek, ’n donker denim (sonder skeure), rompe, blazer, rok en neutrale skoene.

As jy die basiese neutrale items reeds in jou kas het, probeer iets anders om dinge bietjie op te helder:

Bloes

’n Pragtige bloes of hemp in jou beste kleur of iets met ’n patroon

Broek

’n Broek in jou beste styl, in ’n kleur wat jou gelukkig maak.

Rok

’n Rok in jou vleiendste styl in ’n effekleur of patroon

Baadjie

’n Baadjie wat jou lyf beklemtoon in ’n ligter kleur – linne is ideaal vir die somer.

Romp

’n Romp of twee waarin jy ongelooflik voel byvoorbeeld: geplooi, A-lyn of potloodstyl.

Skoene

Skoene in ’n kleur wat by baie in jou kas gaan pas.

Handsak

’n Handsak in ’n ligter neutrale kleur vir die somer (vermy swart).

Bykomstighede

Bykomstighede kan jou uitrusting heeltemal verander, so speel met juweliersware, serpe en gordels, maar onthou nie te veel nie, jy wil nie soos ’n kersfeesboom lyk nie.

Balans is die antwoord

  • Balans in jou uitrusting is belangrik! As jy ’n meer gemaklike joggerstyl broek dra, dra dit eerder met kitten heels of blok hakke as tekkies. Dit gee ’n meer elegante voorkoms. 
  • Vermy groot vormlose klere (veral rokke) wanneer jy professioneel wil voorkom, ’n bietjie meer struktuur aan jou klere is belangrik en lyk meer afgerond. 
  • Los eerder die hoodies en sweetpakbroeke by die huis (jy is seker ook al moeg vir hulle!)
  • Moenie bang wees om met kleur en patrone te speel nie. Dit vat wel ’n bietjie tyd om te eksperimenteer, so probeer om jou uitrusting die aand voor die tyd te beplan.

Doen moeite met jou hare en grimering

  • Doen ’n bietjie meer moeite met jou hare en grimering ook, jy gaan meer selfvertroue hê en dit gaan jou algehele beeld afrond. 
  • Daar is nou soveel pragtige haarbykomstighede om mee te eksperimenteer en ’n pragtige serp of kopband kan baie help wanneer jou hare nie die oggend wil saamspeel nie.

Wenke vir ’n werksonderhoud:

  • Moenie jou swart pak dra nie. Dra kleur om uit te staan. Jy wil ’n indruk maak. Hulle gaan dalk jou naam vergeet, maar hulle gaan die vrou in die rooi uitrusting onthou.
  • Maak seker jou klere en skoene is gemaklik, jy wil nie die heeltyd karring aan ’n hals wat te laag is of skoene waarin jy nie ordentlik kan loop nie.
  • Lyk goed versorgd. Spandeer ’n bietjie meer tyd aan jou hare, grimering, naels en maak seker jou skoene is netjies en skoon. 
  • Dra stylvolle bykomstighede. Niks te bonkig nie. Oorbelle, ’n fyn ketting en ’n ring. Dit is als ’n teken vir die onderhoudvoerder dat jy ’n oog vir detail het.
  • Dra jou horlosie en moenie laat wees nie, jy moet vir jou moontlike aanstaande werkgewer wys dat tyd vir jou belangrik is.
  • Haal diep asem en glimlag.

Adrienne du Plessis

Adrienne du Plessis is ’n geoktrooieerde rekenmeester en voorkomskonsultant. Sy spesialiseer in konsultering vir entrepreneurs en werkswinkels vir vroue en besighede. Kontak haar gerus op info@adrienneduplessis.co.za en volg haar op Instagram hier.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
22 Uitstaanjasse vir die winter
error: Content is protected !!