Soos die weer al hoe warmer word, raak dit nou tyd om jou pantoffels te verruil vir ’n paar mooi somersandale. Hierdie ses moet-hê sandale vir die somer is op ons wenslysie:
Justine kies:
1. Jelliesandale
Hierdie sandale neem my sommer reguit terug na my kinderdae toe – het jy ook daardie jelliesandale gedra? Die Crystal Jelly Sandals van Witchery (R399) is hoog bo aan my wenslysie – ek koop byna elke somer ’n paar “t-bar” sandale – die wat soos ’n “T” lyk aan my voet. Ek het breë voete en vind hierdie tipe sandaal laat my voet slanker vertoon.
2. Aanglipsandale
Hierdie pragtige pastelkleurige sandale van Mr Price (R59,99) is so lig soos ’n veertjie. So lekker om aan te glip en af te stap strand toe. Ek is nie lief vir kaalvoet loop nie, so ek dink hierdie sandale gaan perfek werk op die strand oor harde klippies en skulpies. Beskikbaar in pienk, geel, groen en pers.
3. Neutrale sandale
Ek is altyd op soek na ’n paar neutrale sandale, maar met bietjie van ’n verskil. Hierdie SweetPeas Handmade Two Tone Caprice-sandale (R699) doen net dit. Die kruis van twee verskillende bandjies bo oor my voet is so vleiend vir my breë voete en die patroon is net so trendy!
Suzanne kies:
4. Geweefde leer
Ek is gaande oor die geweefde leer voorkant van die Whitney Flat sandale (R1299, Country Road). Die gaatjies tussen-in sal help dat my voete nie te warm word nie. Dit steek ook sommer toonnaels wat dalk nie perfek geverf is nie weg.
5. ‘Lelike’ platform sandale
Ek hoor sommer hoe sê my pa dat hierdie Henley Black sandale (R999, Steve Madden) ‘mooi van lelikgeit’ is. Dit herhinner my beslis aan die ‘lelike’ sandale wat ek as jong tiener in die negentigs gedra het. Dit sal beslis enige vervelige ‘mamma’-uitrusting bietjie koeler laat lyk
6. Sagte espadrille sandale
Hierdie sagte leer espadrille-styl Chachisa sandale (R1099, Tsonga) is die ideale aanglip- skoene vir elke dag. Ek het lank gelede ook die wenk gekry dat skoene in hierdie neutrale skakerings meer verslankend is vir jou bene.
Watter sandale van 1 tot 6 is jou gunsteling?
Lees ook meer oor Ons gunsteling oorbelle – alles plasslik vervaardig