Na die besige jaar was ons hierdie jaar lus vir ’n meer minimalistiese neutraal en swart Kerstafel. Deur Suzanne Kotzé.
Die goeie ding daarvan om neutrale skakerings te kies, is dat dit iets is wat jy oor en oor sal gebruik. Ons het aanvanklik begin en gedink ons gaan swart en wit doen, en toe raak ons verlief op hierdie meer hawermout skakering in plaas van spierwit.
Kerstafeldek-wenke

Tafeldoeke
Die meeste van ons las tafels bymekaar, maar jy het seker meer as een van dieselfde soort tafeldoek. (Ons tafel was te lank vir die tafeldoek, so ons het selfs hier twee gebruik. Die blokkies maak dit maklik om hulle te las, sonder dat dit te opsigtelik is.)
Kerse en blomme

Onthou om jou kerse so te spasieër dat dit nie in iemand se direkte ooglyn/sig val nie. Dieselfde geld vir blomme. Groot bosse blomme is pragtig, maar dit word dikwels verwyder sodra almal sit, omdat mense mekaar nie kan sien nie.
Vertikale spasie
Gebruik jou vertikale/plafon spasie. Selfaanplakhakies bokant jou eetkamertafel is baie handig. So kan jy Kers- (of later verjaarsdagvlaggies ens.) bo jou tafel hang. Dit skep ’n lieflike feestelike atmosfeer.
Kies verskillende lae en teksture
’n Plekmatjie bo-op ’n tafeldoek skep net ’n ekstra laag, en laat jou tafel meer interessant lyk. Veral as jy jou kleurpalet meer minimalisties hou.











