Handsakke bly nou maar eenvoudig een van ons gunsteling modebykomstighede: ’n praktiese item wat jou hele uitrusting kan ophef en een wat jy werklik kan geniet. Loer gerus hier na die 10 grootste handsakmodes op die modewêreld se radar. Deur Justine Kroes
10 Handsakmodes wat nou trend
1. Ekstra groot “tote”
Groot dra-dit-als styl handsakke is hierdie seisoen groot nuus. Hierdie is veral lekker vir elke dag se gebruik vir besige Ma’s wat heen en weer hardloop tussen sportwedstryde en werksvergaderings. Dink net aan al daardie ekstra spasie vir versnaperinge, en sommer vir jou skootrekenaar ook!

Kyk uit vir die met struktuur en bandjies (top handles) aan die bo-kant. Ons is opgewonde dat hierdie handsakstyl weer terug is.


Met die ekstra groot handsakstyle het jy nie meer nodig om jou handsakinhoud haarfyn te beplan nie; hier is spasie vir jou hele lewe en nog meer.
2. Geweefde leer

Handsakke wat soos ’n geweefde kunswerk lyk word voorspel om vanjaar ’n groot handsaktrend te word: Geweefde leer in groter en kleiner vorms in allerhande skakerings.


Rond jou wintersuitrusting af met ’n ekstra tikkie tekstuur en diepte met ’n geweefde leer of kunsleer-handsakstyl.
Gesien by ontwerpers en op die mode loopplanke van; Ulla Johnson, Ferragamo en Etro.
3. Slonserige/hobo-styl halfmaan handsak
Hierdie sirkelvormige (crescent) styl sakke is tans ’n gunsteling. Afhangend van jou persoonlike voorkeur, kies ’n groter of kleiner sirkelvormige of halfmaan handsak, dra dit in jou hand, op jou voorarm of aan jou skouer.

Modebekendes hou veral van die oorgroot boho tipe sagte styl handsakke.
4. Vintage geïnspireerd

Dink aan jou ma en ouma se pragtige versierde handsakke, handsakke met kleurvolle blomme wat boonop met ’n kisslock nog kan toeknip. Hierdie handsakstyle, spesifiek die met tekstuur en versierings, gaan hierdie winter groot nuus wees.


Gaan klop gerus by jou ma of ouma aan vir hierdie handsakstyl.

Psst … om dit 2026 en modern te hou, hou die res van jou uitrusting minimalisties en eenvoudig.
5. Slang- en krokodilvel patroon

Ontwerpers by Valentino en Chloe is dit eens, koudbloedige inspirasie van krokodille en slangvelpatrone op handsakke is groot nuus. Van helder tot meer neutraal, kies ’n slang- of krokodilleer vir jou volgende handsakstyl.


Indien jy huiwerig is, dink aan jou dierepatroon (slangvel/ krokodil leer) as ’n “neutrale” item – deur hierdie te doen gaan dit vir jou makliker wees om hierdie dieremotief by enige uitrusting te laat werk.


Wenk: Indien jy een van die dierepatroon handsakke wil aankoop, hou die meerderheid klere in jou kas in gedagte en dink by watter een van hierdie dierepatrone dit die maklikste sal pas.
6. Elke dag se palmtas

Jou palmtas (clutch) is nie meer net vir aandgeleenthede beskore nie. Oorgroot, sagte weergawes word nou bedags gedra, dra dit moeiteloos ingedruk onder jou arm.


Vanjaar is die trendy manier om dit so nonchalant as moontlik onder jou arm te dra (selfs die oorgroot handsakstyle word nou so gedra).

7. Kettings, gespes en blink afwerkings
’n Ketting-reaksie – soos dit onder modekenners beskryf word – is dié handsaktrend: handsakke met kettingafwerkings is in.

Hoe groter, bonkiger en blinker hoe beter. Daarby ook gespes en blink afwerkings. Hou dit eenvoudig met een gespe-detail of kies ’n meer-is-meer ontwerp met ’n klomp verskillende gespes regoor oor jou handsakontwerp.


Dink aan verstelbare blink bandjies wat jy kan pasmaak tot jou eie styl en behoefte, onder jou arm deur of gekruis oor jou lyf dra. Handsakke omring met metaaldrukkers (studs) is nog ’n gewilde handsakstyl op ons wintermoderadar.

Wanneer jy jou handsak met sy ketting of blink afwerkings dra, hef dit dadelik jou uitrusting op (jy sal verbaas wees wat ’n tikkie blink kan doen!).
8. Dokterstyl handsak

Dink terug aan hoe dokters destyds huisbesoeke gedoen het met hul groot swart mediese tasse. Hierdie handsakstyl lyk soortgelyk, behalwe effens kleiner en meer modern.

Beskikbaar in allerhande skakerings en materiale, is dit beslis ’n tydlose handsakstyl wat nog vir lang jare ’n gunsteling in jou klerekas sal bly.
9. Handsakke met “flappe”

Chanel het hul eerste handsak met ’n “flap” in 1995 vrygestel, vanjaar is hierdie handsakstyl meer gewild as ooit vantevore.


Dink aan ’n effense oorgroot en effense sagter silhoeët.
10. Mini unieke handsakke

Ook bekend as “minaudières” verwys dit na ’n kleiner handsakstyl met ’n unieke ontwerp, glad nie prakties om ’n foon in te pas nie, maar so prettig en pragtig!


Ontwerpers het met unieke ontwerpe soos ’n swaan (Chloe) ’n padda (Dior), of selfs ’n vrug (kyk hoe oulik is die rooi graanaat!) op 2026 se winterloopplanke gespog.


Ons dink hierdie is beslis ’n handsakkopie wat eendag ’n prettige erfstuk sal word!





