9 winter-modebykomstighede trends wat dadelik ons aandag gesteel het. Of jy nou handskoene, ’n gordel of borsspelde verkies, hier is iets vir jou! Ons deel met jou die top 9 winter-modebykomstighede op ons stylradar wat jou doodgewone uitrusting na ’n 10/10 uitrusting sal omtower. Deur Justine Kroes
Die maklikste manier om met min moeite modieus te lyk (en te lyk sof jy weet wat in die modewêreld aangaan) is om met jou bykomstighede te eksperimenteer. Dit is ook ’n lekker sakpas manier om in die modekollig te bly.
9 Winter-modebykomstighede om nou te probeer:
1. Gordels wat ’n stelling maak
’n Gordel bly een van daardie modebykomstighede wat die krag het om ’n hele uitrusting te transformeer. Dit definieer nie net jou middel nie, maar bied ook ’n gepoleerde, netjiese, sjiek en afgeronde voorkoms.

Hierdie seisoen is dit die fokus op gordels wat aandag trek – van ketting-gordels tot groot gespes en selfs ’n hele klompie gordels onder mekaar af om jou middel gestapel.

Nog ’n manier waarop gordels gestileer word vir die winter is bo-oor jou baadjie of wintersjas. Ons hou natuurlik hiervan, dit gee lekker definisie aan ’n oorgroot baadjie of wintersjas en is boonop ’n eenvoudige manier om tekstuur by jou uitrusting te voeg.
2. Leer handskoene

Hierdie trend mag dalk nie nuut uit die boks wees nie, maar beslis ’n trend wat ons weer kan volg. Sjiek leer (of kunsleer) handskoene is tans in, vanaf swart, bruin, wynrooi en selfs roomskakerings is groot nuus.
Stileer dit by jou jasse of truie vir ’n gepoleerde “stille luuksheid” modevoorkoms.
Psst, maak seker jy koop die handskoene met “slim” vingerpunte. Hierdie handskoene is so ontwerp dat jy steeds jou slimfoon en raakrekenaars kan beheer met jou handskoene aan.
3. Borsspelde

Maar ook nie jou Ouma se tipe borspelde nie, dink aan blink, met interessante sterk ontwerpe.
Borsspelde is terug en ons is opgewonde oor dié een! Van klein na reuse oorgroot borsspelde is dit tyd dat daar weer iets interessants op jou borskas pryk.


Die 2026 manier om jou borsspeld te stileer: Stapel sommer so ’n klomp borsspelde bymekaar op jou lapel vir ’n meer modieuse benadering tot hierdie trend.
4. Hoede
Snoesige hoede, van berets, pilboks-styl hoede en kunspels mussies is hierdie winter op die gunsteling lysie.
In die Kaap red ’n winterhoed ons gereeld van slegte haardae weens hare wat kroes in die reënweer.
Wenk: Indien jou hoed meer bonkig is, dra dit by minimalistiese uitrustings met struktuur. En as jou hoed soos ’n pilboks-styl hoed byvoorbeeld meer struktuur het, kan jou uitrusting steeds gepoleerd maar ook gemaklik lyk. Onthou om altyd jou uitrusting te balanseer van kop tot tone!
5. Reuse ornamentagtige oorbelle

Staan opsy minimalistiese juwele, die maksimalistiese oorbelle is hier om te bly. Die oorgroot oorbelontwerpe vervang vanjaar die delikate en fyner juwele van vorige seisoene.

Dra dit met netjies teruggekamde hare (slick wet look), ’n polonektrui of ’n kraakvars wit kraaghemp om die fokus op die oorbelle te hou.
6. Oorgroot sonbrille
Die retro modetrend van die somer het oorgespoel na die winter en oorgroot vorms en unieke kleurlense bly steeds groot nuus.

Sonbrille met metaalrame, ligte lense en skilpaddopontwerpe is nou gewild.
Wenk: Hou jou klerekas in gedagte wanneer jy jou sonbril se skakering kies. Dit mag dalk ’n goeie idee wees om warmkleurige (bruin) lense te kies om jou winter palette te komplementeer.
7. Bonkige armbande

Hierdie bykomstigheidstendens volg ook aan nadat dit die somer ’n gewilde keuse was onder modekenners. Plastiek of harstipe ontwerpe lyk veral sjiek.
Wenk: Dra dit gestapel bo-oor die mou van jou trui of kraaghemp.
8. Kunspels serpe (Faux fur scarfs)

Snoesig en so stylvol, ‘n kunspels serp bly nou maar een bykomstigheid wat dadelik jou uitrusting sal verhef en sjiek afrond. Hierdie seisoen is die kunspels serp dramaties en oorgroot – dink aan Italiaanse glans!


Dra dit om jou nek of drapeer ‘n groter een bo-oor jou jas of blazer met struktuur. Hou die res van jou uitrusting minimalisties en skoon sodat die tekstuur al die praatwerk doen.
Hierdie is die perfekte alternatief vir die wat graag die kunspels trend wil dra vir die winter maar nie kans sien om ’n reuse kunspelsjas te dra nie.
9. Langer halssnoer

Die “pendant necklace” of langer halssnoer is hierdie winter die nekversiering op modekenners se moet-dra lysie.
Dra jou halsnoer in “lae” bo oor jou polonektrui en onder jou kraaghemp. Hierdie halssnoer styl bly ’n vleiende keuse omdat dit die oë vertikaal laat beweeg.


























