Ons is winkels toe om rokke te gaan soek en raak toe verlief op bypassende rompe en bostukke. Dit is maklik om te sien waarom bypassend steeds so groot trend is. Hier is wat ons raakgesien het. Deur Suzanne Kotzé
Bypassende rompe en bostukke is beslis van die veelsydigste kopies wat jy kan maak. Dit is nie verniet die afgelope ruk ’n groot trend nie. Nie net met rompe en bostukke nie, maar ook ontspanningsdrag, en broeke en hempe en selfs gebreide items ook. Die meng en pas opsie sorg beslis dat hierdie items hard werk in jou klerekas.

Bypassende rompe en bo-stukke
Die sjiek dieremotief swart-en-wit romp en bostuk.

Ek het dadelik ’n foto van hierdie stel geneem en vir Justine gestuur met die woorde, “kyk hoe stylvol!” Ek oorweeg dit sterk om hierdie een te hou! Die bostuk is net effens korter as die langer bostukke wat ek gewoonlik verkies. Ek sal dit by ander rompe dra, maar nie noodwendig my my jeans nie. Ek sal beslis die romp met ’n T-hemp, my denimbaadjie en tekkies ook dra.
Geruite romp en kort bostuk
Die geruite romp en kort bostuk laat my aan sonnige somersdae dink. Piekniek, yskoue drankies, glimlaggende gesigte en hare wat liggies in die wind waai. Die romp sal ook pragtig lyk met ’n wit T-hemp en plakkies of wighakke en ’n wit kraaghemp kantoor toe.


Fyn blompatroon romp en dunbandjie bostuk
Hierdie bostuk is beslis vir dié met mooi skouers en arms. Moenie bang wees om die vloeiende lyn en vroulike blompatroon te konstrasteer met ’n effense rock chic voorkoms nie. ’n Leerbaadjie en trekkerbandstewels of swart bonkige vissermanstylsandale voltooi die prentjie.

