’n Nuwe jaar vir ’n nuwe jy – Stylkenner en voorkomskonsultant Marilize de Clercq deel 8 moet-hê mode-items wat jou 2020-voorkoms vir 2021 sal vernuwe. Deur Justine Kroes
1. Leerbaadjie
Marilize se raad: “Ek gee nie om hoe oud jy is nie – jy moet ’n moto-styl leerbaadjie in jou kas hê. Ek dink dis universeel, wat ookal jou stylpersoonlikheid. Dit is iets wat jou voorkoms dadelik opfris, solank jy nog werk of selfs ’n cool ouma is, is hierdie styl ’n goeie kopie.
As jy ouer is en jou stylpersoonlikheid is meer ‘veilig’, kies dan ’n meer klassieke styl baadjie met minder ritsluiters en gordels, een met minder blink en detail.
Marilize De Clercq
En weet jy wat? Die baadjie hoef nie eens van egte leer te wees nie, kies net ’n klassieke moto-styl snit in ’n faux leer. Solank hy nie te veel blink nie.
Vervang daardie serpie met jou nuwe tydlose biker-styl baadjie, drapeer hom oor jou skouers vir ’n stylvolle voorkoms.
2. Koop ’n nuwe denim
Ons almal dra ’n paar jeans, maar daag jouself ’n slag uit wanneer dit weer kom by die kies van ’n denim. “Gaan pas gerus daardie duurder denim aan, jy mag dalk net verras wees” sê Marilize.
“Ek sien dit gereeld – vroue wat sê hulle sukkel om jeans te kry wat pas – probeer ’n slag verskillende style en snitte. Beweeg weg van die styl wat jy nog van tien jaar gelede af dra, probeer ’n skinny of ’n mom jean.”
3. Kies die regte onderklere
Jou bra:
’n Bra wat ordentlik pas is ’n moet – soos ons ouer word verander die vorm van ons borste (swangerskwap, borsvoeding en ouderdom). Daarom is dit belangrik dat die vorm van jou bra ook verander, sê Marilize.
Belangrike wenke vir die kies van ’n bra:
- Die grootste ondersteunende gedeelte van die bra is die bandjies
- Hoe groter die borste hoe breër moet die bandjie wees.
Vormdrag:
“Moet nie bang wees vir shapewear nie, dit is vir my ’n noodsaaklikheid. Ek voel net lekker in my klere as ek die regte onderklere aanhet”
Marilize
Loer gerus by Inner secrets vir ’n paar van ons gunstelinge.
Sigbare onderklere:
Maak ook seker daar is geen VPL (visible panty line) nie, dit laat jou voorkoms sommer dadelik meer slordig lyk. Kies onderklere en broekies sonder rekke, kyk uit vir woorde soos seamless.
4. Wit tekkies
Is beslis ’n moet-hê, maak nie saak van jou ouderdom nie – dit is ’n veelsydige en stylvolle skoen wat werklik by enigiets pas.
Die styl tekkie wat elke persoon kies sal afhang van hul stylpersoonlikheid.
’n Tydlose wit tekkie is ’n moderne skoen wat inpas by almal se leefstyl; boonop is dit gemaklik en trendy.
Marilize De Clercq
As jy huiwerig is en jy weet nie watter wit tekkie om te kies nie – probeer die lae profiel, “slimline’ “ laaggesnyde opsies. Hierdie styl pas by die meeste van ons en bly klassiek, is Marilize se raad.
5. Wit-T hemp of bloes
Elke stylvolle klerekas benodig ’n wit-hemp, bloes of kraaghemp, afhangende van jou styl-persoonlikheid.
Die topwenk: hierdie item moet elke seisoen vernuwe word en dit moet vars lyk, ons almal weet hoe vinnig ons wit bloese of t-hemde vlekke of merkies opdoen -of iets gebeur met die hemp in die wasmasjien.
Die minuut wat so ’n hemp ‘moeg’ lyk, moet hy gaan, indien nie sal jou voorkoms ook sommer ‘moeg’ lyk. Marilize sê: “As jy nie seker is watter skakering van wit by jou pas nie, is die veiligste om altyd die ‘afwit’ skakering te kies. Die helder kraakwit lyk nie altyd goed langs ’n vaal gesiggie nie.”
6. ’n Nuwe sonbril
“As jy meer as een sonbril kan beskostig, is ’n nuwe sonbril ’n eenvoudige manier om jou voorkoms op te kikker. Vervang daardie sonbril wat jy al jare lank dra, en probeer iets meer uitdagends en modieus soos ’n klassieke kat-oog styl wat regtig tydloos is.”
Wenk: “As jy nie elke seisoen kan bekostig om jou sonbril te verander nie, moet nie trendy sonbrille kies wat net een seisoen groot nuus gaan wees nie – want volgende seisoen lyk dit outyds en is dan nie meer hoogmode nie.” sê Marilize.
Moet liefs nie jou man se sport-sonbril dra nie – onthou sport-sonbrille is nie mode-sonbrille nie.
7. Jou handsak
“Jou handak is oud en moeg, en hy het al verkleur – hy hang pap en selfs dubbin gaan hom nie meer kan red nie! Jy dra ook dan hierdie handsak by al jou netjiese uitrustings (selfs werk toe, na troues en na formele afsprake toe)” sê Marilize.
“Dit is belangrik dat jou handsak en die styl daarvan pas by dit wat jy aan het – jy dra mos nie jou strand plakkies na ’n troue toe nie?” Kies eerder ’n tydlose, kleiner handsak of selfs ’n handsak met struktuur eerder as ’n ou ‘pap’ handsak, is Marilize se raad.
8. Die nuwe LBD (Little Black Dress)
Jou swart rokkie of LBD soos dit bekend staan in modekringe, hoef nie noodwendig swart te wees nie. Jou beste kleur kan dalk smaraggroen of kobaltblou wees en nie noodwendig swart nie. Kies ’n tydlose styl in die skakering wat JOU die beste pas.
Maak jy hierdie voorkomsfoute? Lees Marilize se raad hier.