Na ’n moeilike jaar vir almal in die mode-industrie, was dit duidelik by vanjaar se South African Fashion Week (SAFW) dat die Suid-Afrikaanse ontwerpers nie stilgesit het nie. Vir die 24ste jaar agtereen het SAFW voortgegaan en 28 ontwerpers se versamelings op ’n digitale loopplank bekendgestel. Hier is van ons top modekeuses by die South African Fashion Week en ontwerpers se inspirasie agter hul reekse. Deur Justine Kroes
Fikile Sokhulu
Reeks: Willow

Fikile Sokhulu, een van die jong ontwerpers wat ingeskryf het vir die New Talent Search kompetisie wat SAFW aanbied, se reeks is uniek en pragtig. Fikile vertel ons meer oor die inspirasie agter die reeks:
“Die Willow reeks verteenwoordig hierdie boom se veerkragtigheid en aanpasbaarheid om te oorleef en hoe die aarde streef na ekologiese balans tussen al die natuurkragte deur.”
Fikile Sokhulu
Hierdie stylvolle reeks word verder geïnspireer deur die konsep van yin en yang ’n samestelling van krag en kalmte. Rooi en wit is die kleure wat die meeste gebruik word in die reeks, wat water en vuur uitbeeld. Fikile beskryf rooi as ’n kragtige kleur en wit verteenwoordig weer die kalmte in die reeks.

Die patrone is besonders en die struktuur van die uitrustings nog meer so, ons kan nie wag om te sien watter hoogtes Fikile nog gaan bereik nie!
Amanda Laird Cherry (ALC)
Reeks: SYSTEMIC
Volhoubaarheid was ’n belangrike kwessie wat Amanda Laird Cherry in haar jongste reeks wou uitlig. Die ALC span het besluit om kledingstukke te gebruik van vorige reekse wat reeds tot hul beskikking was: “upcycling” op sy beste.

Amanda reis gereeld tussen Suid-Afrika en die VSA, daarom was dit belangrik dat haar reeks die wanbalans tussen bevolkingsgroepe beklemtoon, en dat dit veral kommentaar lewer op die Black Lives Matter beweging. Die sterk kontras van die wit en swart kledingstukke voel kragtig, asof dit werklik ’n storie vertel. Die volgorde van hierdie ontwerpe in die loopplankvertoning was net so belangrik – die eerste paar wit uitrustings direk na mekaar beklemtoon die ongelykheid wat Amanda in die samelewing ervaar. Die vertoning eindig met ’n dramatiese swart uitrusting as metaforiese pleidooi om alle mense met gelykheid en respek te hanteer.

“Dié wat dink kledingstukke is alleenlik die mode vir hierdie of die volgende seisoen, mis effens die punt. Die materiale en snitte van ’n klerereeks behoort ons eerder meer te vertel van ons samelewing en die tye waarin ons leef”.
Amanda Laird Cherry
Amanda se hart agter hierdie reeks is vir ons so inspirerend. Na 30+ jaar in die mode-industrie is ons werklik trots op Amanda en hoe haar reekse keer op keer nie net besonders ontwerp is nie, maar ook aandag vestig op belangrike kwessies rondom ons.
Lara Klawikowski
Lara ontwerp beslis drabare kuns, haar kunstige vroulike ontwerpe word handgemaak vir elke bestelling – eko vriendelik en 100% volhoubaar.

Reeks: Inflorescence
Word geïnspireer deur die botaniese detail van blomme. Sy fokus veral daarop om ’n meer volhoubare benadering te vind vir die trou- en aandrok-industrie.
Die ontwerpe in hierdie reeks word gemaak van 100% herwinbare materiale en materiaalafval van Rewoven – ’n inisiatief wat offcuts van ontwerpers versamel en verkoop aan besighede wat upcycle.

“Ek het stukke afvalmateriaal in buigbare teksture en panele getransformeer om die vorm van ’n blom na te boots. Ek wou graag ’n gelukkige en prettige kleurpalet gebruik om vroue te laat droom van mooi aantrek.”
Lara Klawikowski
Al Lara se ontwerpe is bespoke, slow fashion-items wat eers op bestelling gemaak word. Besoek gerus Lara se webtuiste hier

Artho Eksteen
Artho Eksteen is vanjaar se SAFW se New Talent Search wenner – ’n eerbare toekenning in die industrie wat voorheen aan nou bekende ontwerpers soos David Tlale en Anisa Mpungwe toegeken is.
Reeks: Exquisite Corpse

Die reeks kry sy inspirasie by die “Exquisite corpse” metode binne die surrealistiese kuns-beweging. Die patrone is afkomstig van ’n reeks lukrake tekeninge deur ’n paar mense, insluitend Artho homself. Die konsep van die patroonontwerp is eie aan surrealistiese-kuns, waar onlogiese en bewustelose elemente direk teenoor mekaar geplaas word. Boonop gebruik Artho geen sintetiese materiale nie, sy ontwerpe word gemaak van ’n kombinasie van organiese katoen, sy, sybokhaar en wol.

Die interessante ontwerpe, teksture en idees van mode en kuns in hierdie reeks maak ons opgewonde om te sien wat voorlê – vir Artho se toekoms in die mode-ontwerpwêreld!
Judith Atelier
Judith Smit van Judith Atelier sê sy word geïnspireer deur alledaagse mense in Suid-Afrika, storievertel-kultuur, fotografie, natuur en teksture.

Reeks: First of the Fruits (Kwanzaa)
Kwanzaa ’n Swahili woord wat die eerste vrugte van oestyd uitbeeld. Dit is ’n tradisie om die Kwanzaa fees te vier oor ’n tydperk van 7 dae. Tydens elk van die 7 dae word ’n daar op ’n toegewyde beginsel gefokus. Hierdie toegewydheid het Judith se ontwerpe geïnspireer.

Hierdie reeks se streepontwerpe in die allermooiste kleurskakerings het ons harte gesteel – die truie daarby is boonop iets besonders!
The Bam Collective
Reeks: Escapism

Jacques Bam van The Bam Collective se ontwerpe is daardie kledingstukke wat werklik ’n glimlag op jou gesig sal toor. Hierdie gevoel is wat Jacques se nuutste reeks: Escapism geïnspireer het. Jacques beskryf “escapism” as ’n vaartuig wat ons wegneem van ons vervelige realiteite, na ’n plek wat gevoelens van vreugde en fantasie aanmoedig.

Die reeks bestaan uit bekende klerekas-stapelitems soos wit hemde, broeke en baadjies vir kantoor, rokke en gemakdrag. Die escapism reeks neem hierdie stapelitems en verhef elk na ’n fantasie-item, ’n fantasie wat als oproep waarna ons verlang maar ook na uitsien vir die toekoms.
“Ek glo klere het ’n emosionele trekkrag en hoop dat hierdie reeks vreugde sal bring, en utopiese ervaringe vir elkeen wat die ontwerpe dra.”
Jacques Bam
Lees ook: Lyk stylvol; hier is 13 wenke