Suzanne toets ’n periokulêre verjongingsbehandeling (oogbehandeling)

Ek kon nie wag om die periokulêre verjongingsbehandeling te toets nie, want my oogarea is beslis die area wat die meeste deurloop onder die tekens van veroudering.  Deur Suzanne Kotzé

07/07/2023

Body + Skin Clinic (hulle het ’n tak in Kaapstad en Johannesburg) het my genooi om die periokulêre verjongingsbehandeling te toets. Die behandeling spreek onder andere hiperpigmentasie rondom jou oog-area aan, ooglede wat begin hang en plooitjies rondom jou oë. 

Hoe werk die periokulêre verjongingsbehandeling?

Die behandeling bestaan uit twee fases

Fase een van die periokulêre verjongingsbehandeling: radiofrekwensie en ultraklank behandeling met Exilis

Soos meeste van ons weet, neem kollageenvervaardiging af soos ons ouer word.  Aangesien ons vel se ondersteuningsraamwerk uit 75% kollageen bestaan, is dit net logies dat soos ons kollageen minder word, alles ander ook ‘inmekaar sak’. Dit is dus noodsaaklik om ons kollageenproduksie ’n hupstoot te gee. En dit is presies wat die Exilis doen.  Dit straal hitte uit en koel weer af om kollageenproduksie aan te help. 

So werk en voel Exilis

’n Taaierige plakker word op jou rug geplak, wat aan die BTL Exilis-masjien gekoppel word. Op die masjien word inligting soos jou ouderdom ens. ingevoer. Die terapeut reinig eers jou oogarea en smeer daarna ’n dik jel oor jou oë en oogarea. Hierna moet jy die heeltyd jou oë toe hou. Die terapeut gebruik dan die toestel met ’n metaalpunt om jou oogarea te masseer. Dit voel soos ’n kruising tussen ’n ‘Jade roller’ en ’n warmsteenmassering. Die vier kere wat ek gegaan het, was dit yskoue wintersdae en hierdie deel van die behandeling was heerlik. Dié deel van die behandeling duur so 20 minute.

Fase twee: chemiese afskilfering van jou ooglede

Nadat die jel verwyder is, word ’n chemiese afskilferaar van Mesoestetic, wat spesiaal vir jou oogarea ontwerp is, aangesmeer. Dit is veral goed vir limfdreinering vir sakke en donker kringe onder jou oë, ooglede wat hang en plooitjies. 

So voel die chemiese afskilferaar

Dit brand! Wees gereed hiervoor, tydens my eerste behandeling het ek nie verwag my ooglede gaan so brand nie. Ek het ’n sensitiewe oogarea, en ek moes dit seker verwag het, maar ek het nie. Nadat die terapeut die afskilferaar aangesit het, en jou oogarea begin brand, hou sy gelukkig ’n klein waaiertjie oor die area, wat help dat dit minder brand. Dit bly slegs vir drie tot vier minute aan, en dit is ’n reuse verligting as dit afgespoel word. ’n Strelende room word daarna aagesmeer en jou oog-area is effens rooi. Ek is geneig om baie rooi te word van enige behandeling, maar met die behandeling was ek nie so rooi dat ek skaam gevoel het om sonder grimering te loop nie. So ’n uur na die behandeling was ek glad nie meer rooi nie. 

Die resultate

periocular-eye-rejuvenation-before-after

My oogarea was baie geswel en pofferig voordat ek met die behandeling begin het. Ek het seker vir so ’n maand voor die tyd die heeltyd gevoel asof ek allergies is, want my oë het moeg en klein gevoel. Ek het tuis omtrent met my ‘Jade roller’ gemasseer en alles probeer, maar dit het die heeltyd so geswel gebly. Na my eerste behandeling kon ek reeds ’n reuse verskil sien en voel in terme hiervan. 

Voor Na: plooitjies onder my oë lyk sagter

Vier tot ses behandelings word twee tot vier-weekliks aanbeveel. Ek het vier behandelings twee tot drie weekliks gehad. Na my tweede behandeling het ek agtergekom dat ek baie makliker en gladder grimering aan my ooglede kan aanwend. Die tekstuur van my ooglede het beslis verbeter (en dit maak ook sin aangesien ons nooit hier afskilfer nie). 

Voor

’n Bietjie meer as twee maande en vier behandelings later, voel en lyk my oogarea vir my wakkerder. Let wel dat ek laas botoks gehad het so twee weke voordat ek met my eerste behandeling begin het. En teen die tyd wat ek die ‘na’-fotos geneem het, was daar nie juis veel botoks oor nie. Dus, my plooitjies lyk nie veel anders nie, maar waar ek die grootste verskil agtergekom het, is daarin dat my oog-area oper en groter gelyk. My een ooglid het baie meer as die ander gehang, en alhoewel dit steeds hang, hang dit minder. Ek kom dit veral agter as ek grimering aanwend. Nou kan ek weer my gunsteling ‘smokey eyes’ doen, sonder dat dit voel of my velle oor mekaar hang.

Voor Na: kringe onder my oë is minder erg en . ooglede se oorhang is minder erg.

Ek sal die behandeling beslis weer laat doen, ek is op die oomblik skaars lus om weer botoks te kry. Maar ek weet my fronsplooi sal my die een of ander tyd weer te veel begin pla. 

Die behandeling kos op die oomblik R1 100 vir ’n sessie (dit duur altesaam so dertig minute). Pakkette is beskikbaar as jy meer as een sessie koop. 

Besoek bodyanskinclinic.com vir meer besonderhede of stuur ’n e-pos na reception@bodyandskinclinic.com

Teken in op ons nuusbrief en word deel van die binnekring.

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
winterhoede
Winterhoede wil ons dra
error: Content is protected !!