Ons ontvang gereeld die vraag; “Wat is die beste onderlaag?” Ons antwoord: daardie onderlaag wat jou vel steeds soos jou vel laat lyk, net beter.
Jou onderlaag behoort so natuurlik as moontlik te lyk, die doel is dat niemand eintlik behoort te kan sien dat jy onderlaag dra nie. Hier’s hoekom jy jou plat onderlaagkwassie moet weggooi plus ’n paar handige onderlaagwenke wat jy daagliks kan gebruik. Deur Justine Kroes
Goeie velsorg
Die belangrikste deel van enige grimeerroetine is goeie velsorg. Skilfer af, wend jou serums aan en bevogtig jou vel goed.
’n Gesonde en gehidreerde vel is die eerste stap tot onderlaag wat perfek lyk, boonop sal jou grimering makliker aanwend en langer aanbly as op ’n droë, gedehidreerde vel.
Psst: Ons top wenk is om maandeliks of selfs elke tweede maand vir ’n dermaplane gesigbehandeling te gaan, waar die fyn haartjies en dooie velle van jou vel afgeskeer word met ’n lemmetjie. Dit maak onderlaag aanwending ’n droom!

Sonskerm voor onderlaag
Hierdie is ’n moet. En nou preek ons vir onsself ook, want dis ’n stap wat ons vinnig uitlaat op dae wat ons haastig is.
Selfs al het jou huidige onderlaag ’n lae sonbeskermingsfaktor in, is dit moontlik steeds nie genoeg vir effektiewe beskerming teen die son nie.
Psst: Hou jou sonroom en jou onderlaag botteltjie langs mekaar, so vergeet jy nie sommer om jou sonroom aan te wend nie.
Voorbereidingslagie
Ook bekend as ’n primer, werk dit soos die “photoshop” van die grimeerwêreld.
’n Voorbereidingslagie word onder jou grimering aangewend om ’n gladde, foutlose velbasis te skep voor grimeringaanwending.
Gebruik jou primer op warm dae wanneer jy nodig het dat jou grimering moet hou en hou.
Voordele van ’n voorbereidingslagie; dit gaan jou onderlaag makliker laat aanwend en dit gaan verseker dat jou grimering teen die einde van die dag nog vars en foutloos lyk
Dink daaraan as ’n “lewendige” filter wat jy aanwend om die perfekte velvoorkoms te skep.
Pssst: Kies ’n primer wat vir jou werk, daar is spesifieke primers wat velfoute verbloem, hetsy dit donker vlekke, rooiheid of vergrote porieë is. Ander primers hou weer hidrerende of lig reflekterende voordele in.
Jou onderlaagkeuse is uters belangrik
Indien jy ’n glansende natuurlike velvoorkoms met jou onderlaag wil skep, kies ’n vloeibare onderlaag met ’n waterbasis. Ook dalk een met ligreflekterende eienskappe. Enige swaar matte-formules gaan sit tussen fyn lyne en plooie en kan selfs jou vel droog laat voorkom veral as jy reeds sukkel met ’n droë veltipe.

Kies liefs ’n onderlaag wat beskryf word met die volgende woorde “buildable coverage”, “hydrating”, “serum”, “glowing” of, “light reflecting”.
Aanwending
Moet nie jou onderlaag met ’n swaar hand aanwend nie, minder is beslis meer wanneer dit by onderlaag kom.
Wend ’n baie dun lagie van jou onderlaag aan, in ’n op-en-uitwaartse beweging van jou neus af na die buitekant van jou gesig. Begin altyd met die meeste onderlaag in die middel van jou gesig (neus) en meng dit uit na buite vir ’n meer eweredige verspreiding en aanwending van jou onderlaag.
Onthou, hou die hoeveelheid min en dun, jy moet nog jou vel deur die onderlaag kan sien, wend hierna verbloemer aan.
Onderlaag eerste en daarna verbloemer. Gebruik die verbloemer op enige probleemareas soos merkies, puisies of donker kringe.
Onderlaagkwassies en sponsies

Ons het al by grimeerkunstenaars geleer om ons vingers, ’n kwassie plus ’n sponsie te gebruik om ’n natuurlike onderlaagvoorkoms te skep.
Gebruik heel eerste jou vingers om jou onderlaag aan te wend, die hitte van jou vingers laat die onderlaag makliker beweeg op jou vel en natuurlik insmeer.
Gebruik hierna jou keuse van ’n onderlaagkwassie of ’n sponsie om die onderlaag eweredig te “blend and buff”. Totdat daar nie ’n duidelike lyn tussen jou vel en onderlaag is nie.
Gebruik nou ’n kleiner kwassie of sponsie soos ’n beauty blender met ‘n v-punt om seker te maak die onderlaag is netjies in al die hoekies (soos jou oë en langs jou neus) aangewend.
Pssst: As jy steeds ’n plat onderlaagkwassie besit gooi hom weg! Daardie tipe kwassie word gebruik om baie dik onderlaag aan te wend. Die doel is eerder ’n velvoorkoms wat natuurlik, glansend en foutloos lyk. Kies eerder ’n onderlaagkwassie waarmee jy die onderlaag kan uitpoets (blend/buff), een met ’n groterige ronde kop en digte haartjies.
Verbloemer
Indien daar na onderlaag aanwending steeds merkies sigbaar is wat pla, gebruik nou ’n verbloemer (of selfs net nog ‘n klein lagie van jou onderlaag) om merkies toe te maak.
Gebruik ’n sagte, stippelende drukaksie om jou verbloemer of ekstra onderlaag op gedeeltes en merkies wat pla.
Verbloem so ook jou donker kringe onder die oë, pigmentasie kolletjies of puisies. Hierdie truuk verseker dat sekere gedeeltes nie meer uitstaan as ander nie maar natuurlik blend.
Eindig met ’n grimeeraanblysproei
’n Grimeeraanblysproei of setting spray is een van die grimeeritems wat die hardste werk in ons grimeersmuktassies! Sproei liggies oor jou gesig wanneer jy klaar is met al jou grimeerstappe. Die sproei set jou grimering en keer dat dit beweeg.
Gebruik dit deur die loop van die dag om jou grimeervoorkoms te verfris en weer lewendig te laat lyk.
Dit werk ook fantasties as jy onderlaag aangewend het en jou onderlaag lyk te mat of droog, dit hidreer en gee ’n natuurlike glans.
Pssst: indien jou vel vir jou te blink of glansend lyk, gebruik ’n klein tikkie van die ligste poeier wat jy kan kry, slegs op jou t-sone.
















