Kom ons gesels oor luukse haarsorg en die nuwe Miss Dior haarolie en -sproei. Ons skoonheidsharte het behoorlik gebons toe die bederfpakkie afgelewer is. En ja, ek stap al swaaiend met my hare, en verbeel my almal wat verbystap ruik die ikoniese blomgeure wat nou deel is van my haarsorgroetine. Luuks verby! Deur Suzanne Kotzé.
Waarom nie gewone parfuum op jou hare gebruik nie?
Gewoonlik het ek maar so ‘n spuit van my gewone parfuum gegee en met my hare daar deur geloop om my hare te laat lekker ruik. Maar die alkohol in parfuum droog natuurlik jou hare uit, en as jy enige bleikmiddel op jou hare het, moet jy juis versigtig wees hiervoor. Die alkohol kan ook jou kopvel irriteer.
Die Miss Dior fyngeur
Ek was super opgewonde om die haarprodukte te probeer aangesien ek nog altyd ’n groot aanhanger van die Miss Dior fyngeur was. Dit is vars (danksy die sitrusagtige topnote) en romanties (roos, pioenroos en iris) met sagte muskus en warm patchouli wat diepte byvoeg, terwyl ligte houtagtige note bly hang.
Die luukse haarprodukte

En nou kan die ikoniese blomgeure sowaar deel wees van my haarsorgroetine, en ek kan nie ophou om met genoegdoening aan my eie hare te ruik nie. Dit laat my gelukkig voel (so asof dit net my geheim is.)
Miss Dior Hair Oil

Die Miss Dior Hair Oil (R1 510, Dior) is pure luuksheid. Dit is deurdrenk van die dromerige geur van Miss Dior Eau de Parfum, maar dit gaan nie net oor die reuk nie; hierdie olie voed ook jou hare. Dit bevat rooswaks en voel lig op jou hare (dit laat dit nie olierig voel nie). Jy kan dit op klam of droë hare gebruik, van die midlengtes tot die punte. Ek gebruik dit nadat ek my hare gewas het, en soos ek my hare blaas, ruik ek dit al hoe meer.
Miss Dior Hair Mist

Nadat my hare klaar gestileer is, gee ek ’n ligte sproei of twee van die Miss Dior Hair Mist (R1 310, Dior). En ek gebruik dit weer as ek uitgaan en spesiaal wil voel. Die sproei is alkoholvry en bevat rooswater. Soos die parfuum, ruik dit soos ’n lieflike bos blomme.
Miss Dior Blooming Bouquet Hair Mist

Soos die Blooming Bouquet fyngeur is die (Miss Dior Blooming Bouquet Hair Mist R1 310, Dior) varser as die oorspronklike Miss Dior. Damaskusroos en pioenrose saam met sagte wit muskus en rooswater.
Spuit dit op skoon, droë hare (of selfs oor gestileerde hare) vir ‘n subtiele vlaag van blomvarsheid.
Of jy nou op pad is na ontbyt, ’n aandjie uit of net spesiaal wil voel; hierdie lieflike haarprodukte doen wondere vir jou gemoed (en jou hare!) (En watter lekker geskenk-idee!)





