Jo Loves
Jo Loves

Die inspirerende storie van Jo Loves

Jo Loves is die bekende Britse parfuummaker Jo Malone se nuwe parfuumreeks. Ons het onlangs hierdie inspirende vrou in Kaapstad ontmoet. Op sestig is sy nie bang om na ’n nuwe kontinent te verhuis en ’n nuwe parfuumreeks die wêreld in te stuur nie. Ten spyte van vele terugslae, inspireer haar passie, dryfkrag en lewenslus ons. Deur Suzanne Kotzé.

14/03/2023

Sinestesie en disleksie is nie ‘disabilities’ nie

“Ek het disleksie en ek kan nie links van regs onderskei nie, en ek kan nie bestuur nie, maar ek kan parfuum maak soos niemand anders in die wêreld nie”, vertel die inspirerende Jo Malone tydens ’n onlangse besoek aan Kaapstad waar sy haar nuwe parfuumreeks Jo Loves (beskikbaar in Arc Store) bekendgestel het.

Saam met Jo Malone in Kaapstad.

Jo Malone vertel dat sy aan sinestesie (waar jy een sintuig deur ’n ander ervaar) ly. “Ek kyk na hierdie vrou se ongelooflike mooi kleurvolle baadjie (sy wys na juweelontwerper Kirsten Goss) en ek sien nie kleur nie, maar ek ruik dit. Ek ruik nartjie, souterige aqua, mango en framboos-skil.

Sommige mense sê dalk dit is ’n ‘disability’, maar ek sien dit as ’n ‘ability’ om anders te dink.”

Jo Malone saam met juweelontwerper Kirsten Goss. Kirsten wat ook lank in Londen gebly het, het Jo Malone nog altyd as ‘n rolmodel gesien.

”Parfuum is kuns vir jou neus.”

Jo Malone

Jo Malone se beginjare

Jo het vanaf ’n baie jong ouderdom (ses of sewe) verlief geraak op parfuum. Sy het agtergekom sy ruik geure, wat anders mense nie kan ruik nie.

Ek en my man Gary het met niks begin nie. Ons het ’n piepklein woonstel gehuur, ons het elke aand op ’n oprol-sponsmatrassie geslaap en geen gordyne gehad nie. In hierdie einste woonstel het Jo ’n masseerbed gesit en ’n velsorgsalon begin. Nadat haar kliënte drie stelle trappe geklim het, en Jo vir hulle ’n gesigbehandeling gegee het, het sy hulle arms masseer met ’n lyfroom wat sy self gemaak het. In haar piepklein kombuisie met drie plastiekbekers (wat sy steeds vandag besit).

Haar kliënte het so baie van die room en geur gehou, dat iemand vir haar gevra het om bad-olie te maak vir partytjiepakkies vir 100 gaste. En hierdie partytjie was soortgelyk aan die Oscars. Niemand het besef hierdie olie word in my klein kombuisie gemaak nie, en binne die eerste maand het 80 van die 100 mense nog bestel. En dit is hoe Jo Malone London begin het. Die bestellings het so ingestroom dat sy vinnig meer as 5 000 bestellings gehad het. “Elke lid van die koninklike familie, rocksterre, akteurs en atkrises wou almal my produkte hê.”

Borskanker

Na ’n paar geweldige suksesvolle jare waartydens Jo Malone London deel geword het van die Estée Lauder groep, was Jo in New York om aan ’n advertensieveldtog te werk toe sy ’n knop in haar bors ontdek, wat toe borskanker is. “Die dokters het vir my gesê ek het nege maande oor om te leef. My seuntjie was toe net twee jaar oud en ek het na hom en my man gekyk en besluit ek gáán hom sien grootword, maak nie saak hoe nie. Ek was een van die eerste vroue wat ’n nuwe soort chemoterapie (danksy die hulp van die Lauder familie) in New York getoets het, waar daar daar vir my gesê is ek sal ‘of doodgaan, of oorleef.’ Na een jaar van gereelde chemoterapie, baie operasies, waartydens ek my hare en my reuksintuig verloor het, het ek gehoor die kanker is weg.” Sonder haar reuksintuig, en na alles wat gebeur het, het sy besluit om Jo Malone London te verlaat. “Dit was geweldig moeilik, want dit was my so deel van my identiteit.”

Die begin van Jo Loves

“Vyf jaar later het ek en my man aan etenstafel gesit, toe ek vir hulle gesê het ek wil weer probeer om parfuum te maak. My seuntjie (toe sewe) het gesê: ‘Mom, call it ‘Jo Loves’ because fragrance just loves you and you love fragrance.’”

Jo het egter baie onseker en angstig gevoel, en Gary het haar weggeneem vir ’n naweek. Nadat sy op die strand gaan stap het en ’n baba pylstert gesien het, het sy besef dat kreatiwiteit aan niemand behoort nie en dat sy moet mimiek wat sy sien. Die wit sand, die water, die kos wat in die restaurant naby kook, en so is haar eerste nuwe fyngeur, Jo Loves Pomelo, gebore.

Jo Loves Pomelo
die Jo Loves reeks is by Arc Store beskikbaar

Dit is die geur van die strand, maar vir my is dit soveel meer. Vir my is die dit geur wat sê ‘jy kan dit weer doen’. Waar ek ook al gegaan het, het ek my met die geur bespuit en almal wou by my weet watter fyngeur ek dra. En dan het ek hulle vertel van Pomelo. Ek het klein botteltjies begin maak en dit weggegee, soos in my beginjare.

Dit was egter nie maklik om weer te begin nie, en ons het gesukkel om die regte sakevennote te kry. Elke week wou ek tou opgooi, maar ons het nie. ’n Maand gelede het ons van Engeland na die Midde-Ooste verhuis en hierdie jaar gaan ek die wêreld vol reis en kyk na ander lande se kulture. En Jo Loves is besig om in al hoe meer lande versprei te word.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
dermastore gunstelinge
Nuutste Dermastore gunstelinge
error: Content is protected !!