“In Suid-Afrika sukkel 50% van vroue bo 40 met haarverlies,” vertel trikoloog Elma Titus. Dit is egter nie net vroue bo 40 wat hiermee sukkel nie, spanning speel deesdae ’n groot rol en dit kan op enige ouderdom ’n probleem en bron van kommer wees. Deur Suzanne Kotzé
Wat is normale haarverlies?
Die gemiddelde mens het 100 000 hare op hul kop en kry gemiddeld 100 hare per dag by, en verloor ook 100 per dag. As jou haarverlies meer as jou haargroei is, is dit ‘n probleem.
As jy vermoed jy verloor meer hare as wat jy bykry, kam jou hare in die oggend oor jou wasbak en tel die hoeveel hare in die wasbak is, of die hoeveelheid hare op jou kussingsloop.
Hoekom val my hare uit? 9 redes vir haarverlies
1. Spanning en anstigheid
Kaapse haarstilis Salome de Wet sê die afgelope jaar ondervind die meeste van ons meer spanning en angstigheid as ooit te vore. Volgens haar is dit een van die groot redes hoekom jy dalk meer hare as gewoonlik kan verloor.
2. Covid
Salome sê ook dat haarverlies een van die newe-effekte van Covid kan wees. Dokters sê egter dat daar geen klinklare bewyse is dat dit noodwending as gevolg van Covid is nie, maar eerder die fisiese en emosionele spanning wat met die siekte gepaard gaan.
Die dokters by Body Renewal (bodyrenewal.co.za) vertel: Mans en vroue verloor hare soos hulle ouer word, maar mans word meer hierdeur geraak as vroue. Telegen Effluvium is ’n tipe tydelike haarverlies wat deur die volgende veroorsaak kan word:
3. Hormonale veranderinge
Soos wanneer ’n vrou swanger is of deur menopouse gaan.
4. Korttermyn siektes
Na ’n erge infeksie of operasie kan jy ook haarverlies ervaar.
5. Langtermyn siekte
Siektes soos kanker of lewersiekte
6. Veranderinge in jou dieet
Veranderinge in jou dieet, veral as jy vinnige, streng diëte volg.
7. Medikasie
Sommige medikasies soos anti-coagulants wat voorkom dat bloedklonte vorm) of betablokkers (word onder andere gebruik om hoë bloeddruk te behandel).
8. Te veel DHT
Daar is ’n skakel tussen oorsensitiewe haarwortels en die hormoon (dihydrotestosterone (DHT) wat van die manlike hormoon testosteroon gemaak is. As daar te veel DHT is, reageer die wortels en hare word dunner en groei stadiger as normaal.
9. Immuunstelsel-wanbalanse
Alopecia Areata is ’n outo-imuuntoestand waar jou liggaam se natuurlike weerstandstelsel (wat jou liggaam help beskerm teen infeksies soos deur virusse en bakterieë) eerder jou hare begin beskadig. Die haarwortels word gelukkig nie permanente beskadig nie en groei weer binne ’n paar maande terug.
Haarverlies; wat jy kan doen?
Kaapse haarstilis Salome de Wet het onlangs ’n oulike Instagram video gedoen oor haarverlies, en hier is van haar wenke. (Jy kan ook die video hier kyk)
1. Vermy styfgetrekte haarstyle
Met style waar jy jou hare te styf trek; soos ’n baie stywe poniestert of klein vlegseltjies, kan jy effektief jou hare uit die haarwortels. Dit word ‘tension alopecea’ genoem.
2. Neem aanvullings
Ek beveel gewoonlik dadelik vir my kliënte wat kla oor haarverlies aan dat hulle Vitamien B12 en ysteraanvullings moet gebruik.
3. Vermy toksiese bestanddele
Te veel drank, rook of dwelms kan ook haarverlies veroorsaak. Dit is amper of hierdie middels jou haarwortel blok en keer dat dit groei.
4. Let op jou dieet
As jy veganisties of vegetaries is, is dit belangrik om seker te maak dat jy steeds genoeg proteïene inneem en ’n gebalanseerde dieet volg. ’n Ongesonde dieet wat bestaan uit wegneemetes en oormatige suikerinname kan ook jou haargesondheid beïnvloed.
