Eko-vriendelike modekeuses, hier is raad

Dit voel dalk onmoontlik om meer eko-vriendelike en volhoubare modekeuses te maak – ons weet, want dit voel vir ons ook so. Dus het ons goed gedink om die uitdaging in kleiner haalbare stappe te verdeel. Lees hier vir 12 maklike maniere om meer eko-vriendelike en volhoubare modekeuses te maak. Deur Justine Kroes

14/04/2023

1 .Fokus op kwaliteit nie kwantiteit nie

Neem gerus ’n fast fashion breuk en probeer om nie jou geld te spandeer op 10 goedkoop klere items nie maar eerder twee goeie gehalte items.

Om klere van goeie kwaliteit te koop sal jou waarskynlik duurder uitwerk, ja, dit kos meer maar dit is belangrik om jou uitkyk hier te verander. Seisoen na seisoen sal jy minder spandeer en minder koop omdat hierdie kledingstukke langer hou. Hier is beplanning ook natuurlik belangrik – en dit mag dalk sin maak om die kapsuleklerekas-metode in gedagte te hou wanneer jy weer klere koop. Lees meer hier.

2. Dra dit wat jy reeds besit

Deur te dra wat jy reeds besit is een van die maklikste maniere om meer volhoubaar te wees met jou klerekeuses. Hoe gereeld koop jy dalk nie iets nuuts om te dra vir elke liewe groot (of klein) geleentheid nie. Hierdie items wat jy dan een keer (dalk twee keer) dra, hang dan jare lank in jou kas en stof opgaar. Probeer eerder dra wat jy reeds in jou kas het, en kombineer dit met ander items om ’n interessante nuwe uitrusting te skep.

3. Belê in klere-items vir alle seisoene

Die konsep word beskryf as “trans-seasonal” – jy swaai nie meer jou somer kas en jou winter klerekaste om nie. Die idee is dat jy meer dra uit goeie gehalte klere kry in plaas van een of twee keer se dra uit byvoorbeeld een somersrokkie. Spandeer eerder jou geld op klere-items wat jou deur meer as een seisoen sal kry – byvoorbeeld denims, T-hemde, klassieke rokstyle en tydlose baadjies vir beide winter en somer vir ’n meer volhoubare klerekas.

4. Koop klere wat reeds herwin is

Deesdae is dit volop – ’n klere-etiket wat lees “I used to be a plastic bottle”.  Deur ’n rok of T-hemp te koop wat uit herwinbare produkte gemaak is, moedig verder hierdie tipe herwinningsprosesse aan.

5. Skenk of verkoop klere wat jy nie meer dra nie

Die idee agter klere skenk of verkoop is dat jy en ander (wat die klere sal koop) meer volhoubare klere- keuses maak. ’n Topwenk om hierdie reël te volg, is die “een in een uit” metode, wat beteken jy mag nie iets nuuts koop voordat jy nie een of meer items in jou klerekas laat gaan het om spasie te maak nie.

Jy kan jou klere skenk aan vintage of thrift winkels. Of deesdae kan jy selfs aanlyn tweedehandse klere koop en verkoop – op apps soos Yaga of selfs Instagram.

Psst.. het jy geweet jy kan jou our klere skenk aan H&M vir 15% afslag op jou volgende kopie:

Maak so gebruik van die “garment collection” inisiatief by H&M: Neem enige ongewenste klere of tekstiele (klere en skoene) na ’n H&M naby jou, dit hoef nie H&M klere te wees nie. Die klere kan in enige toestand wees. Daar is herwinbare bokse in elke winkel beskikbaar, plaas die klere wat jy wil skenk in die boks en die kassier sal vir jou ’n 15% afslag koopbewys gee wat jy op jou volgende inkopie by H&M kan gebruik.

6. Koop klere tweedehands

Deur klere tweedehands te koop, verhoed jy dat die klere iewers op ’n stortingsterrein opeindig en minder krag en energie word gebruik om nuwe te klere maak (wat jy dalk sou koop). In die groter prentjie is tweedehands klere koop ’n baie meer volhoubare keuse.

