Hakke-koningin Jo-Ann Strauss het eens op ’n tyd meer as 100 pare skoene besit. Nou is dit net baie minder. ORDEN het haar gehelp om orde te skep. Hier is hulle beste wenke oor hoe jy ook jou skoenekas kan orden. Deur Suzanne Kotzé
01/04/2022
Foto’s: Tracey Baard, produksie ORDEN, hare en grimering: Teagan Martini, Video: Jacques Britz
Jo-Ann Strauss oor haar hakke

Hoeveel pare skoene besit jy?
“Om eerlik te wees het ek geen idee nie, maar ek dra seker net 10 van my pare. Die res van my skoene vertoon ek, omdat ek soveel spesiale herinneringe het. Ek dink ek besit dalk nou so 40 pare. Op ’n stadium was dit meer as 100, maar ek het al soveel pare weggegee.”
Skoene en herinneringe
“Ek klou beslis vas aan my skoene as gevolg van die herinneringe.” Daar is van die groen paar Russel & Bromley hakke wat sy saam met Minki van der Westhuizen in Londen gekoop het, tot die paar Jimmy Choo’s en Louboutin’s wat sy geskenk gekry het by haar vriendin, Jeanne von Hirschberg, eienaar van The Blue Café in Tamboerskloof, Kaapstad.

“Ek het selfs net een rooi Sergio Rossi skoen; ek moes die ander een iewers tussen trek of reis verloor het. Nou stal ek maar die een rooi skoen uit. Miskien is dit tog tyd om te laat gaan. Het enige iemand dalk een grootte 40 rooi skoen (links) nodig?,” vra sy grappenderwys.

Die groot vraag is: Mag jou dogtertjies met jou skoene speel?

“Tegnies, nee, maar ek sien op die sekuriteitskameras in my aantrekkamer dat hulle dit doen. Dit maak my gelukkig om te weet dat my skoene hulle ook gelukkig maak. Hulle is natuurlik mal oor my skitterende skoene en my eenjarige jaag my gereeld in die huis rond en dring daarop aan dat ek my hakke aantrek.”
Jo-Ann gesels oor haar skoene.
Kyk dit hier. Video deur Video: Jacques Britz
ORDEN se wenke om jou skoene te bêre en organiseer



Bêre jou skoene so
Hakke
- Pak hakke en tone bymekaar as jy min spasie het.
- ’n Laai om jou skoene in te bêre is ook ’n goeie opsie.
- Hakskoene wat jy nie gereeld dra nie kan agterin jou kas gebêre word of in deursigtige skoenbokse bo in jou kas op mekaar gestapel word.
Sandale
- Twee sandale of plakkies kan bo-oor mekaar lê om spasie te spaar.
- Skuif jou plakkies/sandale inmekaar om spasie te spaar.
- ’n Kleiner laai onderin jou kas kan ook ’n goeie ruimte wees vir plakkies.
- ’n Materiaalhouer wat in jou hangkas hang (soos die waarin jy jou serpe bêre) is ook ’n goeie manier om spasie te spaar.
Stewels
- Sny ’n ou ‘poolnoodle’ en sit dit in jou stewels. Dit help dat jou stewels hulle vorm behou.
- Ou opgerolde tydskrifte werk ook goed hiervoor.
Tekkies
- Hou ’n rakkie naby jou voordeur waar jy jou sportskoene bêre. So bly jou huis skoner.
- Vee dadelik enige modder af. As dit in die oog is, sal jy meer geneig wees om te onthou hiervan.
- Moet nooit nat of klam skoene in jou kas bêre nie.
Hoe kry jy jou wit tekkies weer wit?
Was jou seilskoene met seep en water en dan vryf jy droë Maizena sommer met jou hand bo-oor. Sit dit in die son todat dit droog is en borsel dan die oortollige poeier af. Dit geld vir lap tekkies.
Kunsleer kan in die wasmasjien gegooi word saam met ’n handdoek. Dit werk so goed jy kan sommer die veters in los.
Sanitizer met ’n wet wipe werk uitstekend as jy vinnig ’n merk wil afvee as jy haastig is.
Organiseer jou skoene so

- Groepeer dieselfde tipe skoene saam.
- Skoene wat jy baie gebruik, soos sportskoene, moet maklik bereikbaar wees.

- Formele skoene en seisoenale skoene kan hoër op gebêre word.

- Ruil somer- en winterskoene om gedurende die verskillende seisoene sodat jy so meer spasie het.
Gebruik lugdigte houers om vog en vismotte uit te hou.
- Vismotte hou van vog, as jy die humiditeit in jou huis kan verminder sal dit ook help met minder vismotte.
- Gebruik ’n droogmiddel (dehumidifier) om vog te beheer in jou huis.
- Essensiële olies soos kaneel, peperment, lemoen of lemoenblomolie kan help om vismotte weg te hou.
- As jy in ’n baie klam area bly, kan jou skoene dalk muf in lugdigte houers. Om dit te voorkom, plaas sneespapier (tissuepaper soos die wat in die winkel se skoenbokse is) of koerantpapier in die bokse om vog te absorbeer. Jy kan ook jou skoene in katoen toedraai voordat jy dit in die bokse pak.
Van Orden se staatmakers vir skoene
Addis – Women’s Shoe Box R115, Takealot
Rotating Shoe Rack, 12 Layer R4599, Gelmar
New style Stackable Sliding storage boxes R249, Trendz for today
Lees ook: Skep orden met ORDEN se regpakwenke
Besoek ORDEN se webtuise by orden.co.za en volg hulle op Instagram