Al ooit gewonder of ’n dranktrollie die koop werd is? Jou dranktrollie hoef nie alleenlik vir drankies gebruik te word nie en jy sal nie glo hoe veelsydig dit eintlik is nie. Gebruik jou dranktrollie as ’n mooi fokuspunt vir jou volgende partytjie. Ons het so lekker gespeel met die stilering van ons Tuindag teepartyjietrollie – ons deel graag ’n paar wenke en dekoritems vir jou eie tuis-teepartytjie. Deur Justine Kroes
04/10/2024
Kies ’n kleur of tema
Die maklikste manier om jou dranktrollie te stileer is om vooraf te besluit op ’n kleurskema of tema. Hierdie besluit vereenvoudig die beplanning en stileerproses. Dit laat jou ook toe om eerstens dekorelemente te gebruik wat jy dalk al reeds tuis het.

Ter viering van Tuindag (wat op 20 Oktober is) is blomme natuurlik die inspirasie agter ons eie teepartytjietrollie. Ons het besluit op sjampanje of skemerkelkglase in die vorm van ’n blom, koek en kolwyntjies met blomversierings. En dan natuurlik die pragtige blommetjie servetringe en die blom ysbak.


Die kombinasie van verskillende helder skakerings van pienk, oranje, en turkoois gekombineer met die verskillende kleure vars blomme sorg vir daardie onmiddellike dopamiene goedvoel-effek.
’n Blom ysbak

Hoewel dit dalk na baie moeite moeite lyk, is hierdie blom ysbak ’n maklike en treffende dekorelement vir jou teepartytjie-trollie. Suzanne kan hierdie blom ysbak al toe oë maak, loer hier:
Klik vir stap-vir-stap-video
As jy nie ’n blom ysbak wil maak nie – ruil jou gewone ys uit vir blomysballe. Loer net hier, dit is so maklik om te maak en glo ons dit sal sorg vir baie komplimente, nes die blom ysbak.
Verskillende hoogtes
Eksperimenteer met verskillende hoogtes op jou teepartytjietrollie. As al die dekor dieselfde hoogte is, raak die kyker se oë vinnig verveeld. Verskillende hoogtes bied dimensie en maak die teetrollie meer interessant en dinamies.

Gebruik ’n hoë dekorelement soos ’n koekstander, ‘n mediumhoogte item soos ‘n plant of blomme en ’n lae dekorelement soos ’n koppie of servette. Hierdie stileertruuk skep visuele kontras deur voorwerpe van verskillende hoogtes te gebruik wat mense geïnteresseerd hou.

Tekstuur
Moet nie net glas of net keramiek op jou teetrollie gebruik nie. Meng verskillende teksture en lae om die teetrollie interessant te maak. Gebruik items soos gekleurde glase, servette, en metaal of keramiek koekstaanders om ’n ryk visuele ervaring te skep. Dit help ook om ’n gevoel van diepte aan jou teetrollie te gee

Vars blomme
Een van die topwenke wat ons al by dekor stiliste geleer het, is om vars of “lewendige” plante of blomme te gebruik in jou stilering. Hetsy jy nou ’n koffietafel, bedkassie of drank- of teetrollie stileer, daar is net iets omtrent vars blomme en groen blare wat die hele prentjie mooi afrond.
As jou dranktrollie as ’n fokuspunt dien, gebruik verskillende soorte blomme en loof om kleur en tekstuur by die prentjie te voeg.

Ons het een rangskikking bo-op die dranktrollie geplaas en aan die teenoorgestelde kant ’n laer, groter rangskikking. Die verskillende hoogtes en groottes van die rangskikkings balanseer die prentjie. Die gebruik van twee identiese hoogte rangskikkings aan beide kante van die trollie sou ’n stywe en meer formele gevoel aan die stilering gee.
Hier is ’n paar dekor-items vir jou eie teepartyjietrollie

