Ichigo ichie; Maak só die meeste van elke oomblik

Die Japanese konsep ichigo ichie moedig ons aan om elke oomblik te koester, want dit sal nooit weer gebeur nie. Dit gebeur so maklik dat dae en oomblik net inmekaar vloei, sonder dat jy veel aandag skenk of onthou. Hoeveel keer het jy al op auto-pilot werk toe gery? Of kan jy nie onthou wat jy die naweek vantevore gedoen het nie? So kan jy ichigo ichie gebruik om geluk te vind in die oomblik en jou daaglikse ondervindings te verryk. Deur Suzanne Kotzé

Ichigo Ichie: The Art of Making the Most of Every Moment, the Japanese Way

Hierdie boek deur skrywers Hector Garcia en Francesc Miralles  ondersoek die Japanese konsep van ichigo ichie. Na die sukses van hul vorige boek Ikigai, is hierdie boek nog ’n topverkoper, geliefd onder welweesfoendi en -aanhangers.

Die vertaling van ichigo ichie is “een keer, een ontmoeting”. Die skrywers gebruik beginsels van Japannese teeseremonies en Zen-filosofie en beklemtoon die belangrikheid daarvan om elke ontmoeting te koester en in die oomblik te leef. Elke oomblik is uniek en vlugtig, en verdien daarom ons volle aandag en waardering.

Dit herinner ons daaraan dat die lewe se kosbaarste ervarings dikwels in die eenvoudigste ontmoetings gevind word.

Stappe om ichigo ichie in jou daaglikse lewe toe te pas

1. Kweek teenwoordigheid (mindfulness)

Teenwoordigheid vorm die basis van ichigo ichie. Oefen om ten volle teenwoordig te wees in elke oomblik, of jy nou ’n heerlike maaltyd geniet, met iemand gesels of vir ’n stappie in die natuur gaan. Verdiep jouself in die oomblik en laat afleidings eenkant. (Sit sommer jou foon vêr weg!)

2. Waardeer die uniekheid van elke ervaring

Elke ontmoeting en ervaring is uniek. Onthou dit. Benader elke dag met ’n gevoel van nuuskierigheid en verwondering. Besef dat elke interaksie wat jy gedurende die dag het, potensiaal inhou om betekenisvol en verrykend te wees.

3. Laat vaar verwagtinge en omhels spontaniteit

Laat vaar jou behoefte aan perfeksie en voorspelbaarheid en omhels eerder spontaniteit. Deur rigiede verwagtinge eenkant te los, stel jy jouself oop vir nuwe ervarings en moontlikhede.

4. Wees dankbaar

Dankbaarheid vorm die grondslag vir die beoefening van ichigo ichie. Neem elke dag tyd om na te dink oor die oomblikke wat jou vreugde gebring het of jou aangeraak het. Om dankbaarheid te kweek help jou om op die die positiewe aspekte van jou lewe te fokus en die waarde van elke ervaring te versterk.

Maak gerus hierdie deel van die gesprek deur byvoorbeeld saans om die etenstafel te gesels oor oomblikke in julle dag waarvoor julle dankbaar is.

5. Skep betekenisvolle rituele

Inkorporeer rituele in jou daaglikse lewe wat teenwoordigheid en bewustheid aanmoedig. Of dit nou is om jou dag te begin met gebed, of nadenke, om dankbaarheid te beoefen voor slaaptyd, of om ’n daaglikse teeseremonie te geniet, hierdie rituele kan as ankers dien wat jou herinner om elke oomblik te koester.

6. Deel oomblikke met ander

Ichigo ichie gaan nie net oor persoonlike verryking nie, maar ook oor die bevordering van bande met ander. Wees ten volle teenwoordig wanneer jy met geliefdes, vriende en selfs vreemdelinge omgaan. Luister aktief, waardeer hul teenwoordigheid en skep gedeelde herinneringe wat jou verhoudings verdiep.

Om die beginsels van ichigo ichie in jou daaglikse lewe in te sluit, moet jy doelbewus probeer om stadiger te leef, teenwoordig te wees en die rykdom van elke oomblik (hoe klein ookal) te waardeer.

Onthou, elke oomblik is ’n geskenk – omhels dit met ope arms en ’n oop hart.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Tekens dat jy besluitnemingsmoegheid het
error: Content is protected !!