Ken jou hoede
Ken jou hoede
Foto: Crystal Birch

Ken jy jou hoede?

Ken jy jou hoede, die korrekte terme en verskillende style? Weet jy hoe lyk ’n tulband, baret of emmerstyl-hoed? Ons deel graag al die verskeie style, hoe hul van mekaar verskil en watter van die hoedstyle vanjaar groot modenuus is. Deur Justine Kroes

Een van ons gusteling maniere om ’n doodgewone uitrusting dadelik meer stylvol te laat lyk, is om eenvoudig ’n hoed op te sit, dit lyk altyd so sjiek en rond jou voorkoms netjies af (veral op daardie laaste dag voor dit weer haarwasdag is!)

Hier is ’n paar tegniese terme wat jy moet ken:

1. Baret

Die baret laat ons dadelik dink aan sjiek Franse vroue! ’n Baret het nie juis veel struktuur nie, is sonder ’n rand en is heel buigbaar wat dit baie gemaklik laat sit. Dis gewoonlik gemaak van vilt of wolstof. Die meeste baretstyle het ’n kenmerkende klein knobbeltjie aan die bokant van die hoed wat dit makliker maak om die hoed af te haal. Dra dit óf reg in die middel óf effens skuins op jou kop vir daardie gesofistikeerde voorkoms.

2. Fedora

In die verlede was dit hoofsaaklik mans wat die Fedora-styl hoed gedra het, maar vandag word dit meer gereeld deur vroue gedra. Die Fedora is ’n elegante styl en word gekenmerk deur ’n vou aan die bokant van die kroon. Daar is gewoonlik ’n band rondom die onderkant van die kroon,  en die rand van die hoed is nie te groot nie en krul soms effens om. Dit word meestal gemaak van vilt of wolstof.

3. Panama-hoed

Die panamahoed is soortgelyk aan die fedora styl hoede in struktuur, maar met ’n effense hoër kroon met ’n wyer rand. Gewoonlik is dit van natuurlike vesel soos strooi of selfs geweefde papier wat jou koel hou in warmer weer.

4. Emmerstyl-bolhoed

Die emmerstyl-bolhoed is beslis die moet-hê-hoedstyl vir 2020. Dit word dikwels vertoon op mode- loopplanke en volgens modekenners is hierdie beslis die hoed van die seisoen. Die emmerstyl-hoed lyk werklik soos ’n omgekeerde emmertjie met ’n sagte rand, en word meestal van sagter materiaal gemaak, hoewel ons al van kunsleer tot valspels-emmerstyl-hoede gesien het.

5. Klokhoedjie

Die klokhoedjie lyk werklik soos ’n outydse klok – het jy geweet ‘cloche’ is klok in Frans? Hierdie hoedstyl is van ’n dikker materiaal en die randjie is stewiger en kan nie so maklik omvou soos ’n emmerstyl-hoed nie. Dit laat ons dadelik dink aan daardie tydlose 1920’s styl-uitrustings, wat net nie volmaak is sonder ’n klokhoedjie nie.

6. Harde-strooihoed

Die harde strooihoed is oorspronlik ontwerp as ’n  somerhoed vir vroue in die 1800’s, maar nou word hierdie romantiese styl al hoe meer gedra. Die kenmerkende voorkoms van hierdie hoed is ’n plat bo-kant of kroon met plat, reguit, harde rande wat nie opkrul of buig nie. Ons hou van hierdie vroulike styl en dit laat ons wens ons het in ’n vorige era geleef!

7. Sonhoed/strooihoed

Die sonhoed of strooihoed het gewoonlik ’n wyer rand wat beter beskerm en skaduwee bied teen die warm somerson. Die meeste son hoede is ook van natuurlike vesel of materiale gemaak of geweef sodat dit koeler is vir jou kop.

Die sonhoed-style raak elke jaar net meer interessant, en van dramatiese oorgroot wye rande en vroulike strikke wat onder die ken vasbind tot die allermooiste skakerings bly die sonhoed een van die gewildste hoedstyle.

8. Bofbalpet

Ons weet die athleisure trend is steeds hier om te bly en die bofbalpet beslis ook! ’n Pet is ’n hoed met (hoofsaaklik) ’n ronde kroon gedeelte bo-op die kop en ’n sonskerm aan die voorkant in plaas van ’n rand reg rondom die hoed. Die bofbalpet word hoofsaaklik van katoen of denim gemaak en het ’n skuifbare skakeltjie aan die agterkant om die en soortgelyke hoede op sy plek te hou.

9. Sonskerm/piek-hoed

Die sonskerm is soortgelyk aan die bofbalpet maar sonder die kroon gedeelte. Dis oorspronklik ontwerp vir sportliefhebbers sodat hitte vinnig deur die bokant van die kop vrygelaat kan word wat die persoon vinniger kan laat afkoel. Die sonskerm is steeds groot nuus en verskeie mode-style is beskikbaar – pvc, geweefde- en materiaalskerms.

10. Tulband

Die tulband is ’n sjiek styl van midde-oosterse herkoms, en was veral gewild tydens die disko-era in blink ontwerpe. Die tulband sit soos ’n mus op jou kop (lekker gemaklik) en word gewoonlik gekenmerk deur  ’n strik of versiering aan die voorkant.

11. Kopband

Die kopband is nou al ’n rukkie lank ‘n gunsteling alternatief vir ’n hoed. Vir hierdie seisoen geld hoe groter die kopband hoe beter!

12. Haarserpie

Die haarserpie is een van die veelsydigste hoofbedekkings daa buite, die styl-, kleur- en patroonopsies is eindeloos. So ook die vele verskillende manier om dit in jou hare te dra.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
7 Wenke vir ’n volhoubare klerekas
error: Content is protected !!