Jy mag dalk bly wees om te lees dat denim nie net vanjaar ’n groot wintertrend was nie, maar een wat oorspoel na die lente en somerseisoene ook. Ons het vir stylkonsultant en kenner van denimstilering, Madeline Rossouw, gevra wat die moet-hê denim items vir die komende seisoen is en hoe om die denim-by-denim-aantrekstyl te bemeester. Alles wat jy moet weet oor denim is hier; Saamgestel deur Justine Kroes
08/09/2023
Denim steeds hoogmode
Madeline Rossouw van Curated Style SA sê “Denim is beslis hier om te bly, denim is eintlik altyd in. Maar veral hierdie seisoen. Ons is regtig bederf met al die opsies en keuses wat tans in die winkels te koop is. Van kortbroeke, rompies, potloodstylrompe, maxi denimrompe en natuurlik al die verskillende broekstyle. Selfs denim skouerbroeke (dungarees), denimrokke en eenstuk pretpakkies (jumpsuits) is oral beskikbaar.
Denim bykomstighede soos handsakke en hoede en skoene is nog ’n manier om hierdie huidige tendens te dra. Sê Madeline.
“Ek glo die denim wenner vir my hierdie seisoen is die lang denimrompe. Dis ’n item waarmee ’n mens soveel uitrustings vir soveel geleenthede bymekaar kan sit. Donkerder weergawes van die rompe vir meer formele uitrustings en ligter weergawes vir ’n gemaklike voorkoms.
Madeline Rossouw
Denim by denim, doen-dit-so:
Denim by denim is nog ’n trend wat vir ’n ruk nog hoogmode sal wees. Madeline sê “Daar is beslis ’n paar moets en moenies wanneer jy denim by denim dra”;
1. Dra verskillende denim wasse bymekaar. Donker op donker en lig op lig lyk nie so mooi in ’n uitrusting soos wat ligter wasse saam met donkerder wasse lyk nie. Die kontras van ligter en donkerder denim wasse gee diepte aan jou uitrusting.
2. Wissel die silhoeëtte van die style wat jy dra om balans te skep in jou denimvoorkoms. As jy “skinny” of noupassende jeans dra, dra dan ’n meer lospassende of oorgrootte hemp of baadjie bo. En andersom. As jou bloes of baadjie meer styfpassend of fitted is – dra ’n mooi wyepyp denim of ’n “mom-jean” daarby.
3. Wees versigtig met bykomstighede. Enige groot gespe (buckle) op jou gordel of serp by jou denim-op-denim-voorkoms skree dadelik “Western”, wat jy natuurlik nie graag wil hê nie. Dink eerder aan bykomstigehede soos ’n paar sagte oorbelle of gekleurde, fyner sandale.
Denim kooplysie vir die lente/somer seisoen
Madeline sê “Bou vir jouself sommer ’n hele somerskapsule uit denim, denim bly veelsydig en is iets wat vir lang jare in jou klerekas gaan hou. Items wat ek tans vir my kliënte aanskaf is:
Ligte denimbaadjie
’n Ligte denimbaadjie uit goeie katoen, jy kan dit dra oor rokke of by ander denim-items.
Denim bloes
’n Denim bloes, is iets wat ek altyd insluit wanneer ek vir kliënte klere koop, partykeer is die denim hemp sag en vroulik, ander kere is die denim hemp ’n donker was met struktuur. Wat ookal jou stylpersoonlikheid – wees gerus, daar is ’n denim hemp daar buite vir jou!
Denim broek
’n Denim broek. Daar is tans ’n verskeidenheid van denim-style – losser, wyepyp of meer noupassende broeke – kies style wat by jou lyftipe werk en wat jy werklik sal dra.
Denimromp
’n Denimromp, soos genoem is dit een van die jaar se mode (en denim) moet-hê’s.
’n Denimrok of eenstuk (jumpsuit)
Beide werk wonderlik gestileer met beige en die silwer (metaalkeur) trend wat ook nou groot mode is.
Stylkenner Madeline Rossouw
Kontak vir Madeline van Curated Style Klik hier. Volg ook vir Madeline op sosiale media hier.