Hoe om hierdie jaar jou Kerstafel te dek. Ons het ons vriendinne by The Home Collective gevra vir inspirasie. Rou, natuurlike materiale en teksture en tradisionele kleure was hulle inspirasie. Deur Kalinka Lombard & Heloise Louw van The Home Collective. Foto’s Alex Brins
The Home Collective se Kerstafel-inspirasie

Ons inspirasie vir ons Kerstafel dié jaar het van twee plekke gekom. Eerstens die natuur; rou materiale, natuurlike linne, fynbos en inheemse blomme.
En tweedens tradisie. Vir die kleurskema wou ons dit graag nogal tradisoneel hou; groen, goud en tikkies rooi hier en daar.
Dit was weereens ’n rowwe jaar vir die meeste mense en twee dinge wat mens geanker kan hou is die natuur en tradisie – maak nie saak hoe jy dit toepas nie.



Wenke vir ‘n mooi Kerstafel
1. Dink aan jou tema

Dit help ook as jou boom se dekor en jou geskenke alles mooi bymekaar pas.
2. Gebruik wat jy tuis het.

Kyk heel eerste wat jy tuis het. Loop deur jou huis en kyk met ’n ander oog na jou huis. Watter bekers, blompotte, ou kershouers of tafeldoeke kan jy dalk gebruik en kan nuwe lewe gegee word op jou Kerstafel?
3. Meng oud en nuut

Moenie bang wees om oud en nuut te meng nie. Nuwe glase met goue randjies saam met Ouma se antieke sjampanjekelkies sal wonderlik lyk.
4. Gebruik groengoed uit jou tuin om ’n Kerskrans te maak.

Ons het ‘n masiewe Kerskans gemaak uit takke met groen blare in die tuin en dit bo-oor ons Kerstafel gehang. Dit het ’n baie gesellige atmosfeer geskep.
Doen dit so:

- Vou die takke om en om mekaar totdat jy ’n rowwe sirkel het.
- Span ’n groen/natuurlike toutjie daarom sodat dit vasbly.
- Trek dan saggies van die takkies en blare uit om die krans mooi vol te laat lyk.
3 Kerstafel moenies
1. Moenie vergeet om spasie te laat vir kos nie
Maak seker as jy lang “runner” tipe tafeldekor doen (met jou blomme en kerse ens in die middel van die tafel af) dat jy ’n ander spasie/tafel het om die kos op te bedien.
2. Moenie blomme en kerse te hoog maak nie
Hou blomme en kershouers op so ’n hoogte, dat dit nie mense se uitkyk oor die tafel blok nie, sodat die atmosfeer om jou tafel altyd gesellig bly.
3. Moenie vergeet om jou tafeldoek te beskerm teen kerswas nie
As jy lang kerse gebruik, onthou hulle drup was. maak seker hulle staan op iets moois om nie jou tafeldoek te beskadig nie.
Hier is wat gebruik is vir die Kerstafel se dek
Groen Borde: Bouquet Café, Paarl
Kerse: Bouquet Café, Paarl
Kershouers: Pep Home
Messe & Vurke: Mr P Home
Tafeldoek: H&M Home
Blomme en groengoed: Kweek Studio, Paarl
Servette: Mr P Home
Sterretjies: Pep Home