Daar is min styl-items soos ’n pragtige stel oorbelle om sommer dadelik jou hele uitrusting af te rond. Ons is steeds gaande oor groot en kleurvolle oorbelle (met helder lipstiffie daarby) wat jou voorkoms vir jou zoom vergadering of selfs ontspanningsdrag- uitstappie winkel toe opkikker. Hier is 4 talentvolle (en plaaslike!) ontwerpers se allermooiste oorbelle wat nou op ons wenslysie is! Deur Justine Kroes
Reliér Design by Chantel
Hierdie helder en vrolike klei-polymeer oorbel-ontwerpe deur Chantel Wirth is ’n moet-hê op ons oorbel-wenslysie. Reliér Design glo dat die oorbelle wat jy dra so uniek moet wees soos wat elkeen van ons is, wat ’n lieflike idee!
Chantel se liefde vir mode, ontwerp en kleur dien as die inspirasie agter elkeen van haar oorbel-ontwerpe.
“Daar is niks wat my so gelukkig maak as om juwele te ontwerp wat vir vroue mooi en bemagtig laat voel nie”
Chantel Wirth
Daar is so baie verskillende ontwerpe, lengtes en skakerings om van te kies, en die een is vroliker as die ander. Daar is beslis iets vir elke stylpersoonlikheid daar buite, van groot en dramaties tot klein en minimalisties.
Hie is ’n paar van ons gunsteling-ontwerpe nou op ons wenslysie:
Klik hier om te sien waar jy van die pragtige ontwerpe kan koop of hier om aanlyn te bestel
Pina Jewels
Pina Jewels is gestig deur twee beste vriendinne van Kaapstad. Die doel met Pina was nie net om volhoubare plastiek juweelontwerpe te skep nie, maar ook om unieke en prettige stukke te vervaardig. “Pina is geskep met die doel “to spark joy” en om daardie speelse gevoelens en nostalgie van jou kinderjare te herroep!”
Hierdie ontwerpers is meestal (selfs wêreldwyd) bekend vir hul plastiek en akriel daisy oorbelle in die pragtigste skakerings – elk handgemaak op bestelling.
Daar is verskeie ontwerpe beskikbaar, die wat gesmelt lyk, of die “charm” oorbelle met ’n silwer of goue ringetjie waarop jy madeliefieblommetjies kan stapel na hartelus! Stuur vir hulle ’n boodskap op Instagram om ’n bestelling te plaas (hier) of besoek AKJP in Kloofstraat en by We are EGG in Cavendish waar daar voorraad aangehou word. As jy oorsee bly kan jy selfs op Moda Operandi hier bestel
Love Shouts
Die ontwerpe van Love Shouts het beslis ’n kunstige aanslag met argitektuur, teskture en vloeiende lyne as inspirasie agter elke ontwerp. Love Shouts verduidelik hul minimalistiese oorring-reeks as ‘wearable art’ en ons stem beslis saam.
Elk van die oorbelle is lig en elke stel is uniek omdat dit met die hand gerol en gevorm word.
Justine sê: My Grecian Curve-stel is beslis een van my gunsteling pare, dit laat my gelaat sommer meer helder en minder moeg lyk, boonop kry ek so baie komplimente wanneer ek hulle dra, dit maak elke keer my dag!
Hier is ’n paar van ons gunstelinge:
Pichulik
Pichulik se nuutste reeks “Circe” is na die Griekse Godin Circe benoem. Die reeks se ontwerpelemente sluit die volgende in; sirkels wat aanmekaar vasgemaak is, gepoleerde koper, met elemente van tou en luukse stene. Loer na die volledige reeks hier
Kreatiewe bestuurder Katherine-Mary Pichulik staan bekend as een van Suid-Afrika se gewildste kontemporêre juweelontwerpers en seisoen na seisoen stel haar reekse nooit teleur nie, altyd klassiek, sjiek, elegant en tydloos.
Hier is ons gunsteling oorbel ontwerpe van die Circe reeks:
Lees ook: Pantoffels vir nou!