Hier is ’n paar plekke waar jy aanlyn tweedehandse klere kan koop:

Yaga -Marketplace for preloved fashion

2 Brunettes in bloom – vir tweedehandse kopies.

Take me Back by Rolanda – Aktrise Rolanda Marais se tweedehandse kopies.

Vintage with love -Koop aanlyn en by die winkel in Kaapstad

Redup Boutique – verkoop tweedehandse klere van bekendes.

Vir Vintage liefhebbers loer gerus na Maria Anna Vintage Attire en Winkelpop vintage.

7. Huur in plaas van koop

Daar is nou tientalle verhuuringswebstuistes beskikbaar – en jy kan maklik ’n rok of uitrusting hier vir enige geleentheid. Die huur-’n-uitrusting-per-geleentheid-konsep is volhoubaar, bekostigbaar en stylvol – dit tik al die regte boksies vir ons!

Loer na:

Style Rotate en,

Mode by Michaela Romy.

8. Pas jou klere op en laat dit langer hou

Dit is so ’n eenvoudige (en belangrike) stap – maar een wat ons nie almal volg nie. As jy duurder, goeie kwaliteit klere koop, sal dit natuurlik langer hou, maar dit beteken nie jy moet nie jou klere (selfs die goedkoper items) nie mooi oppas nie.

Was jou klere soos aangedui op die etiket. Stoom jou klere eerder as om te stryk – dit is sagter op die klere. Gebruik ’n skeermasjientjie om wolletjies van truie te verwyder, en laat hersool jou gunsteling skoene.

9. Maak ou klere reg (of vind iemand wat kan)

Net omdat iets geskeer of ’n haakplekkie in het, beteken nie jy hoef dit weg te gooi nie. Maak dit eenvoudig reg of neem dit na ’n goeie kleremaker wat verstellings kan maak. Jy sal verbaas wees hoe baie klere jy weer sal kan dra. Moet ook nie bang wees vir “upcycling” nie, verander jou klere en of maak ’n kortbroek uit daardie ou paar denims agter in jou kas.

10. Ondersteun plaaslike en volhoubare handelsmerke

Vind plaaslike of volhoubare handelsmerke waarvan jy hou en jou styl en stylpersoonlikheid goed pas en ondersteun hierdie handelsmerk/e. Plaaslike ontwerpers en handelsmerke volg gewoonlik ’n stadiger en meer volhoubare benadering tot klere maak en ontwerp.

Hier is ‘n paar gunstelinge:

Wass Pure Linen ‘Seisoen” dress (R2599)
Sitting Pretty Zig Zag Graphic Knit (R1999)
Titch Sabie Shirt (R1250)

11. Was slim

Spaar water wanneer jy jou klere was en was net items wat al ’n paar keer gedra is (ons praat nou natuurlik nie van onderklere nie!). Jy spaar nie net water nie maar energie ook. Gebruik ook eko-vriendelike wasmiddels – jy sal hier ’n klein rol speel om te keer dat gifstowwe ons water en omgewing besoedel.

Die meeste wasmasjiene het deesdae “eko-vriendelike” wassiklusse wat jy kan kies.

Vermy dit om jou klere na ’n droogskoonmaker te stuur, en indien jy moet, kies ten minste een wat eko-vriendelike produkte gebruik.

Hang klere buite om droog te word in plaas van die gebruik van ’n tuimeldroër – jy spaar hope energie en jou klere sal boonop langer hou ook.

12. Wees meer ingelig

Ons leef in ’n tyd waar ons die moeilike vrae moet vra en soms ons eie navorsing moet doen rakende ons modekeuses. Doen jou eie navorsing oor “fast fashion” en die impak wat ons (partykeer impulsiewe) klerekoop keuses op die planeet het. Vind meer oor jou gunsteling handelsmerke en hul benadering tot volhoubare mode, jy mag dalk vriendelik verras of selfs geskok wees!

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
8 grootste modefoute volgens kenners
error: Content is protected !!