Stylvol vriendin Karen Taylor bly in Parys en deel watter Franse modelesse sy by die wêreld se mees stylvolle vroue geleer het. Deur Suzanne Kotzé

15/07/2022

Karen Taylor, besigheidsleier van L’Oreal Paris Makeup bly al vir die afgelope nege maande in Parys en het vroeër ook al vir twee jaar in Parys gebly. “Om eerlik te wees gaan daar nie ’n dag verby wat ek nie bewus is van die bekoring van hierdie stad nie!”

Die grootste Franse modelesse wat Karen geleer het

1. Eenvoud

“Ek het geleer om alles nog meer eenvoudig en simplisties te hou en om my eie unieke styl te omhels waarmee ek gemaklik voel.”

2. Neutrale kleurpallet

“Een van die grootste stylaanpassings wat ek moes maak is om te leer om van ’n ten volle neutrale kleurpalet te hou. 80% van alle Parysenaars hou by die neutrale palet. Hierdie seisoen is dit egter vir die eerste keer anders. Dit is asof ons almal meer waag met helder rokke en uitrustings vir die somer as ’n manier om die post-pandemie vryheid te vier. Neutrale kleurpalette en monokroom bly egter die staatmakers. Dit is klassiek, tydloos en sjiek.”

3. Die swart uniform

“Swart is steeds die uniform van vele Parysenaars. Daar is ’n grappie dat waneer Parysenaars avontuurlustig voel, hulle grys dra. Ek vind dit snaaks omdat dit so waar is!”

4. Geen sigbare handelsmerke

“Groot sigbare handelsmerke is oor die algemeen ’n nee.”

5. Groter klere

“Ek het geleer om my klere een grootte groter te koop. So vloei die kledingstuk meer elegant oor my silhoeët en ek voel meer gemaklik.”

6. Minder grimering

“Maar meer rooi lipstiffie, enige tyd van die dag.”

So inkorporeer Franse vroue trends

1. Kledingstukke wat ’n sterk stelling maak (bold statement pieces)

Baie Franse vroue sal kies om een helder uitrusting te koop van byvoorbeeld Zara of seisoenale bykomstighede soos haarbande, oorbelle of serpe.

2. Bykomstighedeboks

My vriende het my bekendgestel aan die ‘Gambettes Box’. Dit is soortgelyk aan The Box Fashion in Suid-Afrika. Dit is ’n maandelikse intekenboks met bykomstighede wat jou help om op datum te bly met die nuutste bykomstighede. Hulle sykouse is veral baie ‘trendy’.

Leer meer oor hoe The Box Fashion in Suid-Afrika werk.

3. Koop bykomstighede

As jy nie ingeteken is op so ’n boks nie, is dit maklik genoeg om self bykomstighede te koop. Ek is gaande daaroor om in die Marais distrik se trendy boetiekwinkels rond te snuffel vir bykomstighede. Merci is een van my gunstelinge. Ek hou ook baie van die die bykomstighede en trend-afdelings by Le Bon Marche, Printemps en BHV.

Wat dra of koop jy nie in Parys nie?

1. Stilettohakke

Dit is net nie prakties nie, want jy loop BAIE en jy sal beslis jou pragtige hakke ruïneer. Blokhakke het my nuwe gunsteling geword en ek besit nou baie meer ‘sneakers’ as ooit van te vore.

2. Oefenklere om te sosialiseer

“Vergeet daarvan om in jou oefendrag te sosialiseer in Parys. Dit is ’n groot ‘nee’, behalwe as jy regtig op pad na of van die gimnasium is.”


3. Om splinternuut te koop

Antieke en tweedehandse winkels is steeds groot nuus in Parys. Veral vir stellingstukke soos handsakke en rokke. Die bekende Printemps winkel het selfs ’n tweedehandse afdeling op hulle boonste vloer. Met onder andere Hermés sakke wat so mooi is dat jy tranerig voel as jy daarna kyk. Ek bring ook vele Sondae by die Saint Ouen mark deur op soek na skatte.


Besoek theboxfashion.co.za vir meer inligting.
Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
6 wenke om die regte somersandale te kies
error: Content is protected !!