Stylkenners is dit eens; strepe is ’n aanwins vir enige vrou se klerekas en hoort ’n stylvolle stapel-item in jou uitrusting-arsenaal te wees. Twee modekenners deel meer oor hul liefde vir strepe, mites rakend horisontale vs vertikale strepe plus die strepe wat tans trend. Saamgestel deur Justine Kroes
04/08/2023
Hoekom strepe?
Stylkonsultant Madeline Rossouw van Curated Style SA sê “Gestreepte klere het ’n lang geskiedenis in die modebedryf en het nog altyd ’n ikoniese status gehad. Een van die belangrikste redes is die tydlose aantrekkingskrag van strepe, hetsy dit nou vertikale, horisontale of skuins (diagonale) strepe is, het strepe die vermoë om enige uitrusting ’n meer klassieke en elegante voorkoms te gee.”
“Die winkels is tans vol strepe en die Breton streeptruie en wit en blou vertikalelyn katoen knopiehemde is op almal se moet-hê lysie, nie net vir die winter nie maar ook Somer 2023/24. Hierdie items kan ook deel vorm van jou tydlose kapsuleklerekas en gaan feitlik nooit uit die mode gaan nie. As jy ooit oorweeg het om dit aan te skaf, is nou die beste tyd. Die dun gekleurde reënboog- of “candy stripe” strepe is ook baie gewild tydens die komende somermaande sê voorkomskonsultant Susra Matthee.
Stylkenners dra hul strepe so:
“Ek hou veral van hoe die Breton streeptruie saam met losser denims en loafers gedra word of sommer so gedrapeer oor jou skouers. Die wit en blou streephemde is ook baie gewild saam met denims en loafers of wyepyp broeke wat ’n quiet luxury (duursame en luukse) gevoel gee” sê Susra.

“Strepe is ongelooflik veelsydig en pas by enige aangeleentheid aan; of dit nou ’n formele werksvergadering, ’n prettige stap met vriende of ’n aandete-afspraak by ’n restaurant is, daar is ’n gestreepte “deksel” vir elke “pot”.
Jy kan ’n gestreepte blazer oor ’n eenvoudige uitrusting dra om dit te verhef. Of ’n gestreepte truitjie met pêrelknopies saam met growwe denims en tekkies vir ’n gemaklike en modieuse voorkoms” is Madeline se raad.
Gebruik strepe om jou figuur te vlei
“Strepe het die vermoë om die oog te mislei en die figuur te vlei as jy hulle korrek gebruik. Die regte tipe strepe kan help om die figuur te verleng en ’n meer gewensde silhoeët te skep. Strepe kan die aandag vestig op spesifieke dele van jou liggaam. Terwyl die slim plasings daarvan op sekere klere-items enige figuur kan vlei” sê Madeline.
Susra verduidelik “Dit is sowaar baie belangrik om te besef watter rigting jou oë beweeg wanneer jy na strepe kyk. Vertikale lyne laat jou oë op en af beweeg, wat die illusie van lengte en slankheid skep. Wanneer die vertikale lyn breër lyne is, beweeg jou oë nie meer op en af nie, maar links na regs, wat dan dieselfde effek as horisontale lyne gee, dus nie meer so verslankend nie. Hoe breër die horisontale lyne, hoe groter die effek en hoe groter sal die oppervlak vertoon.
Let ook op na die kleurkontras tussen die strepe, hoe groter verskil in kleur tussen die strepe is, hoe groter die effek.
Hou dit in gedagte vir lyfvorms
“Vermy breër horisontale lyn hemde of truie indien jou bolyf die grootste deel van jou lyf is. Dit is wel ’n lekker item om balans aan jou lyf te gee as jy ’n driehoek (groter heupe as skouers) lyfvorm het. Maak net seker dat dit dan ’n korter bo-stuk is of dat jy dit kan insteek by jou romp of broek. Dit gaan jou geen gunse doen as die horisontale lyne tot op jou heupe (jou wydste deel) beweeg nie.” Susra
Madeline verduidelik: “In ’n studie deur Dr. Peter Thompson, ’n sielkundige van die Universiteit van York, Engeland, se navorsing gepubliseer in die tydskrif Perception in 2005 het bevind dat die oud-modiese voorkomskonsultante se opinie dat vertikale strepe universeel verslankend is, nie noodwendig altyd waar is nie. Maar dit is belangrik om te besef dat die visuele impak van strepe kan wissel. Afhangende van faktore soos die breedte van die strepe, die kleure wat gebruik word, en die individu se liggaamsvorm en plasing van strepe.”
“Ek leer my kliënte dat ‘fashion is free-ing’ sê Madeline “en dit is belangriker om te dra waarin jy vol selfvertroue voel eerder as om aan oer-oue en rigiede reëls te voldoen.

Terwyl die mode voortdurend verander, bly gestreepte klere ’n mode-ikoon wat in die harte en klerekaste van die modebewustes bly.
Soos Coco Chanel gesê het: ‘Die mode verander, maar styl bly onveranderlik.’ En gestreepte klere voeg beslis styl en persoonlikheid by enige vrou se modeversameling!”
Madeline Rossouw Curated Style SA
Streep-items op ons kooplysie:
Modekenners:

