Verlede jaar het gemak en slenterdrag weens inperking die modewêreld behoorlik oorgeneem, vanjaar is dit die Athflow tendens wat groot nuus is. Soos gemakdrag maar ’n tikkie meer luuks, dankie tog want ons het byna depressief begin geraak in ons slonsige slenterdrag! Deur Justine Kroes
Wat is Athflow?
Die terme Athflow is deur Pinterest for business geïdentifiseer as een van die grootste trends vir 2021. Die woord selfverduidelik die trend “Ath” afkomstig van “athleisure” en “flow” die fokus op meer gemaklike “flowy” kledingstukke.
Pinterest verduidelik die trend so, “Athflow is waar gemakdrag (athleisure) en elegansie mekaar ontmoet, vloeiende, lospassende broeke, gemaklike eenstukke en oorgroot silhoeëtte sal atletiese klere vervang.”
Volgens Pinterest se data deel hul 5 van die top modesoektogte, naamlik
- “Huisrokke (house dress)”;
- “Oorgroot uitrustings”;
- “Sagte uitrustings”;
- “Katoen-eenstukke (jumpsuits)”; en
- “Bypassende stelle”.
Hoe verskil Athflow en gemakdrag?
Hoewel dit baie klink na die slenterdrag waaraan ons gewoond is, is die groot verskil ’n meer gepoleerde, sjiek en gesofistikeerde gemakdrag voorkoms.
Met die Athflow trend is die klere gemaak van sagte en rekbare materiale en vesels, en die ontwerpe is gewoonlik bypassende stelle, netjies, goed beplan en mooi afgerond.
Ons sien die tendens amper as ’n kombinasie van trends, iewers tussen die slons/slenterdrag van die eerste inperking (daardie uitrustings waarmee jy nie sommer in die openbaar sou verskyn nie) en aan die ander kant is jy nog nie reg om die uitrustings te dra wat jy “pre-pandemie” gedra het nie. Athflow val mooi tussen die twee uiterstes.
Wenke vir ’n Athflow voorkoms
- Kies klere items in effens meer luukse en sagte teksture. ’n Wyepyp broek in satyn of saggeweefde rekbare materiaal met ’n rek om die middel byvoorbeeld.
- Die truuk is om te “layer”, veral gedurende die winter, kies ’n sjiek oorvoujas of selfs ’n langer oopknooptrui om oor jou gemakdrag uitrusting aan te gooi, wat dadelik die hele uitrusting verhef.
- Kies tekkies of stewels met ’n tikkie meer hoogte, dog nie naastenby so hoog soos die hakke wat ons voorheen gedra het nie. Dra selfs bonkige stewels of brogues by jou Athflow uitrusting.
- ’n Bypassende stel is ’n moet, ’n veelsydige kopie omdat jy elk van die items op hul eie ook kan dra.
- ’n Gemaklike eenstuk, ja ons weet, nie almal kan eenstukke dra nie, jy is of te lank of te kort. Maar moet nie moed opgee nie – hou aan aanpas, eendag sal jy die regte eenstuk vir jou liggaamsbou vind!
- Huisrok, is een van die gewildste woorde wat Pinterest se lysie gemaak het. Gemaklike, lospassende truirokke met netjiese afwerkings wat steeds aan die Athflow trend se vereistes voldoen.
- Bykomstighede soos oorringe, handsakke met metaalafwerkings, gestapelde hangertjies of syserpies om jou nek neem dadelik jou uitrusting van huis na werk-sjiek!
Hier is ‘n paar gunstelinge wat ons nou wil dra!
Lees ook: Oorbelle: die gestapelde oorring-trend