Pienk en Groen, ons huidige kleur-obsessie

Die afgelope ruk is ons albei gaande oor die helder pienk en kellygreen groen skakerings wat tans volop in winkelvensters hang. Maar toe ons hierdie twee uitrustings van plaaslike ontwerpers Muze ontdek het, was ons omtrent opgewonde oor die skakerings. Ons het eenvoudig net geweet hierdie pienk en groen uitrustings hoort in ons albei se klerekaste. Deur Justine Kroes en Suzanne Kotze

23/06/2022

Ons gunsteling pienk en groen uitrustings

Justine se pienk rok;

Muze Balloon Sleeve Shirtdress (R1 395)

Hierdie is die gunsteling item in my klerekas tans om verskeie redes:

  • Die rok is die toonbeeld van “Dopamine Dressing” en “wearapy”. Sodra ek hierdie helder pienk rok aantrek, is ek dadelik in ’n goeie bui. Ek voel goed, daarom weet ek sommer ek lyk ook goed! Gemoedsversterker van formaat.
  • Die kleinste details – mooie uitklok ballonmoue, pragtige knope en handige sakke! Elke aspek van hierdie rok is so goed ontwerp, deurdink en uitgevoer. Ek weet sommer hierdie styl sal by talle ander lyfvorms en groottes pas. Nog ’n rede hoekom Muze vinnig ’n gunsteling geword het – hulle groottes is inklusief en al die kledingstukke is beskikbaar van XS tot groottes 2XL
  • Die lap kreukel nie – ons is onlangs genooi as sprekers by ’n vrouedag en ons het besluit om ons splinternuwe Muze skeppings aan te trek. Ek pak toe ewe my stoomyster in – maar dit was glad nie nodig nie – na ’n dag in my tas het die rok niks gekreukel nie. Wen!
  • Die komplimente het geen einde nie – die “wow” effek wat hierdie rok het, is ongelooflik, en elke keer wat ek dit dra, ontvang ek die mooiste komplimente.
  • Ek kan dit meer of minder formeel dra – na ’n damestee met hakskoene of na my dogtertjie se verjaarsdagpartytjie met ’n paar gemaklike tekkies. Veelsydig maar steeds sjiek en stylvol.

Suzanne se groen bloes en broek:

Palazzo Green Pepper Pants (R1 250); OS Boyfriend Top Green Pepper (R1 150)

Groen is beslis een van my gunsteling kleure om te dra. Ek moet wel sê dat ek nooit gedink het dat ek ’n groen broek en hemp sou saam dra nie, maar ek is op die oomblik so lief vir monokroom.

Die hemp se snit is veral vir my mooi, ek is mal oor hoe die moue effens uitklok. Die lengte is ook vleiend.

Ek dra ook graag my hemp saam met my denim of ’n room rompie. Ek is nou op soek na ’n helder pienk jas om saam met die groen te dra!

Meer oor Muze

Muze is die flambojante breinkind van Wendy van Zyl en Stephanie Wilkes, hulle glo:

“Ons verkoop meer as net pragtige klere. Ons het ’n passie vir vroue en wil graag die onsekerhede wat hul oor hulself mag hê iets van die verlede maak. Ons neem graag die rol van persoonlike stilis en vriendin aan die oomblik wanneer enige vrou by ons winkeldeure instap”

Wendy van Zyl & Stephanie Wilkes

Die Muze span se unieke beperkte uitgawe reekse word deur ’n outentieke passie aanmekaargestik. Hierdie passie is duidelik in die keuses van lap, kleurinspirasies en keuses van ontwerpsilhoeëtte.

Elke kledingstuk word plaaslik vervaardig deur CMT’s, besighede wat 100% besit en bestuur word deur vroue. Muze glo aan volhoubare mode wat opbouend is vir ons ekonomie en ons land se mense.  Die Muze konsep is gebaseer op tydlose mode-items en reekse wat bymekaar pas en jou klerekas voltooi.

“Probeer ’n slag iets nuuts buite jou gemaksone – wees fabulous!”

Muze

Muze kledingstukke is aanlyn beskikbaar (klik hier), by EGG konsep winkel in Cavendish Kaapstad. Die Muze-Span het onlangs deure oopgemaak by Gateway in Durban.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Lipstiffie wat hou en hou (en hou!)
error: Content is protected !!