Ons weet nie van julle nie, maar deesdae as ons by die huis instap trek ons dadelik ons “werks” of “dagdrag” uit en glip in ons koesterende ontspanningsdrag in. Dis lieflik warm, sag en gemaklik, ons kan eenvoudig nie sonder ons ontspanningsdrag klaarkom nie. As jy soos ons tans in jou sweetpak leef – loer na hierdie 7 wenke om meer ontspanningsdragsjiek te lyk. Jy weet … in geval jy moet uithardloop om kinders op te laai of kuiergaste daag by jou voordeur op. Deur Justine Kroes
17/06/2022
Lyk meer luuks in jou ontspanningsdrag – hier is 7 wenke
1. Balanseer proporsies
Balanseer altyd jou proporsies – gemaklike oorgroot klere kan vinnig slonserig lyk as jy ’n los groot bostuk én ’n broek wat los sit aanhet. As jy ’n los bostuk dra, kies dan ’n broek wat stywer pas en anders om.
2. Doen jou hare en grimering
Jy gaan beter voel en lyk! Maskara en gekleurde lipsalf maak ’n reuse verskil.
3. Voeg bykomstighede by
Mooi bykomstighede sal dadelik jou ontspanningsdragvoorkoms meer opgehef laat lyk. Probeer bykomstighede soos oorringe, handsakke met metaalafwerkings, gestapelde hangertjies of syserpies om jou nek.
4. Probeer ’n truirok
Wie sê ontspanningsdrag behoort net uit sweetpakke en rekkerige broeke te bestaan? ’n Truirok is nie net gemaklik nie, maar ook ’n tikkie meer luuks. ’n Gemaklike truirok (noupassend of lospassend, nes jy verkies) kan ook ontspanningsdrag wees. ’n Item wat jy meer gemaklik met tekkies en ’n sweetpaktop bo-oor of meer formeel met ’n blazer en enkelstewels kan dra. Psst – dit is ook toevallig een van die siesoen se moet-hê mode-items!
5. Kies dikker materiaal
Baie ontspanningsdragbroeke en hemde word van dun materiaal gemaak, wat nie vleiend is tensy jy niks het om weg te steek nie. Kies ’n effense dikker materiaal vir jou ontspanningsdragvoorkoms – dit is meer vleiend, pas beter en is boonop gewoonlik warmer en meer gemaklik.
6. Kies die regte skoene
Kies tekkies of stewels met ’n tikkie meer hoogte. Dra selfs bonkige stewels of brogues by jou ontspanningsdraguitrusting. Aanglipskoene of selfs gemakstewels werk goed saam met ontspanningsdrag, maak net seker hulle is netjies en skoon anders kan jy maklik slonserig lyk.
7. Probeer die high-low metode
Dit verwys na een luukse/formele item wat jy dan by ’n gemaklike of minder formele items soos jou sweetpak of joggers dra. Ons gunsteling is ’n blazer by joggers of ’n gemaklike sweetpakbroek byvoorbeeld. Met ’n interessante tekstuur kombinasie kan jy ook die high-low voorkoms verkry. Kies byvoorbeeld ’n denim of leerbaadjie by jou ontspanningsdrag of sweetpak voorkoms. ’n Syerige bloes kan dieselfde high-low effek skep.
Hier is ’n paar van die gunsteling ontspanningsdrag-items tans op ons wenslysie: