Ons het vir drie modekenners gevra waarsonder hul nie kan klaarkom op vakansie nie – daardie eerste vyf mode-items wat hul inpak in hul vakansietasse vir ’n modieuse somersvakansie. Dit is darem nog so ’n paar weke voor vakansie tyd – so sit die items op jou mode-inkopielys en spaar jouself die rondjaag in besige winkelsentrums net voor Kerstyd. Deur Justine Kroes
Voorkomskonsultante en stiliste Simoné Lombard, Susra Matthee en Carissa Bosman deel elk hul gunsteling moet-hê somer-items vir vakansietasse.
Simoné Lombard
Simoné Lombard is ’n stylkenner en voorkomskonsultant – bespreek jou stylanalise met Simoné by simlombardimage@gmail.com en volg haar op Instagram hier.
’n Hoed
Hoekom: Die somerson in Suid-Afrika is genadeloos, so ’n hoed en sonskerm is van kardinale belang. Die regte hoed kan enige uitrusting mooi afrond sonder enige ekstra moeite.
Moon bag/Fannypack/ klein sorglose handsak.
Dit is klein en lig om rond te dra. Dit sal jou twee keer laat dink of jy werklik iets nodig het voor jy dit inpak. Minder moeite is ’n moet op vakansie!
’n Rok(kie)
’n Tuniek-styl-rok is ’n goeie staatmaker. Kies ’n rok met ’n kraag, en rol die moue op. Jy sal binne sekondes meer afgerond en stylvol lyk. Afhangend van jou bykomstighede kan die rok maklik aangetrek word strand toe en later na ’n restaurant toe.
Wit kraaghemp
Dis ’n stapel. Dit kan maklik oor ’n swembroek aangetrek word en pas feitlik by enige onderstuk.
Sandale
Sandale is gemaklik en prakties. ʼn Neutrale kleur sandaal (swart, wit, bruin) is ʼn goeie keuse omdat dit by enige uitrusting sal pas.
Susra Matthee
Susra Matthee, voormalige moderedakteur en nou persoonlike voorkomskonsultant deel haar top vyf somervakansie mode-items. Volg vir Susra hier op Instagram of besoek haar webtuiste om ’n konsultasie te bespreek.
Neutrale sandale
Indien jy net een paar skoene inpak, .maak seker dit is een wat by alles gaan pas. Vir my is dit ’n neutrale kleur of swart as dit by skoene kom. My derde paar wat ek pak is my luiperddruk sandale van Sweet Peas Handmade wat ook by byna by alles pas. Luiperddruk is een van die patrone wat nooit uit die mode gaan nie en kan enige tyd van die jaar gedra word (al dink party mense dit is ’n winterpatroon – dit is nie!)
Denimbaadjie
Die somerstapelbaadjie wat in almal se kas moet wees. Ek dra dit saam met al my someritems, behalwe my jeans.
Wit hemprok
Ek is so lief vir die wit hemprok, dat ek baie bang is ek gaan dit opdra! ’n Hemprok is tydloos en wit is altyd ’n wenner vir daardie bruin songesoende somerlywe. Die informele styl is boonop perfek vir see-vakansies.
Baseball cap
Gewoonlik is dit net ek en my strooihoed. Maar vanjaar pak ek my nuut aangeskafte baseball cap ook in. Dit is dié hoed vir Somer 2021. Ek is mal oor die vlootblou en die idee dat dit ’n Yankees en “regte”bofbalkeps is.
Ginghamstyl handsak
Gingham is een van die gewildste patrone vir Somer 2021. Ek is mal oor die die speelse gevoel wat dit verskaf. Ek het altyd my swart Eden & Co skouersak by my. Maar vanjaar gaan ek dit afwissel met dié oulike sakkie van Poetry. Ek het gedink dit gaan my pla dat ek dit nie oor my skouer kan gooi nie, maar dit is eintlik baie gemaklik om my arm!
Carrissa Bosman
Carissa Bosman is ‘n bekende stilis, grimeerkunstenaar en voorkomskonsultant. Volg vir Carissa op Instagram hier.
Vakansie is vir my n tyd waar ek wil mooi lyk – maar met min moeite! Ek sorg dan dat ek voor die vakansie afskop van kop tot tone “gegroom” is met nuwe naels, wimpers, wenkbroue en hare. So kan jy opstaan en selfs sonder grimering lyk jy gereed gereed vir die vakansiedag. Om seker te maak ek lyk altyd stylvol en gemaklik is hierdie my 5 moet-hê mode-items:
’n Mooi volswembroek
Daar is die mooiste volswembroeke in die winkels hierdie seisoen en jy kan dit sommer aantrek as ’n “bodysuit” onder ’n kortbroek, romp of selfs jou denim. Dis ook vir my ’n lekker item vir ’n aktiewe strandvakansie, want jy kan meer gemaklik swem in die see of speel op die sand.
Koel en stylvolle somersrokkie:
Waneer dit baie warm raak en ek wil net gemaklik voel en ook mooi lyk, is ek mal oor ’n mooi rokkie. Een wat net lig en koel is en maklik is om aan te trek maar steeds stylvol bly!
Groot, gemaklike strandsak
’n Sak wat maklik dra en plek het vir al my belangrike stranditems soos my sonroom, ’n leesboek en ’n handdoek.
My sonbril/le
Ek is so lief vir ’n groot modieuse sonbril. Dit verander blitsvinnig jou voorkoms.
Sonhoed
Niemand hou van sonskade nie so ’n hoed is ’n moet! Maar ek is ook mal oor hoe stylvol ’n mooi hoed lyk en die winkels het ook nou ’n groot verskeidenheid.
Lees ook: Uitrustings vir troues en spesiale geleenthede – hier is raad.