Stylkenners se 15 slimste stileertruuks

Van slim werk met haarrekkies om jou arms om moue bo te hou tot ’n rooi bra onder ’n wit T-hemp wat glad nie wys nie. Ons deel vyf stylkenners se 15 slimste styl- en stileertruuks wat jy NOU gaan wil probeer: Saamgestel deur Justine Kroes

10/11/2023

Slim met haarrekkies

1. Rubberrekkies vir jou bloes se moue

Wanneer jy ’n bloes of hemp rondom die middelste gedeelte van jou arm wil dra maar dit bly afsak tot op jou pols, is hierdie wenk van Lizanne Anderson van HelloBeautiful_Imageandstyle op Instagram super handig:

1. Plaas ’n rekkie om jou hemp se mou se knopie (daardie dun deursigtige rekkies). 2. Sit die rekkie deur die knoopsgaatjie. 3. Plaas die rekkie weer om dieselfde knopie. En voila! Jy het ’n rekbare mou wat by jou arm opgestoot kan word en heeldag daar bly (en nie jou bloedsomloop verhinder nie!)

2. Rubberrekkies om jou baadjiemoue bo te hou:

Susra Matthee van @Susra_Matthee_image_consulting op Instagram verduidelik “Ek het nooit van hierdie stileertruuk gehou nie, die rekkies het altyd my arms seer gemaak. Totdat ek die spiral rubber rekkies probeer het. Dit maak glad nie jou arms seer nie en hou jou moue heeldag bo. Loer hier hoe Susra dit doen. Loer hier om te sien hoe Susra dit doen.

Balanseer so proporsies met die stileertruuks

3. Gordel en trui-truuk

Susra se truuk – Ek gebruik ’n belt/gordel om lang truie korter te maak. Hierdie stileertruuk is ’n gunsteling tydens die winter om langer truie “korter” te maak, veral by rokke. Wanneer ’n trui te lank is, sny dit jou lyf in die helfte en laat jou korter, groter en slordig lyk.

Bind die gordel eenvoudig om jou middel vas en vou die onderste gedeelte van jou trui na binne.  Loer hier hoe Susra dit doen.

4. Steek jou hemp (of trui) by jou bra in

Simone Lombard @simlombard image op Instagram se wenk “In plaas daarvan om hemde en truie by my broek in te steek (wat bonkig en onnet kan lyk), steek ek die onderste punt van my hemp/trui by my bra in. Dit werk veral lekker wanneer jy ʼn sportbra dra”. Selfs aktrise en stylkenner Leandie Du Randt glo in die truuk – loer hier hoe om dit te doen.

Selfs aktrise Leandie Du Randt gebruik die slim stileertruuk

5. Maak jou T-hemp korter sonder om dit in te steek:

Susra sê “In plaas daarvan om jou T-hemp in te steek by jou rompe – wat dikwels ekstra bonkige en onvleiende lae veroorsaak en jou groter om jou middel laat lyk – bind eenvoudig ’n rekkie agter jou T-hemp vas, dop dit om en siedaar – jou hemp is korter sonder enige ekstra lae.

6. Slim insteek truuk

Nog ʼn hemp-insteek wenk van Simone – in plaas daarvan om die gewone hemp-insteek metode te volg, kruis ek soms die punte van ’n hemp oormekaar – tot die linker punt van die hemp by my regter heup kom en andersom met die ander kant. Dis veral lekker wanneer jy jou middel wil beklemtoon en skep selfs ’n interessante stileerpunt aan jou uitrusting.

Stileertruuks vir jou voete

7. Koebaai sokkies wat afsak

Laudi Lee @jen_x_style_beauty op Instagram sê, my “secret socks” is gewoonlik te groot en val al ewig af wat maak dat ek sommer net heeltemal wil wegdoen met die sokkies.” Trek jou “secret” sokkie oor jou binnesool, dit sal enige sweet absorbeer en wanneer jy jou skoen uittrek, gooi jy eenvoudig net jou sokkies in die was. Loer hier om te sien hoe Laudi dit doen.