Die dokters van Body Renewal se raad is
5. Topikale Minoxidil
Topikale Minoxidil (2% of 5%) is die meeste effektief op klein areas vir die met androgenetiese alopecia (waar haarverlies vanaf jou slape plaasvind en later die tipiese m-patroon vorm) vertel die dokters by Body Renewal. As jy dit vroeg genoeg begin gebruik kan dit help verhoed dat dit erger word. As dit vir jou help, is dit egter iets wat jy vir altyd sal moet aanhou gebruik, anders sal jou hare na drie tot ses maande nadat jy opgehou het, weer begin uitval.
6. Voorskrifmedisyne
Voorskrifmedisyne kan die hoeveelheid DHT (wat verantwoordelik is vir ’n afname in haargroei) verminder. Gesels met jou dokter hieroor.
7. Estiese behandeling wat haargroei aanmoedig
Klinieke soos Body Renewal bied behandelings (soos karboksieterapie, mesoterapie en fotodinamiese-terapie) wat die sirkulasie op jou kopvel vermeerder en kollageenvorming aanmoedig. Besoek bodyrenewal.co.za vir meer inligting.
Selfs Rachel Kolisi het onlangs op Instagram gedeeld hoe haar hare uitval. Loer hier hoe sy naald-terapie op haar kopvel laat doen het by dr. Nerina Wilkinson.
8. Gebruik tuissorg
Let wel dat jy baie van die tuissorgprodukte vir ’n lang tydperk moet gebruik.
Nioxin is deur Eva Graham gestig nadat sy en haar pa met haarverlies begin sukkel het. Die hele produkreeks is gewy aan haargesondheid en haarverlies.
Salome sê waarvan sy hou van Nioxin is dat jy die haarverliesprodukte volgens jou haartipe kan kies. Baie ander sjampoes vir haarverlies neem nie jou haartipe of toestand in ag nie. Jy kan ook eers net ’n toetsgrootte produk koop, as jy haarverlies net vir ’n kort tydperk ondervind of om die werking daarvan te toets.
Nioxin System 5 Trial Kit 1 Pack (uitgesoekte haarsalonne0
Goldwell Kerasilk Repower Anti-Hairloss Spray Tonic (uitgeboekte haarsalonne)
Indola Root Activating Lotion 8 x 7ml (uitgesoekte haarsalonne)
Stylwenke vir yl hare
1. Kies ’n gegradeerde bob-snit
Dit werk goed vir dun/yl hare. Gebruik ’n goeie kwalitieit sjampoe, opknapper en stileerproduk wat vir volume sorg. Die volume en bons sal jou dun hare wegsteek. Onthou om jou stileerprodukte op jou haarwortels te gebruik om dit te lig.
2. Knip ’n kuif
’n Kuif kan jou hare voller om jou gesig laat lyk en trek aandag weg van ’n haarlyn of paadjie waar hare yler is. Bespreek dit egter eers met jou haarstilis, want ’n kuif werk nie by almal se gesigvorm of hare nie. Krone op jou haarlyn kan veral jou kuifdrome belemmer.
3. Krul jou poniestert
Dit laat hare dikker en voller lyk en dit is baie in op die oomblik. Moet dit egter nie te styf vasmaak nie, want hare wat trek kan haarverlies vererger. ’n Maklike manier om krulle te kry, is om vlegsels te maak (net nie styf teen jou kop nie!) en dan bo-oor dit te gaan met jou haaryster. As jou hare hittesensitief is, hou die vlegsels so ’n halfuur lank in en los die haaryster. Nou behoort jy volume te hê en bind rekkies losweg op verskillende dele vas.
4. Gebruik jou haardroër se ‘diffuser’.
As jou hare krullerig is, probeer ’n snit met lae. Wend mousse aan en maak jou hare met jou haardroër se ‘diffuser’ droog. Dit sal jou hare baie dikker laat lyk.
5. Kleur jou hare
As jy jou hare kleur, maak dit elke haartjie dikker en gee volume. Ligstrepies kan ook tekstuur gee wat dit voller en dikker kan laat lyk. Wees egter versigtig hiermee, aangesien yl hare reeds meer broos en breekbaar is. Maak seker jou kleur tegnikus is baie goed.
6. Minder hitte
Probeer om nie te veel hittestileerders soos haarysters en krultange te gebruik nie, want dit kan jou hare breek en yl hare nog yler laat vertoon, veral as jy nie vooraf ’n beskermingsproei gebruik nie. Probeer ook om jou hare minstens een keer per week natuurlik te laat droog word.