asblonde charlies Junior Louw
asblonde charlies Junior Louw

Asblond bo

Vergeet van vervelig en vaal; asblond is bo in 2022. Charles-Junior Louw deel sy nuwe As-versameling met ons en gee wenke oor hoe jy die kleur kan dra. Deur Suzanne Kotzé

11-03-2022

Fotograaf: S.J de Villiers, grimering Andrea van den Houten

Asblond

Muisvaal, konserwatief, effens vervelig, dit is hoe ons gewoonlik aan asblonde hare dink. Maar nie meer nie, asblond kraai nou koningin en word as díé blonde-skakering van 2022 gesien.

Die koel, koel kleur skep terselfdertyd die gevoel van onkonvensionaliteit, maar dan in kontras ook konserwatief. So asof jy ’n veer voel vir wat ander van jou dink.

Maar eers meer oor die pryswennerhaarstilis Charles-Junior Louw.

Kaapse haarkapper, Charles-Junior Louw is alombekend onder blondines as ‘díé blonde haarstilis’ om by uit te kom. Junior (soos hy verkies om genoem te word) was immers in 2020 die eerste Suid-Afrikaner wat by Wella se International TrendVision (ITVA) toekennings die gesogte Creative Artist of the Year gewen het. In 2021 het hy die plaaslike Wella TrendVision Colour Artist of the Year gewen. In 2022 het hy nog ’n internasionale toekenning ingepalm, dié keer as Most Creative Hairstylist of the year. Nog ’n eerste vir ’n Suid-Afrikaner om te wen. Hy is tans op die kortlys vir Wella ITVA 2021 

Die inspirasie agter die As-versameling

Model Gisela Calitz

“Gedurende die winter in Antarktika is die lug en ondertone blou, terwyl dit gedurende die somer grys is. Die gryserige skakerings van die sneeu, die omgewing en die klipperige landskap, was die gevoel wat ek met die kleur van my As-versameling wou vasvang,” vertel Charles-Junior Louw. En as jy dink aan dowwe, mat klippe wat effens blink soos die sneeu daarop smelt, is dit presies ook wat Junior vasgevang het met die kleur in sy versameling.

Model: Karien du Preez

“Al die sestigerjare se tipe skakerings is nou besig om weer terug te kom. Dit was vervelige mat kleure, maar die moderne twist is dat die mat gekontrasteer word met blink.

Model: Jamie-lee Roberts

Die kontras tussen mat, as en platinum se koue blink gee nuwe lewe aan die gewone eens vervelige kleur.

Is asblond vir jou?

Model: Sharné Calista Gouws

Kyk na jou klerekas en die kleure wat jy graag dra. Verkies jy posbusrooi bo tamatie-rooi? Hou jy van koel kleure soos grys, wit en blou? Dan sal hierdie koel skakerings van asblond waarskynlik ook by jou gelaat pas. Maar jou haarstilis sal ook vir jou kan sê.

Warm ondertone en oogkleure soos bruin, hasel, of bruin tot geel of groenbruin werk die beste saam met die koel as-skakerings.

Jou natuurlike ondertoon

Onthou as jy rooierige pigment in jou hare het, kan dit geel word in die proses en sal meer tyd en geduld verg. “Ek vind egter oor die algemeen dat mense met rooi pigment in hulle hare, koue ondertone het, en saam met koue ondertone kan die asblond jou te bleek en uitgewas laat lyk”maan Junior.

Donker na lig

Onthou as jy van donker na lig gaan, is dit altyd beter om dit eerder oor ’n paar weke te doen. Moenie oorhaastig met die proses wees nie en luister na jou haarstilis.

Tuissorg

’n Professionele pers sjampoe is ’n moet om die blou ondertone van jou askleur koud te hou (dit keer dat jou hare te warm/geel lyk). Onthou egter om dit af te wissel met sjampoe wat hidreer, want die bleikproses kan jou hare droog en breekbaar laat.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
selfverbruininng
Selfverbruining: 10 foute wat jy maak
error: Content is protected !!