Ons het vir vier van ons gunsteling ontwerpers gevra hoe hul graag hul jeans stileer vanaf gemaklik na meer formele uitrustings, plus hul gunsteling denimstyle en stileertruuks om meer afgerond in jou denims te lyk. Ontwerpers Kat van Duinen, Sune Snyman, Janita Toerien en Desray deel graag hul beste denim-wenke. Deur Justine Kroes
Gunsteling denimstyl om te dra?
Desray
Ek vind dat ek my geskeurde boyfriend jeans die meeste geniet om te dra. Veral vir ’n gemaklike naweekvoorkoms met ’n gedrukte T-hemp, Birkenstock sandale en ’n gemaklike trui. ’n Groot sak en ’n groot sonbril hoort daarby.
Janita Toerien
Ontwerper Janita Toerien sê: My gunsteling jeans is beslis, “skinnies” (noupassende denims), dit werk net sonder dat ek te veel hoef te wonder wat ek daarby sal dra. Ek sukkel met die boyfriend denimstyl en om een te vind wat nie te ‘sakkerig’ aan my lyk nie.
Ek verkies denims met ’n acid of stonewash, amper uitgewasde effek, met geskeurde broekspype. Ek voel nie so gemaklik in ’n perfekte paar netjiese jeans nie, ek verkies eerder iets wat “worn” lyk. Vir twintig jaar smeek my Pa, Oumas en Oupas my al om nuwe denims te koop, iets wat nie lyk asof dit deur ’n kettingsaag bygekom is nie!
Kat van Duinen
Ek dra nie altyd denims nie maar eerder swart styl jeans in manlike snitte en silhoeëtte.
Ek verkies die neutrale kleur omdat ek dit in rekordtyd meer gemaklik of meer formeel kan stileer.
Kat van Duinen
Ek het vir jare lank ’n stywe, noupassende styl verkies, dit bygese was ek ook baie jonger en kleiner gebou. Deesdae verkies ek meer radikale manlike snitte, gekombineer met ’n pragtige dun leer gordel en fyn geweefde trui. Kat van Duinen
Sune Snyman
My gunsteling denimstyl om te dra is beslis die mom jean-styl, of ’n denim met ’n hoë middellyf in ’n effense uitgewasde skakering.
Hoe dra jy jou denims vir ’n gemaklike voorkoms?
My styl is meestal gemaklik, en ek hou veral van die kombinasie van ’n trui met mooi afwerkings by ’n minder formele paar jeans. Mens is gemaklik in so ’n trui en die detail sorg dat jy nie ekstra items en moeite by jou uitrusting hoef by te werk nie. Pêrelversierings en ’n pofmou of moue met volume is bykomstigheid genoeg. Janita Toerien
’n Sonbril en ’n klein slingerhandsak, (groot handsakke is altyd in die pad!) met tekkies en eenvoudige klein oorbelle is omtrent al wat ek dra, gemaklik, en eenvoudig! Janita Toerien.
Kat van Duinen sê: ’n Gemaklike voorkoms vir my is swart jeans en tekkies daarby. Ek werk met so baie kleur en tekstuur dat ek altyd kalm en veilig voel wanneer ek swart dra.
Die Kat van Duinen hemde en tops is oorspronklik vir die span ontwerp, maar al hoe meer kliënte het daaroor begin navraag doen. En so het ons besluit om ook ’n gemaklike reeks by ons meer formele reekse in te sluit.
Vir ’n gemaklike voorkoms by die studio of by ons fabriek dra ek graag ’n denim-eenstuk, tekkies en gordel met studded afwerkings. Dit skep daardie grunge/soho-styl-voorkoms! sê Desray.
Sune Snyman se staatmaker gemaklike denim voorkoms: As ontwerper bestaan my werksdae uit rondhardloop, afbuk om soomlyne reg te maak en heeldag op my voete staan om patrone te maak. Daarom is jeans en unieke, prettige tekkies my heel gunsteling uitrusting-kombinasie. Op koeler dae verkies ek ’n T-hemp en knooptrui kombinasie by my denim. Op warm somersdae stileer ek graag my mom jeans met ’n cami en Havaianas plakkies – ek is eintlik ’n plain Jane!
