Vergeet van 2010’s se stywe denims en potloodrompe saam met ’n oordadige, dramatiese peplum-bostuk. Die middelbeklemtonende (en magie wegsteek) peplum-bostuk is in 2026 meer ongeêrgd en koel en die volume is meer subtiel, terwyl balans belangrik is. So dra jy dit, sonder om te lyk asof jy vasgehak het in die 2010’s. Deur Suzanne Kotzé
Die peplum-bostuk

’n Peplum-bostuk skep die ilussie van ’n uurglasfiguur. Dit het ’n val of volume net onder die bostuk se middellyf, terwyl die boonste deel gewoonlik stywer pas.
Dit werk veral goed om reeds bestaande uurglasfigure te beklemtoon of om balans te skep vir driehoekvormige figure.
Vir peervormige figure is ’n effens korter peplumbostuk of effens langer een ’n goeie keuse, sodat dit nie op die breedste deel van jou bobene eindig nie.
Totsiens 2010’s peplum
Ek ruik sommer my 2010 Michael Kors parfuum en voel hoe my blink swart haksoene my voete druk, terwyl my superstywe ‘skinny jeans’ saam met my pers (!) blink peplum top gedra word.
Vermy
- Stywe materiaal en te veel valle wat kostuum-agtig kan voel
- Blink, goedkoop materiaal
- Stywe broeke of potloodrompe
- Te veel bykomstighede
Hallo 2026-peplum
Wyepyp of meer lospassende broeke


Die broek silhoeëte is vanjaar steeds groter, met wye pype of meer pasgemaakte broeke. Die wyer broeke, (wat amper ’n meer ‘manlike’ gevoel het) kontrasteer goed saam met die peplum-bostuk se vroulike silhoeët en skep saam ’n meer moderne gevoel.
Denim
’n Lospassende denim laat die peplum-bostuk koel lyk, sondat dat dit lyk asof jy te hard probeer.
Mooi monokroom


Uitrustings in een kleur of dieselfde skakerings skep altyd ’n elegante en moeitelose mooi voorkoms.
Peplum kraaghemde

Die kraaghemp is al vir jare lank ’n stapel-item en die peplumweergawe van die kraaghemp laat die staatmaker meer interessant en modieus lyk.
Die materiaal is belangrik

Kies minder styf en blink, en eerder meer natuurlike linne, katoen en selfs fyngebreide truistof.
Minimale bykomstighede

Hou jou bykomstighede minimaal aangesien jou bostuk klaar meer dramaties is.
Peplum-kopies





















