Somervakansie is om die draai en ’n naelbederf is die beste manier om daardie vakansiegevoel af te skop! Hier’s die mooiste mani-inspirasie vir jou volgende salonbesoek. Plus handige wenke om jou manikuur heel vakansie lank te laat hou. Deur Justine Kroes
29/11/2025
1. Wenke vir ’n mani wat hou en hou
Daar is niks erger as ’n manikuur wat halfpad deur jou Desembervakansie besluit om af te dop of te skeur nie. Hier is naelkenners se topwenke om jou mani langer te laat hou:
Naelkenner en hoof van opleiding by Bio Sculpture, Tania Biddle, deel haar kennis en raad om jou tuis- of salonmanikuur langer te laat hou:
2. Naelgesondheid
Die eerste stap om seker te maak jou manikuur hou, is om gesonde naels te hê. Tania sê jou naelplaat, naelvliesies en jou naelbed moet gesond wees as jy wil hê dat produkte lank op jou naels moet hou.
3. Kies die regte naelsalon/terapeut
Maak seker jy besoek ’n betroubare naelsalon met goed opgeleide terapeute. Maak seker die salon gebruik goeie kwaliteit produkte wat naelgesondheid prioritiseer.
4. Hidrasie is ’n moet
Probeer om daagliks ‘n naelvliesolie aan te wend, is Tania se raad. Dit sal nie net jou naels bevogtig nie, maar boonop naels laat gesond lyk. Deur naels gehidreerd te hou en gereeld naelvliesolie aan te wend sal gesonde naelgroei bevorder, plus dit sal keer dat jou gelnaels oplig weens ’n droë naelbed
BIO SCULPTURE se Vitamin Dose wat werk soos ’n vitamiene hupstoot vir jou naels. ’n Naelvliesolie soos BIO SCULPTURE se Almond Oil sal die naelvliesies hidreer, sag, soepel en gesond hou.
Wend gereeld handeroom aan deur die loop van die dag, veral voor jy gaan slaap (dan gebruik ons nie ons hande nie!). Die bonus, verduidelik Tania, is dat handeroom nie net jou naels gesond hou nie, maar dit laat jou hande meer gehidreerd en jeugdiger lyk, mits jy dit gereeld aanwend.
5. Beskerm jou naels
Dra handskoene wanneer jy skottelgoed was of huis skoonmaak. Dit beskerm teen die warm water asook bestanddele in skoonmaakmiddels wat jou naels kan beskadig of laat afdop.
6. Moenie aan jou (jel)naels trek nie
Tania sê deur aan jou pragtige jel of gewone manikuur te krap, trek of karring sal jou mani onnet laat lyk, maar meer belangrik, dit kan skade aan jou naelplaat aanrig. Dit is BAIE belangrik om jou jelnaels deur ’n professionele naeltegnikus te laat verwyder. Om jou jelnaels self af te trek, kan baie skade aan jou nael aanrig.
Mooiste somervakansie mani-inspirasie
Sagte pastelle
Helder is nie altyd vir almal nie, daarom is ons dankbaar dat sagte pastel naelskakerings nou weer mode is. Dink aan babapienk, pistasiegroen, sagte appelkoos en almal se gunsteling sagte lig (of botter) geel.
Indien jy avontuurlustig voel, verf elke nael ’n ander sagte pastelskakering, of selfs ’n reënboog Franse manikuur met sagte pastelskakerings.
Hierdie “soft girl” naeltrend word voorspel om vir ’n hele ruk lank nog hier te wees.
Kyk net hoe mooi is hierdie pastel skakerings in Mavala se nuwe Yummy naellak reeks. Beskikbaar by uitgesoekte Dis-Chem winkels.
Rooiwarm
Rooi naels bly nou maar eenmaal klassiek – rooi is selfs hierdie seisoen ’n moet-dra-skakering in die modewêreld. ’n Oranjerooi sal goed lyk by die met ’n geel vel ondertoon. Ons dink hoe helderder vir die somer hoe beter. Rooi naels vir Kersfees, hoekom nie!
Rooi en pienk
Die kombinasie van rooi en pienk is nog ‘n kleurkombinasie wat tans die modewêreld oorneem. ’n Ongewone kombinasie van kleure, maar een wat ons harte beslis vinniger laat klop!
Aqua skakerings
Dink aan die ongelooflike blou en turkoois skakerings van die water naby ’n tropiese eiland.
Skakerings van blou, helder, ligblou en selfs seegroen skakerings is hierdie somervakansie ’n gewilde skakering wat ons nie verwag het nie.
See-inspirasie
Indien jy baie van naelkuns hou, behoort see-inspriasie naelkuns op jou probeerlysie te wees. Dink aan seeskulpe, pêrels, visse, seesterretjies en baie tekstuur.
Metaal, chroom en blinker naels
Van chroom, tot blinker en selfs die glazed donut naels lyk hierdie steeds na gewilde opsies. Vergeet ’n slag van die een blinker naelaksent (ou nuus!) en probeer ’n blink Franse manikuur, of as jy braaf genoeg is, om AL jou naels blink te verf!
Jou blink, metaal en chroom naels hoef nie oordadig te voel nie, kies sagter skakerings as dit jou eerste blink nael toetslopie is.
Neonhelder
Ons almal weet helder (veral helder neon) skakerings gee vir ons daardie ekstra dopamiene hupstoot! Neonhelder naels is dalk nie vir almal nie, maar probeer dit, dalk verras jy jouself. Dra een neon kleur of ’n klompie skakerings bymekaar vir ekstra effek.
Gekleurde Franse Manikuur
Vergeet van net plein wit op jou Fraanse manikuur. Hierdie naelontwerp styl bly pretttig, sjiek en stylvol selfs met kleur by.
Ons gunsteling is die gekleurde mikro Franse manikuur, Dit is nou maar een naeltrend wat ons hoop vir nog lank ’n trend sal bly – ook bekend as die “barely there French manicure” is ’n ekstra dun lyntjie aan die bopunt van die nael.
Groen is steeds groot
Groen somernaels in verskeie groen skakerings is steeds bo aan die nael-nuus agenda. Van lemmetjie (tennisbal groen) tot “matcha” groen en selfs sagte mentgroen skakerings is in die kol vir die somer.
Blomme naelkuns
Blomme naelkuns van fyn en delikate blommetjies tot een groot blom per nael bly gewild. Ons hou veral van minimalistiese blomontwerpe vir ’n meer moderne naelkuns voorkoms.
Helder pienk en koraal
Wat is die somer sonder helder koraal en pienk naels? Hierdie skakerings is gewoonlik onder ons top keuses wanneer dit by vakansie naelkeuses kom. Koraal en helder pienk skree somervakansie, en laat ons opgewek voel vir die vakansie!