Hoe stileer jy jou denims vir ’n formele afspraak?
Janita se raad: As ek my denim meer formeel dra, kombineer ek dit graag met peep toe stewels en ’n satynjas en palmtas daarby. Ek sal natuurlik ook my grimering vir die aand aanpas.
Kat sê: As ek die werkswinkel moet verlaat om ’n klient te besoek kan ek maklik met ’n klassieke hakskoen en wit hemp kombineer. Ek is ook natuurlik gaande oor my eksotiese dun leergordels – tydloos en so sjiek!
Formeel vir werk en vergaderings by die kantoor, dra ek graag ’n bypassende denimhemp en harem styl broek. ‘n Luiperdmotief jas (ja luiperdpatrone is hier om te bly!) wat die uitrusting effens meer formeel laat lyk. High-top tekkies, skouerhandsak en my leesbril aan ’n bandjie – altyd byderhand! Desray
Noupassende denims en enkelstewels is ’n kombinasie wat altyd sexy voel vir ’n aandafspraak. Kombineer dit met ’n patroonhemp en ’n baadjie (met formele lyne en struktuur). ’n Gordel, palmtas, armband en ring sal die formele voorkoms mooi afrond!
Desray
Vir ’n formele geleentheid, dra altyd hakskoene by jou denim – ek glo dit help jou postuur. As jy sukkel om in hakskoene te loop, kies eerder ’n laer blokhakskoen. Sune Snyman
Bykomstighede soos ’n helder lipstiffieskakering en ’n gordel is ’n moet vir ’n meer formele voorkoms. ’n Eenvoudige kombinasie wat die voorkoms mooi afrond. Sune Snyman
Denim-stileerwenke
- Maak jou denims jou eie – vou die soom om sodat dit by jou lengte pas. Dit skep ook ’n bietjie skoon spasie tussen jou jeans en jou skoene. Janita Toerien
- Balanseer altyd jou proporsies -indien jy noupassende jeans dra, stileer met ’n oorgroot bloes of jas daarby. Die teenoorgestelde geld ook, ’n wyepypbroek met ’n noupassende hemp of trui daarby. Janita Toerien
- Moet nie bekommer as die mom jean -styl nie jou lyfvorm pas nie of as jy voel dis nie 100% jou styl nie. Ons kan almal iets leer by vroue soos Rachel Zoe en Victoria Beckham wat graag wye pyp denims dra omdat dit by hul lyfvorm pas – ongeag wat die trends is. Janita Toerien
- Wanneer jy jou denim stileer – onthou gemaklik beteken nie noodwendig ‘stylloos’ nie. Daar is talle maniere om steeds jou denimvoorkoms stylvol te laat lyk. Vir al daardie Zoom-vergaderings, dra gerus ’n pragtige bloes met ’n strik om die nek by jou denims. Kat van Duinen
- Ek hou van die tydlose kombinasie van jeans gekombineer met ’n kraakvars wit hemp, pragtige bykomstighede soos ’n syserpie en selfs ’n navy blazer met goue knope. Kat van Duinen
- ’n Lekker wenk vir noupassende jeans – rol die soomlyn so twee keer om die enkels op (so 3cm). Ek hou van ’n enkel wat wys! Sune Snyman
- Die “half tuck” is ’n fantastiese stileerwenk, of dit nou by ’n knoophemp of selfs T-hemp gedoen word. Steek die voorpunt van die middelste gedeelte van jou hemp net bo die knoop van jou denim in en laat die res van die hemp uithang. Sune Snyman
- Denim sal altyd ’n stapel-, tydlose-, staatmaker-item bly. Net soos die klassieke wit hemp kan dit meer of minder formeel gedra word en na hartelus gestileer word! Desray
- Ek sien denim as ’n platform wat op enige manier gestileer kan word. Ek hou veral daarvan om denim te gebruik vir juxtapositioning – die kombinasie van straatstyl by meer formele kledingstukke met struktuur. Die opsies is eindeloos! Desray
Lees ook: Praat jy rokke?