Vir jare lank was blinkers net vir aandgeleenthede bedoel, maar vandag is blinkers byna ’n mode- moet-hê item wat ook gedra kan word wanneer die skon skyn, watookal jou ouderdom. Hier is drie stylkenners en blinkerliefhebbers se beste stileerwenke, blinkerfoute om te vermy en hoe om vir jou blinkers te sorg. Saamgestel deur Justine Kroes.
02/08/2024
Wat is die sielkunde agter sequins dra, en hoekom is ons as vroue so aangetrokke tot die blink?
Voorkomskonsultant en stylkenner Susra Matthee sê: “Sequins is beslis deel van die “dopamine dressing” beweging.
Dopamiene is natuurlik daardie “feel good” hormoon wat vrygestel word. Wanneer jy iets blinks dra, gebeur dieselfde, jou skitterende uitrusting lig jou gemoed.”
Susra Matthee
Ruff Tung ontwerper Bridget Pickering sê “Jy voel nie net goed wanneer jy sequins dra nie, jy laat ander mense ook goed voel, jy sal nie glo hoe jou blinker “uitstaan” item mense om jou sal laat glimlag en sprankel nie”.

Blinkers is tydloos,
Die grootste voordeel van sequins? Dit gaan byna nooit uit die mode nie en bly tydloos. Veral die klassieke sequins skakerings soos goud, silwer en swart, sê Susra.
Ek het agt jaar gelede hierdie baadjie gekoop en ek dra dit nog steeds elke jaar. Ek dra dit graag saam met ’n satyn slooprok of by ‘n paar denims.
Simone Lombard, voorkomskonsultant, sê: Ek hou so baie van tydlose sequins, selfs my trourok was uit sequins materiaal!
4 Handige sequins stileerwenke
1. High-low aantrekstyl:
Susra verduidelik: “Wanneer jy blinkers in die dag wil dra, maak seker jy kombineer dit met “casual” – meer gemaklike items om nie té formeel te lyk nie. Die aantrekstyl word high-low dressing genoem – wanneer jy ’n formele item by gemaklike items dra. Lees meer oor die high-low aantrekstyl hier.
2. Monokroom uitrustings bly stylvol
Simone se topwenk, “Monokroom verwys na items wat min of meer dieselfde skakering is wat saam gedra word. Om diepte en interessantheid by so ’n eenkleurige uitrusting te bring, speel met verskillende teksture “layer” byvoorbeeld jou sequins item by ’n wolkledingstuk in dieselfde skakering.
3. Vind die regte sequins skakering vir jou
“Maak seker jy kies blinkers in ’n kleur wat by jou pas. Indien jy in die “cool” kategorie (vel, hare, oë) val sal silwer beter werk. Goud werk weer beter by iemand met ’n warm veltoon en haar skakerings” verduidelik Susra.
Simone stem hiermee saam: Die keuse van blinkers kan deur jou unieke kleurkombinasies beïnvloed word, as jy in die winter/ lente kategorie val, kies ʼn blinker met ʼn helder glinster en as jy in die somer/ herfs kategorie val, kan jy gerus iets kies wat ’n mat glinster het.
Indien goue en sliwer blinkers vir jou te intimiderend en uitdagend voel, probeer swart blinkers. Susra.
4. Dra so jou blinkers in die dag:
“Nes die high-low reël is dit belangrik om te vermy dat jou uitrusting nie te formeel lyk nie, stileer jou blinker item met gemaklike items, dink aan tekkies, lospassende truie en denims. Jou grimering en bykomstighede moet nie te uitspattig en formeel wees nie, die fokus moet eerder op die blinker-item wees” is Simone se raad.
Ruff Tung ontwerper Bridget Pickering glo” Die cost per wear beginsel is my mantra, wat beteken jy deel die aantal keer wat jy ’n kledingstuk gaan dra deur sy prys. As jy ’n duur kledingstuk baie dra, gaan sy cost per wear laag wees. En om dit reg te kry, moet jy jou sequins items ook gedurende die dag dra en nie net vir geleenthede nie.”
Vermy hierdie 4 sequins foute:
1. Jy koop sequins wat krap
Party sequins krap, pas dit aan en dra dit vir ’n rukkie voor jy besluit om dit te koop. Dit gaan jou nie baie vreugde bring as dit ongemaklik is nie en dit gaan in jou kas lê omdat dit jou seermaak. Susra
2. Jy hou nie jou stylpersoonlikheid in gedagte nie
Susra se raad: Hou jou leefstyl en stylpersoonlikeid in gedagte. Iemand met ’n dramatiese styl sal meer gereeld sequins tydens die dag dra en dit dus baie meer dra, en dit regverdig om ’n paar blinker items in jou kas te hê. Waar iemand met ’n klassieke styl dit net vir ’n aandgeleentheid sal dra, dus sal een of twee items genoeg wees.
Simone verduidelik “Partykeer sal jy voel dat daardie sequins item glad nie by jou stylpersoonlikheid pas nie. Probeer dan blinkers in neutrale kleure of kleiner items (soos handsakke en skoene) as jy baie graag iets blinks wil probeer. Indien dit steeds nie by jou pas nie, moet dit nie forseer nie, jy sal ongemaklik voel en dit sal wys.
3. Jou sequins item pas nie reg nie
Simone sê, “een van die grootste foute wat vroue maak wanneer hulle sequins koop, is items wat nie reg pas nie, byvoorbeeld ’n broek wat ongemaklik styf span”.
4. Jy hou nie jou lyfvorm in gedagte nie
Susra verduidelik dit goed: “Blink en helder items vergroot die oppervlak. Indien jy nie jou boude of heupe wil beklemtoon, dra eerder ’n blink baadjie of top.”
“Sequins sal sal altyd die oog vang weens die weerkaatsing van lig. Dus kan jy sonder dat jy besef die gedeelte van jou liggaam waarmee jy die ongemaklikste is, beklemtoon.
Simone Lombard
Die teenoorgestelde is dan waar, jy kan die ligweerkaatsende sequins tot jou voordeel gebruik en dit dra op areas om aandag te trek na die gedeelte toe wat jy die graagste wil beklemtoon. Bv ’n klein middel.
Kies so die regte sequins volgens jou lyfvorm:
Peer of A lyfvorm:

As jou middel en skouers kleiner is as jou heupe, is jy ’n peervorm. Jy wil liefs nie aandag trek na jou heupe nie
Simone se raad: Kies ’n sequin bo-stuk, baadjie, top, serp wat die boonste helfte van jou liggaam beklemtoon.
Omgekeerde driehoek of V lyfvorm:

As jou skouers groter as jou heupe is, dan is jy ’n inverted triangle of ’n omgekeerde driehoek. Jy wil liefs nie aandag na die groter bodeel van jou lyf trek nie.
Simone sê “kies ’n sequin onderstuk, wat die onderste gedeelte van jou liggaam beklemtoon soos broeke of rompe.
Uurglas of X lyfvorm-

As jou skouers en heupe proporsioneel is en jy het ’n klein middel, is jy ’n uurglas of X-lyfvorm.
Jy is een van die gelukkiges wat die meeste of byna enige sequin item kan dra en dit sal jou kurwes beklemtoon.
Reghoekige of I lyvorm:

As jou skouers, middel en heupe dieselfde wydte is, dan is jy ’n reghoek. Die doel met aantrek sal wees om die illusie van kurwes te skep.
Skep die illusie van kurwes met ’n sequin stuk wat om die middel ingevat is, ’n V-nek en beweging in die onderstuk.
Sorg en stoor so jou sequins
Sorg:
Bridget sê “Dit is altyd belangrik om jou “bling” met die hand te was. Indien jy dit saam met ander kledingstukke moet was, dop jou sequins item om (sodat die blink gedeelte aan die binnekant is). Dit sal keer dat jou sequins nie die ander materiale beskadig nie.
Stoor:
Die beste sal wees om jou sequin kledingstuk om te dop en dit op te vou en weg te pak. Dit beskerm die sequins en materiale wat bo en onder jou sequin item sal lê. Die beste deel hiervan – sequins kan nie kreukel nie! Probeer ook om nie jou swaar sequin kledingstuk op te hang nie, dit kan dalk beskadig – Bridget se top sorg en stoor wenke.