Om vir ’n somervakansie te pak, beteken nie jy moet jou hele badkamer saamneem nie. Skoonheidsprodukte inpak vir jou somervakansie gaan oor slim, veelsydige produkte kies wat prakties is, jou beskerm, en soos ’n glansende weergawe van jou alledaagse self laat voel.
Ons deel skoonheidstapels waarsonder ons self nie op vakansie kan klaarkom nie, ons hoop dit help! Deur Justine Kroes
Somervakansie skoonheidstapels
Sonroom
Sonroom vir die hele gesin, ’n waterbestande sonroom is ’n gesins-moet-hê, een wat maklik aanspuit? Nog beter!
Kies ’n sonroom wat ekstra sag is op selfs die mees sensitiewe velle, dalk ook een wat geurvry is met ’n breëspektrum beskermingsfaktor teen die son.
En natuurlik een wat ure lank hou op klein lyfies tussendeur son, see, speel en swem.
Hidreer jou vel:
’n Hidrerende lyfwas en lyfroom vir die hele gesin is noodsaaklik. Kies ’n lyfwas en room wat die vel beskerm en terselfdertyd hidreer. Onthou jy wil tydens jou somervakansie nie jou vel se sperfunksie belemmer en dan sukkel met droë sensitiewe vel nie. Hierdie lyfprodukte sal daarmee help:
Droë olie:
G’n somervakansie is volledig sonder ’n tikkie glinsterende glans nie. Ons pak altyd ’n Nuxe Prodigieuse Huile droë olie in (ekstra hidrasie vir die vel en sommer hare ook!).
Maar vanjaar is daar ’n nuwe vrystelling. Kyk net hoe slim is die; ’n droë olie (dieselfde formule wat ons ken en van hou) maar nou in ’n super slim aanrol (roll-on) botteltjie! Dit wend super eenvoudig aan, swiep dit oor sleutelbene, arms en bene vir ’n ekstra bietjie glinster en goedvoel glans.
Alles-in-een room
Pak gerus daardie “noodroom” in, jy weet daardie room wat jy sal gebruik op eina brandplekkies, skrape, insekbyte en droë vel of selfs om ’n sonbrand te streel.
Hierdie alles in een rome sal help om rooiheid en vel-irritasie te verlig. Smeer dit aan om enige ongemak te verlig, van sonbrand tot muskietbyte. Jy kan dit selfs gebruik vir van droë lippe tot selfs ekseem, droë hakke, droë elmboë of smeer dit aan snye en seerplekkies.
Watersproei:
Beslis ’n holy grail reisgenoot, ons gaan feitlik nêrens sonder ’n watersproei nie.
’n Ultra veelsydige produk:
- Spuit dit aan tydens jou reis (om vel gehidreerd te hou)
- Spuit soggens aan om seker te maak rome word goed geabsorbeer, jy kan dit boonop voor en na grimering aanwending aanspuit.
- Ook wonderlik om enige songebrande velletjies te streel en te kalmeer terwyl dit vel blitsvinnig hidreer.
- Gebruik dit om af te koel tussendeur swemsessies in die see of swembad.
Hidrerende gesigmasker
Lang ure langs die swembad of op die strand gekombineerd met swem en son laat ons velle droog en gedehidreerd. ’n Hidrerende gesigmasker sal jou vel weer blitsvinnig streel, hidreer en glansend laat voorkom.
Jy kan dit natuurlik ook aanwend voor slaaptyd en wakker word met ’n gehidreerde gelaat.
Beskerm jou hare
Beskerm jou hare met ’n UV sproei. Spuit eenvoudig aan voordat jy swem of in die son gaan wees. Hierdie slim sproei beskerm die hare teen UV strale en hou jou hare sysag en gehidreerd. G’n meer kroeserige droë hare nie.
Dit is ook ’n goeie idee om ’n haarmasker wat hare bevogtig te gebruik. Indien jy nie ’n UV beskerming vir jou hare gebruik nie, is ’n bevogtigende haarmasker ’n moet. Die kombinasie van swem en son kan jou hare uitdroog en grasserig laat voel. Jy kan natuurlik ook altyd ’n opknapper of haarmasker aanwend voordat jy swem, dit sal help om jou hare te beskerm teen swembadchloor en verhoed dat jou hare uitdroog.
Stileersproei
Vir luilekker en min moeite vakansiehare probeer gerus ’n tekstuursproei of soutwater sproei. Hierdie tipe haarprodukte beklemtoon jou hare se natuurlike tekstuur. Dit is ook dalk die moeite werd om jou hare ’n ruskans te gee van al daardie gereelde hittestilering.
In jou grimeersakkie
Getinte sonskerm
Ruil jou swaar onderlaag uit vir ’n getinte sonroom of ’n getinte bevogtiger. Een wat lekker lig voel op jou vel, ligte dekking gee maar steeds glansend en gesond laat lyk. ’n Getinte sonroom is nog ’n veelsydige produk om te oorweeg.

Vir oë, en kontoer
’n Veelsydige palet met die natuurlike skakerings is handig. Kyk uit vir een wat jy op jou oë kan gebruik as oogskadu, as ’n verbronser kan aanswiep en sommer as verhelderaar ook kan gebruik.
Blosser en lippe
Multitaak produkte is ’n moet vir vakansies; dit spaar tyd (meer tyd vir vakansie) en moeite. ’n Twee-in-een wang- en liptint is lekker maklik om aan te wend, kies een met goeie houkrag, hier is ’n gunsteling:
Waterdigte maskara
Om daardie panda oë te vermy met in en uit water (en daardie luilekker middagslapies), kies ’n goeie waterdigte maskara wat sal hou en hou!
Reis skeermessie:
Sygladde bene op vakansie is ’n moet, pak vanjaar gerus ’n reisgrootte skeermessie in. Klein en kompak sodat daar geen waardevolle spasie opgeneem word in jou smuktassie nie, meer plek vir luukse noodsaaklikhede.
Waterdigte smuktassie
Al ooit vergeet om daardie sjampoebotteltjie ordentlik toe te draai voordat jy dit in jou skoonheid-smuktassie pak? Die resultaat is katastrofies, veral as jou sakkie nie waterdig is nie – sjampoe oor ALLES, klere, skoene die lot! ’n Waterdigte sakkie sal natuurlik keer dat al jou klere in jou skoonheidsprodukte swem.
’n Deursigtige smuktassie werk wonders – jy loer sommer regdeur om te sien wat jy waar nodig het sonder om rond te krap en soek.



























