Aandag aan al die onderwysers daar buite! Hier is 5 moet hê klere-items wat jou sal help om in ’n japtrap aan te trek en stylvol te lyk. Die items kan as ‘slimkoop’ beskou word. Dis tydlose kledingstukke wat vir jare sal hou en nie uit die mode sal gaan nie. Perfek vir die onderwysbeursie. Deur Simoné Lombard (Simone is ‘n Afrikaans Eerste Addisionele taal onderwyseres by Durban Girls’ College en het onlangs ‘n voorkomskonsultant kursus by SAimage voltooi).
1. Gemaklike skoene
Nommer een, en die belangrikste items in enige onderwyser se kleredrag arsenaal, is gemaklike skoene. Dis meer as ʼn bykomstigheid, eerder ʼn noodsaaklikheid.
Hou die volgende in gedagte wanneer jy jou volgende paar skoene koop.
- Die skoen moenie net-net pas nie, dit moet behoorlik pas. Die verkeerde nommer/snit skoen kan baie negatiewe gevolge vir jou lang- en korttermyn-gesondheid hê.
- Die skoen moet op die een of ander manier met ʼn bandjie of ʼn veter vasgemaak kan word.
- Oorweeg ʼn skoen met ʼn hak tussen 20-40mm.
Hier volg ʼn paar gunstelingvoorbeelde:
Tekkies; by die regte broek en baadjie of selfs ʼn romp, sal jy steeds professioneel lyk.
Skoene met ʼn punt; dit skep ʼn formeler voorkoms en laat jou voete en enkels slank lyk.
Hofskoene; (soos jou ma dit sal noem) met ’n klein hakkie.
Loafers/Oxford-skoene; Dis gemaklik, en netjies.
Sandale; Netjiese sandale, gepas vir werk.
Wenk: Bly by neutrale kleure; dis tydloos en meer veelsydig.

2. Sakepakkie
Hoekom nie? Onderwys is ʼn professionele beroep en verdien dieselfde aandag as ander 4-jaar grade.
Jy kan met die kleur, patroon, teksture en selfs materiaal speel om by jóu persoonlikheid te pas.
Dit hoef nie ʼn stywe/formele affêre te wees nie. Stileer jou pakkie met jou gunsteling T-hemp en tekkies vir ʼn Vrydaggevoel.
Simoné Lombard
Wenk: Jou baadjie moet nie op die grootse deel van jou liggaam (bv. jou boude) eindig nie.
3. Oorvourok
’n Mooi oorvourok wat net bo of onder die knie sit is ook deel van die onderwysers se 5 moet hê klere-items. Onthou as die “drie vinger”-lengte konsep vir jou leerders tel, moet dit vir jou ook tel. Hoekom ’n oorvourok? Dis vleiend vir die meeste ligaamsoorte. Gedurende die wintermaande kan jy ’n rolnektrui onder die rok aantrek sonder om die vorm van die rok te verloor. Gooi jou gunstelingstewels en jas daarby en voila!
Wenk: Oorvourokke kan jou maklik in die verleentheid stel as die wind begin waai. Hou dus altyd ’n haakspeld byderhand om die los gedeeltes vas te steek.
4. Denim
Jeans kan jou baie maklik soos ’n proefstudent laat lyk. Hou dus die 80/20% konsep in gedagte. (80% formeel en 20% informeel)
Donker jeans is meer formeel, so belê in ’n donkerblou of swart paar en maak seker dat dit jou goed pas. Die res van jou uitrusting moet dan egter netjies wees, so dink netjiese skoene, bloes en selfs ’n baadjie.
Simoné Lombard
Wenk: Wanneer jy ’n denim koop, beweeg so veel as moontlik in die jeans. Doen ’n ‘bend and snap’ of selfs ’n paar hurke om te sien hoe die jeans beweeg.

5. Die regte bloes/hemp
Die meeste van ons kry koue rillings wanneer ons die woord ‘bloes’ hoor, maar moenie deur die woord afgesit word nie. Daar is baie moderne en trendy alternatiewe. Daar is bekostigbare items, jy kan dus met verskillende kleure en patrone speel.
Die regte bloes kan maklik deel van jou naweekuitrustings en werksdrag vorm.
Wenk: Toeknoopbloese is meer formeel en dus beter vir werk , en net soos die oorvourok is oorvoubloese ook vleiend vir die meeste liggaamsoorte.
Lees ook: Stiliste se top truuks
Kontak vir Simoné Lombard hier vir meer van haar kundige voorkomskonsultant advies.