Lyk stylvol in ‘n japtrap. Dit kos beslis nie baie geld of moeite om meer stylvol te lyk nie, soms is al wat nodig is ’n regpluk hier en daar, soos ’n opgerolde mou of ’n paar toegevoegde bykomstighede. Hier is ons top 13 wenke om blitsvinnig meer stylvol te lyk. Deur Justine Kroes
1. Steek dit in
Steek jou hemp “ongeërg” in, steek net die voorste punt van die hemp aan die voorkant van jou broek (of romp) in. Of dit nou jou T-hemp, bloes of trui is – die French Tuck, soos dit bekend staan, lyk effens “undone” maar laat jou dadelik meer stylvol en modieus lyk.
2. Drapeer ’n baadjie oor jou skouers
Voorkomskonsultant Susra Matthee sê: Daar is iets baie stylvols aan ’n baadjie wat oor jou skouers gedrapeer is, eerder as om dit aan te trek. Dit is ook perfek vir die tussen-in weer, wanneer dit nog nie baie koud is nie. As jy in jou jeans lewe, is ’n blazer oor jou skouers ’n makliker manier om die uitrusting bietjie te verhef. Dit werk net so goed wanneer jy ’n jas of leerbaadjie oor ’n rok wil dra.
3. Rol jou moue op
Jy kan hierdie wenk gebruik wanneer jy ’n trui, baadjie of jas dra, om ’n laag op laag voorkoms te kry. Al wat jy hoef te doen is om jou hemp se mouboordjie onder jou baadjie of trui se mou uit te trek om ’n stuk van die hemp se cuff te wys en jou mou effens op te stoot. Dit is ’n baie maklike manier om tekstuur en styl by jou uitrusting te voeg! Susra Matthee
Voorkomskonsultant Simoné Lombard stem saam: Om blitsig vinnig meer afgerond te lyk,-rol daardie moue op. Nie net jou kraaghemde nie, maar ook jou T-hemde, jeans, baadjies en jasse. Dit gee enige uitrusting ’n ‘effortless’ voorkoms. Hou jou opgerolde mou in plek met ’n haarrekkie om die elmboog. Deur jou broekspype op te rol sal jy outomaties jou skoene beklemtoon. Hierdie truuk laat jou dadelik ook effens langer lyk.
4. Kies monokroom
’n Monokroom-nommertjie is wanneer die stukke van jou uitrusting min of meer skakerings van dieselfde kleur is (nie noodwendig wit en swart soos wat ons almal dink nie!). Dit maak die regmaak-en-aantrekproses soggens moeiteloos en het ’n verslankende effek (bonus!). Speel met die kleur/ tekstuur/ patroon van jou skoene vir ekstra trefkrag, is voorkomskonsultant Simoné Lombard se raad.
5. Lyk stylvol en beklemtoon jou middel
Bind ’n gordel om jou middel, dit gee vorm en struktuur aan jou uitrusting. Dit balanseer ook dadelik jou proporsies – en beklemtoon ’n kleiner middel wat voorheen dalk nie sigbaar was nie. Dra selfs ’n gordel om jou jas of oopknooptrui.
Maklik, en beslis een van die vinnigste truuks om meer afgerond en stylvol te lyk.
6. Toor jou kroon
Dra ’n hoed – die winter is om die draai en daar is min mode-items so stylvol soos ’n winterhoed of baret. Dit verhef ook dadelik ’n uitrusting – speel rond met style, teksture en silhoeëtte wat by jou stylpersoonlikheid pas. ’n Haarserpie, scrunchie en selfs ’n haarband sal net so goed werk.
7. Netjiese, sjiek haarstyl
“’n Eenvoudige middelpaadjie en lae bolla of poniestert gepaard met jou gunstelingoorbelle. Dit skep ’n elegante voorkoms en kan in minder as 30 sekondes gedoen word”, sê Simone.
8. Knoop dit
Dra jy ook graag opknoophemde? Knoop die voorste onderpunte van jou kraaghemp bymekaar sodat dit dadelik minder formeel, maar ook meer stylvol lyk.
9. Rond dit af met gestapelde juweliersware
Gestapelde halssnoere en gestapelde oorringe is die bykomstigheidstrend van die oomblik. Dit bied dadelik ’n sjiek en elegante voorkoms. Dra dit by jou gunsteling rok of selfs by jou T-hemp en jeans. Meer is meer in hierdie geval, hoe meer oorbelle en hangertjies hoe beter …
10. Dra ’n serp of neckerchief
Vergeet van jou oorgrootserp wat alewig in die pad is – dink eerder aan hoe die Franse vroue hul serpies dra. Dun, korter sy-serpies wat om jou nek, in jou hare, om jou pols of om jou handsak vasgebind word, lyk blitsig modern, sjiek en stylvol.
11. Sonbrille vir effek
Kies ’n helder, oorgroot, kat-oog of patroon-styl sonbril. Daar is net iets omtrent ’n modieuse sonbril wat enigiemand dadelik meer stylvol laat lyk en enige uitrusting (selfs jou ontspanningsdrag!) dadelik verhef. Dit is vinniger om ’n stylvolle sonbril aan te sit as om ’n hele gesig te grimeer!
12. Kleiner handsak
Weg is daardie lomp, oorgroot Mary Poppins handsakke – waarin jy wel alles kon inpas maar nooit iets kon vind nie! Vervang dit met ’n petite slingersak, selfoonhandsak of satchel (dink aan die destydse moonbags) wat jy oorkruis oor jou lyf kan dra. Dit lyk sjiek en mooi afgerond, boonop kan jy ten minste nou alles in jou handsak bykom.
13. Netjiese skoon skoene
Maak nie saak hoe afgerond jou klere lyk nie, as jou skoene vuil of verwaarloos is, lyk jou hele uitrusting sommer minder stylvol. Maak seker jy sorg mooi vir jou leerskoene. En vee jou effekleurige sandale, skoene en tekkies mooi skoon voordat jy by die deur uitstap. Dit verg nie baie moeite nie, maar maak so ’n groot verskil aan jou uitrusting as geheel.
Lees ook: Wat is jou stylpersoonlikheid?