8. Nuwe lewe aan ou sandale

Lizanne deel hierdie slim truuk

1. Gebruik enige serpie wat lank genoeg is en plaas dit onder die sandaal se bande.
2. Knoop die 2 punte van die serp bo-op die sandaalbande aan mekaar vas.
3. Trek die 2 punte van die serp dan in die teenoorgestelde rigting en bind hulle aan mekaar vas onder aan die sandaal se bande.
4. Bring die 2 punte weer na bo en knoop hulle netjies bo op die sandaalbande aan mekaar.
5. Voila! Jy het splinternuwe somersandale!

Planne vir ’n bra wat wys

9. Rooi bra onder ’n wit hemp

Wat? Dit was ons eerste reaksie ook gewees, maar nadat ons hierdie “Tik Tok” hack self getoets het, kon ons nie ons oë glo nie – ’n rooi bra is aansienlik minder sigbaar as ’n wit bra onder jou wit hemp of T-hemp. Volgens ’n New York Times artikel word daar geglo die rooi bra wys nie omdat ons warm, rooierige vel ondertone het. Baie mense kies deesdae rooi eerder as ’n vleeskleur bra omdat dit glo moeiliker is om die regte vleeskleur te vind wat by soveel verskillende velskakerings pas.

10. Vir ooprug rokke

Ooprug rokke, ons almal hou daarvan maar dit is alewig ’n storie om jou bra te probeer wegsteek – loer hier na Lizanne se superslim truuk om jou bra weg te steek.

1. Neem elk van die ooprug rokkie se bandjies en draai elke bandjie om die bra se band. 2. Maak ’n strikkie oor die bra band 3. Voila! Niemand kan jou bra band sien nie!

11. Eenskouer rok? Steek so daardie bra-bandjie weg.

Stylkenner Jeanine Theron @transformed_by_jeanine op Instagram sê, moenie huiwerig wees om daardie eenskouer bloes of rok te koop nie – vat eenvoudig die oopskouer se bra bandjie en trek dit oor jou kop na jou ander skouer toe – siedaar, jy het steeds genoeg ondersteuning vir jou borste en g’n bra bandjie in sig nie! Loer hier om te sien hoe Jeanine dit doen.

12. Speel met kontrasterende skakerings

Simone verduidelik; Wanneer jou hemp en broek dieselfde kleur is, maar die skakerings pas nie 100% by mekaar nie, kan jy die oog fnuik deur ʼn belt/gordel van ʼn ander kleur by te voeg. Ek weet glad nie wat die wetenskap daaragter is nie. Ek dra gewoonlik ’n bruin/swart belt wanneer ek wit items wil dra wat nie heeltemal dieselfde skakering is nie. Die belt verbloem die punt van kontras (waar die hemp en broek ontmoet). En dan kan die oog nie so maklik die verskil optel nie. Slim, nê!

Susra stem hiermee saam – sy stel voor jy dra ‘n hangertjie wat een van die twee skakering optel en dan sal niemand eers agterkom jou witte is byvoorbeeld nie dieselfde nie. Loer hier.

13. Kolomme van kleur

“Columns of colour” soos Jeanine Theron dit verduidelik, is ’n slim aantrektruuk wat jou dadelik slanker laat vertoon, byvoorbeeld jou boonste en onderste gedeelte van jou uitrusting is dieselfde kleur met ’n baadjie of jas bo oor in ’n ander skakering. Dit skep dan ’n kolom van kleur wat ’n verslankende effek het op die oog.

Vinnig netjies

14. Haartang as ‘n yster

Simone verduidelik “Jou haartang is ’n wonderlike strykyster wat vinnig ’n kraag of mou kan netjies maak.” Ons stem hiermee saam, die hoeveelheid kere wat ’n haartang al ‘n onnet soom gered het, is ontelbaar in ons boekies!

15. Micellar water vir jou skoene

Vuil tekkies kan jou vinnig onnet laat lyk – ons truuk vir vinnig skoon? Gebruik ’n paar druppels van jou micellar water (miselwater) op ’n katoenballetjie en vee vinniger as 123 jou skoene skoon. Jy sal nie glo hoe goed die truuk werk nie, selfs Leandi Du Randt is ’n miselwater op skoene liefhebber, loer hier!

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Brilraam-trends plus: so werk ’n stylkonsultasie vir brille kies
error: Content is protected !!