Ons ken die gevoel – jy is so opgewonde vir “date night” maar jy weet nie wat om aan te trek nie. Ons het ’n paar “date night” uitrustingidees bymekaar gesit – gebruik dit as inspirasie vir jou volgende aandjie uit! Deur Justine Kroes
Hou dit in gedagte:
- Waar is die afspraak? Is dit by ’n luukse 5 ster restaurant, ’n fliek uitstappie of ’n piekniek op ’n wynplaas? Onthou om dit in gedagte te hou waneer jy jou uitrusting beplan, dit sal natuurlik bepaal of jy meer of minder formeel moet aantrek.
- Kies gesofistikeerde uitrustings met struktuur vir vir meer formele afsprake, en sagter meer gemaklike silhoeëtte vir minder formele afsprake.
- Balans is belangrik; balanseer jou meer manlike styl-items soos ’n leer biker-baadjie of jou denims met vroulike, sagte elemente soos valle, hoë hakke en juwele.
- Doen moeite; of dit nou jou eerste of 230 857ste afspraak is met jou man van 30 jaar – doen moeite met jou uitrusting, jou hare en jou grimering. Hierdie moeite is nie noodwendig vir jou ander helfte nie maar vir jouself, jy sal verbaas wees hoe goed, postief en selfversekerd dit jou gaan laat voel.
- Die belangrikste – wees gemaklik in dit wat jy dra, as jy ongemaklik voel gaan jy ongemaklik lyk en dit mag dalk net die verkeerde boodskap stuur.
4 “Date night” uitrusting-idees
1. Wit T-hemp, sloopromp en goue bykomstighede
’n Wit T-hemp is ’n staatmakeritem in enige vrou se klerekas. Pssst maak net seker jy koop elke seisoen ’n nuwe een – kraakvars wit is soveel meer stylvol as uitgewas en geel. Dra dit by ’n syerige sloopromp, een wat by jou stylpersoonlikheid pas. Kies iets in kleur, ’n deftige patroon, selfs swart is ’n goeie keuse. Die sy- of satynstyl romp skep ’n sagte maar steeds sexy voorkoms.
Wenk – Ons weet satyn bo oor magies en boude is nie altyd die vleiendste materiaal nie. As jy huiwerig is vir so ’n sloopromp – dra gerus vormdrag onder jou romp– dit sal die voutjies en rolletjies versag en jou meer selfversekerd laat voel. Glo ons!
Goue juwele rond die uitrusting af met ’n luukse gevoel.
Jy kan natuurlik hierdie uitrusting dra met aanglipskoene, sandale of tekkies vir ’n meer gemaklike dag- afspraak.

T-hemp: Zara Basic Cotton T-Shirt (R209); Romp: Zara Satin Finish Midi Skirt (R799); Oorbelle: Mango Twisted Hoop Earrings (R299); Halssnoer: Mango Link Necklace Gold (R499); Handsak: Zara Quilted Shoulder Bag with Chain (R529); Skoene: Tread & Miller Lila Leather Heel (R1099)
2. Romantiese bloes, jeans en mooi handsak
Balans is belangrik – ja jy kan jou denims dra op jou “date night” maar maak seker jy dra nie ’n T-hemp styl bloes daarby nie. Jy kan ook ‘n wye-pyp denim kies vir ‘n meer trendy denimvoorkoms.
Versag jou denimvoorkoms met ’n mooi romantiese bloes. Dalk een met ’n pofmou, ’n mooi patroon, ’n oop rug of selfs romantiese valle en kant.
Bykomstighede hierby hoef nie vervelig te wees nie – kies moderne items, met kleur vir ’n trendy voorkoms.

Bloes: Zara Printed Top (R699); Denim: Forever New Babyboot Jean (R1099); Oorbelle: Lovisa Gold Plated Earrings (R160); Handsak: Superbalist Cindy Clutch Bag (R399); Skoene: Country Road Carolyn Kitten Heel (R1299)
3. Helder rok, hakskoene en oorbelle
Vir ’n meer formele aand uit sal jy nooit verkeerd gaan met ’n vleiende romantiese rok, hakskoene en ’n paar oorbelle wat ’n stelling maak nie. Hou vir ‘n slag jou swart nommer agter in jou kas en kies iets in ‘n kleur wat jou gelukkig maak!
Jy kan altyd weer jou romantiese rok meer gemaklik dra met tekkies of sandale daarby vir ’n piekniekafspraak.

Rok: Forever New Alyssia Arrow Midi Dress (R1599); Oorbelle: Zara Multicolored Glass Earrings (R339); Handsak: Mango cord envelope purse (R299); Skoene: Witchery Alana Leather Heel (R1499)
4. ’n Bypassende pak of stel
Een van die afgelope seisoen se grootste trends – die bypassende pak of romp en bo-stuk stel. Ons is groot aanhangers van hierdie veelsydige modegier omdat jy jou bo en onderstukke apart ook kan dra. So kry jy meer uitrustingopsies as byvoorbeeld net ’n rok.
Dra jou broek/romp van jou stel by ’n wit T-hemp en sandale vir ’n gemaklike voorkoms of dra jou bostuk by jou denims vir ’n totale ander uitrusting. Die stylkombinasies is eindeloos!
Simplistiese bykomstighede, handsak en skoene is ’n goeie opsie om nie te veel aandag weg te trek van jou mooi tweestuk-uitrusting nie.

Baadjie: Forever New Meave BF Blazer (R1399); Broek: Forever New Belted Suit Shorts (R799); Bloes: Forever New Nina Strappy One Shoulder Top (R499); Halssnoer: Zara Bead Necklaces (R339); Handsak: Scarlett Crossbody Bag Natural (R399 Superbalist); Skoene: Witchery Abby Raffia Wedge (R1199)