Tyd om die pelsies, winterlakens en fieterjasies eers weer te bêre. Saam met die ligter oggende, kom ligter teksture en kleure. Hier is wenke om jou slaapkamer te verfris met van die jongste dekortrends. Deur Suzanne Kotzé
1. Warm skakerings wat kalmte bring

Vermy koel of koue wit vir jou kamer en kies eerder warmer songewasde skakerings soos warm klei, sagte sand, dryfhout beige, bottergeel of saliegroen. Hierdie skakerings is nou hoogmode en daar word voorspel dat dit ook vir 2026 steeds groot nuus gaan wees. Meer as net natuurlik ’n trend, skep dit ook ’n koesterende gevoel in jou slaapkamer.
2. Kies sagte lae met tekstuur
Totsiens pelsies en fluweel, kies materiale met ligte teksture soos perkallinne of gewasde linne vir varsheid en gemak. Katoen met ’n wafelpatroon, of saggeweefde teksture is ook goeie opsies. Teksture vir somer en lente is meer subtiel.




3. Hou jou beddegoed eenvoudig
Jy het nie meer al die lae van winter nodig nie. ’n Duvetoortreksel en een ‘gooi’ of deken daarby is meer as genoeg. Dit lyk varser en vergemaklik natuurlik ook jou bedopmaak proses.
4. Kies kurwes
Gekurfde meubels en dekorelemente is steeds groot nuus. Van stoele en bedkassies tot selfs beddens. Een van die maklikste maniere om kurwes by jou slaapkamer in te bring is met ’n spieël. (Wenk: jy kan self ’n gekurfde spieël by ’n spieëlverkoper laat sny).






5. Natuurlike elemente

Biofiliese ontwerpelemente is hier om te bly en is net besig om al hoe meer gewild te word. Al hoe meer natuurlike elemente, van dryfhout tot plante (en nog plante en plantpatrone), steen en klip word in top ontwerpers se vertrekke gesien. En jou slaapkamer is die ideale plek om dit in te bring. Dit kan so eenvoudig wees soos ’n mooi, oorgroot plant in ’n geweefde mandjie of jy kan selfs muurpapier of beddegoed met plantpatrone oorweeg. Verkies jy ’n meer minimalistiese aanslag, dink aan boekrakke of spieëls wat uit dryfhout of ou hout gemaak is.

6. Dink nuut oor die gebruik van lig
Ligte is lankal nie net meer daar om lig te gee nie, maar dit is ’n integrale deel van jou kamer se ontwerp. Ligte wat atmosfeer skep, soos strook Led liggies in bedkopstukke, of goed ontwerpe bedliggies en staanligte is goeie keuses. Lig ontwerp is selfs iets wat al hoe meer gewild word, met ligte wat volgens die sirkadiese ritme van kleur verander van warmer na kouer en weer warmer lig.
Wenk: Doed dit self met LED strookliggies.
7. Speel subtiel met patrone
Hou jou kleurskema in ag en speel met patrone soos strepe, geruit of selfs blomme. Wees intensioneel as dit by patrone kom en hou by jou kleurskema. Teensy jy natuurlik ’n bonter is beter, maksimalistiese styl het.

8. Hou dit persoonlik

Jou slaapkamer is seker die persoonlikste vertrek in jou huis. Moenie bang wees om items, soos fotos en kuns te gebruik wat spesiale herinneringe het nie.








