Die kragtige Q10-reeks van Nivea is al lank ’n staatmaker. Met ’n verbeterde Q10-formule, ’n serum wat soos geel pêrels lyk en ’n gesig-olie wat op veelvuldige maniere gebruik kan word, kry dit sakpas-gunstelingstatus by Stylvol!
Maar eers, wat is kragtige Q10 en waarom die bohaai?
Q10 is ‘n koënsiem wat natuurlik in elke velsel voorkom. Die gee ons vel energie en beskerm ons velle.
Ons vel se natuurlike Q10-vlakke neem af soos ons ouer word. Daarom moet ons die Q10- vlakke van ons vel verhoog met produkte wat Q10 bevat, soos die produkte van Nivea se Q10 Anti-Wrinkle reeks. ’n Mens kan so daaraan dink: soos ’n voertuig wat brandstof nodig het om te ry, net so het ons vel glo Q10 nodig om dit energie te gee.
Q10 (wat ’n hoofbestanddeel van die Nivea Q10 Power Anti Age reeks is) word al vir meer as 20 jaar deur Nivea gebruik. Nivea gebruik nou ’n verbeterde formule en die Q10 is identies aan die Q10 wat natuurlik in ons vel voorkom.
Nadat ek vroeër vanjaar ’n advertensie-veldtog saam met Nivea, Rooi Rose en Tracey Lange gedoen het, het ek so meegevoer geraak met die voordele van Q10 dat ek selfs Q10-pille begin drink het. Veral aan die begin van die Covid-pandemie toe ons almal al wat ’n multi-vitamien is, gedrink het.

Nivea se Q10 Power reeks bestaan uit:
- Anti-Wrinkling & Brightening Eye Cream (R189,99)
- Multi-Action Youth Oil Booster (R299,99)
- Anti-Wrinkle & Firming Day Cream SPF 15 (R209,99)
- Anti-Wrinkle Pore Defining Day Cream (SPF 15) (R189,99)
- Anti-Wrinkle + Firming Night Cream (R189,99)
- Anti-Wrinkle + Firming Replenishing Serum Pearls (R259,99)
Kragtige Q10 gunstelinge
1. Anti-Wrinkle + Firming Replenishing Serum Pearls

Die serum is nogal geel en korreltjierig as jy dit uitspuit. Dit is die ‘pêrels’ wat in die bevogtigende jel (wat hialuroonsuur bevat) is. Soos jy dit uit die gerieflike pompbotteltjie (hoera hiervoor want dit beskerm die aktiewe bestanddele teen die uitwerking van lug) spuit, meng die pêrels en die jel. Sodra jy dit invryf, ‘breek’ die pêrels en dit voel lig en absorbeer vinnig. Dit is ’n goeie sakpas-opsie vir ’n serum. Jy kan dit soggens en saans gebruik op ’n skoon vel voordat jy jou dag of nagroom aansmeer. Ek hou dit vir bedags, want saans glo ek steeds aan ’n retinol-serum. .

2. Multi-Action Youth Oil Booster

Die Multi-Action Youth Oil Booster bevat nie alleen natuurlike Q10 nie, maar ook 99% organiese arganolie. Die arganolie voed jou vel en verminder so plooitjies en gee natuurlike glans. Jy kan die olie op verskeie maniere gebruik;
- op sy eie om te bevogtig
- ’n paar druppels by jou dag-of nagroom ingemeng vir meer bevogtiging
- onder jou onderlaag
My gunsteling manier om dit te gebruik is om dit aan te tik nadat ek my onderlaag aangewend het. Ek gebruik dit as beklemtoner op my wangbene en dit gee pragtige glans!