Daar is maar net iets omtrent helder dopamiene-mode wat ons gelukkig laat voel, veral helder oorbelle. Helderkleurige oorbelle het die krag om ’n doodgewone neutrale uitrusting van vervelig na modieus en trendy te verander. Ons deel 4 van ons gunsteling helderkleurige oorbelle tans op ons stylradar. Deur Justine Kroes
23/02/2024
Pichulik Aventurina Earrings (R850)
Ek het onlangs hierdie paar oorbelle as ’n geskenk ontvang – en ek kan nie glo hoe baie ek hul dra nie. Ek koop gewoonlik vir myself meer klassieke silwer of goue juwele, maar iets omtrent hierdie oorbelle het my anders laat kyk na helderkleurige oorbelle. Wanneer ek my Pichulik Aventurina oorbelle aansit, voel my gelaat meer helder, ek dra dit by neutrale en helder uitrustings, dit pas ewe mooi by albei!
Die Aventurina steen is die “goeie geluk steen” en ek was tot dusver net gelukkig elke keer wanneer ek hulle dra!
Die oorbelontwerp is beskikbaar in verskillende skakerings, pienk, aqua (ligblou), fern (groen) en oranje.
ANHA Clay Leaf Earrings (R225)
Hierdie pragtige helder “leaf” oorbelle van ANHA is al ’n ruk op my wenslys – die enigste probleem is net, ek kan nie besluit watter skakering ek die graagste wil koop nie. Die ontwerp (nes die meeste van ANHA se ontwerpe) is beskikbaar in 19 verskillende skakerings, van helder pienk tot oranje, giggelgeel en selfs roosgoud.

Die oorbelle is gemaak van akriel, is lieflik lig en min of meer 5 cm in lengte.
Loer hier vir nog unieke ANHA ontwerpe.
Elizabeth Summer South American Earrings
Duidelike dopamiene-oorbelle is die enigste manier om hierdie ontwerpe te beskryf. Beskikbaar by Elizabeth Summer boetiek (in die winkel en aanlyn), elke paar oorbelle is handgeweef met ’n sytou en vol helder kristalle. Elke paar is met die hand met kristalle versier – ’n stuk kuns wat jy aan jou ore kan dra. Geen paar is soos ’n ander nie, ontwerpe verskil in kleur en die gebruik van kristalle. Die oorbelle is 5.5 cm in lengte. (Pryse wissel van R890 tot R1 250)
Ateljee Lilly K (R395)
Hierdie kleurvolle ontwerp is van plexiglas en metale gemaak, is glo superlig aan die oor en elke ontwerp is ’n beperkte uitgawe – daar is geen twee pare oorbelle wat dieselfde lyk nie. Hierdie Lilly K Oorbel word handgemaak in die Paarl. Vir nog unieke ontwerpe nes die een besoek gerus Ateljee se webtuiste, klik hier.