100 jaar na die bekende Chanel N°5 se skepping en 10 jaar vanaf die beginfase sien N°1 de Chanel die lig. Met Madame Chanel se gunsteling simboliese rooi kameliablom waar rondom die holistiese, volhoubare reeks draai. Deur Suzanne Kotzé
11/03/2022
N°1 de Chanel en die rooi kameliablom

Die kameliablom is sinoniem met Chanel. Gabrielle se groot liefde, Boy de Chapel, het glo vir haar ’n bos kameliablomme gegee en sy het dit as haar ‘gelukkige’ blom bestempel. Sy het dit op haar lapelle begin dra, bykomstighede gemaak en dit is as simbool op mode- en skoonheidsitems gebruik.
Die blom is egter meer as net mooi.
Al is die kameliablom hoe mooi sou Chanel nie 76% van die formule uit die blom en plant ontwikkel het, as dit nie velvoordele ingehou het nie. Dit vanaf die wasagtige lagie op die blare (wat keer dat vog ontsnap) tot die hart van die blomblare wat ’n sekere tipe suur bevat wat velhernuwing aanhelp en teenverouderend is. ’n Interessante feit van die blom is dat dit geurloos is en dat die blomblare glad nie beïnvloed word deur koue of water nie. Nog velvoordele sluit hidrasie en die versterking van jou vel se sperfunksie in.
Vir wie is die N°1 de Chanel-reeks?
Die N°1 de Chanel-reeks is ideaal vir eerste tekens van veroudering.
Aanhangers van luukse produkte vir wie volhoubare produkte ook belangrik is.
(Van die meer volhoubare praktyke sluit in ligter glas, organiese ink, doppies wat van bio-gebaseerde materiaal gemaak is, geen selfoon en geen papier voubiljette)
As jy graag ’n reeks met meer natuurlike bestanddele wil gebruik.
Van die produkte wat ons ontvang het
N°1 de Chanel Red Camellia Revitalizing Cream (R2 010, Woolworths en Chanel Beauty Boutique, Sandton en V&A, Waterfront)

Soos met alle Chanel skoonheidsprodukte voel die reeks ook uiters sensories en luuks vandat jy die potjies of botteltjies vashou totkdat jy die doppie oopdraai.
Hierdie room, wat amper soos geklopte room, maar met ’n baie fyn tekstuur voel, is afkomstig van 95% natuurlike bestanddele en 70% van die rooi kameliaplant.
Die room het beslis ’n strelende uitweking op my vel. Glans en die vermindering van die voorkoms van plooitjies is ook van die velvoordele.
Die potjie is ook hervulbaar.
N°1 de Chanel Revitalizing Serum (R2 830, Woolworths en Chanel Beauty Boutique, Sandton en V&A, Waterfront)

Die serum is liggewig en absorbeer maklik, tog voel dit heerlik luuks en syagtig. Die bevat gekonsentreerde rooi kamelia-ekstrak. Die aktiewe bestanddeel help met die vernuwing van jou velselle. Dit bevat 95% natuurlike bestanddele en 76% bestanddele afkomstig van die kameliaplant. As jy meer as eerste tekens van veroudering het (soos ek) sou ek hierdie bedags gebruik en ’n meer teen-verouderingserum (soos Sublimage) saans gebruik.
N°1 de Chanel L’eau Rouge Revitalizing Fragrance Mist (R2 155, Woolworths en Chanel Beauty Boutique, Sandton en V&A, Waterfront)

Die ligte, parfuumsproei ruik vrugtig (sitrus en rooi bessies) en blommerig (jasmyn en roos). Die velsorgbestanddeel, rooi kamelia, word ook in hierdie sproei gebruik. Die parfuumsproei voel verfrissend en energiek en is baie meer subtiel as Chanel fyngeure. Jy kan dit saam met jou gewone fyngeure dra of as ’n parfuumsproei oor jou lyf gebruik. By die bekendstelling van die reeks (by die allermooiste Jan Innovation Studio in Kaapstad) het iemand voorgestel dat ’n mens dit as ’n ‘slaapparfuum’ dra. Vir ons is dit ’n heerlike geur om aan te spuit oor naweke of vir dae wat jy nie wil bewus wees van parfuum nie. Een van my gunsteling fyngeure is Chanel Paris-Riviera en ek was verbaas hoe goed dit gewerk het om die twee saam te dra. Ek dink dit werk veral goed omdat Paris-Riviera ook ’n sitrus-blommegeur is.
N°1 de Chanel Lip and Cheek Balm (R925, Woolworths en Chanel Beauty Boutique, Sandton en V&A, Waterfront)

Hierdie balsem smelt behoorlik in jou vel in, en gee subtiele kleur en glans. Jy kan dit of aan jou lippe tik met jou vingerpunte, of met ’n kwassie aanwend vir ’n netjiese voorkoms. Ek verkies natuurlik vingerpunte, want dit gee ’n mooi, subtiele kleur, amper soos ’n lipvlek. Op jou wange lyk dit pragtig glansend. ’n Heerlike produk vir elke-dag dra; onderlaag (Chanel CC-Cream bly steeds my gunsteling, alhoewel ek beslis die N°1 onderlaag ook wil probeer), ’n tikkie Lip and Cheek Balm op jou lippe en wange en maskara!
Loer gerus hier vir nog produkte in die reeks. Die onderlaag is beslis op my lysie!