Trek jy oor en oor dieselfde klere aan? Of vind jy dat jy herhaaldelik gryp na dieselfde klerekombinasies? Dit gebeur soms met ons ook, jy voel ongeïnspireerd deur jou klerekas, selfs al is daar ’n magdom unieke kombinasies in jou kas.
’n Modekenner deel haar beste wenke om jou klerekas vars en interessant te hou. Saamgestel deur Justine Kroes
9 Wenke om nie verveeld te raak met jou klerekas nie
Voorkomskonsultant en stylkenner Susra Matthee van @susra_matthee_image_consulting (op Instagram) deel haar topwenke:
1. Herrangskik jou klerekas.
Susra sê “Dink nuut oor hoe jy jou klere ophang. Ek hang my klere in kleure en skakerings bymekaar. En wissel dit dan om item by item te hang (broeke by broeke) byvoorbeeld”.

Hier’s hoekom dit handig is:
Dit maak dit vinniger en makliker om uitrustings te kies.
Jou kas lyk netjieser en meer georganiseerd.
Jy sien dadelik watter kleure jy het en waarvan jy dalk te veel of te min het.
Dit help jou om nuwe kombinasies te skep, omdat jy kleure makliker kan vergelyk.

2. Hang klere op ’n klerereling
Een van my gunstelingwenke is om ’n “rail” (klerereling) waarop jy klere hang, in jou kamer te sit, hang klere wat jy lanklaas gedra het op die klerereling om nie daarvaan te vergeet nie.
Of jy kan natuurlik soos David Beckham maak en al jou uitrustings vir die week vooruit beplan en daarop hang, vertel Susra.

Dit vergemaklik jou aantrekproses en forseer jou om ’n slag te dink oor dit wat jy gaan aantrek en moeite te doen met beplanning.
3. Gebruik die “een in, een uit” reël
Gaan jou kas gereeld na en verkoop of skenk daardie klere-items wat jy weet jy glad nie meer dra nie.
Ek glo aan die een-in-een-uit reël, vertel Susra. Wanneer jy ’n nuwe kledingstuk koop, moet jy ’n ou kledingstuk laat gaan. Hierdie konsep keer dat jou klerekas oorvol raak. Onthou klere moet “huurspasie” in jou kas betaal. Indien dit nie gedra word nie, behoort dit nie daar te wees nie.

Dit is wanneer jou kas so vreeslik oorvol is dat jy sukkel om items te vind om aan te trek. Jy dra dan net daardie paar items wat jy vinnig en maklik kan bykom.
Yaga is ’n wonderlike aanlynplatform om al jou ou klere te verkoop.
4. Bou aan jou kapsuleklerekas
Indien jy nog nie het nie, is dit dalk ’n goeie idee om te begin bou aan ’n kapsuleklerekas (capsule wardrobe). Die capsule wardrobe is ’n sinvolle, sakpas en tydspaar-metode van klere-inkopies doen vir ’n meer volhoubare en veelsydige klerekas. Die idee is om te belê in ’n paar staatmakeritems waarmee jy maklik kan meng en pas vir eindelose stylopsies en uitrustings.

Skep jou eie mini-capsule wardrobe: Kies ’n paar basiese, neutrale items wat jy maklik met alles kan meng. Hierdie kernitems hou jou styl vars en gee eindelose kombinasies.
Jy kan nog steeds elke seisoen iets opwindends, moois of trendy koop om seker te maak jy raak nie te verveeld en oormoeg vir jou kapsuleklerekas nie, is Susra se raad.
5. Hou seisoene apart
Indien jy kan, hou jou klere vir die verskillende seisoene apart. Pak winterklere weg in die somer, en weer anders om waaneer die seisoen draai.
Hierdie wegpaktruuk laat jou kas ligter en minder oorweldigend voel. Dit laat jou toe om dit wat jy het vir daardie seisoen ten volle kan benut.
6. Vermy ’n “uniform”
Maak seker jy het nie ’n uniform nie (jy trek elke keer dieselfde kombinasies aan). “Wissel jou klere af, en pas jou klere op verskillende maniere aan, neem fotos van die kombinasies waarvan jy hou om te onthou om dit weer so te dra.
Jy kan natuurlik ook idees kry op Pinterest of volg stylkenners of mense wie se styl jou inspireer op Instagram vir nog idees, verduidelik Susra.
7. Gebruik bykomstighede slim
’n Eenvoudige ‘basis-uitrusting’ (base outfit) kan elke keer anders lyk met verskillende skoene, gordels of serpe daarby.
Maak seker jy rangskik jou bykomstighede netjies sodat jy nie daarvan vergeet nie.

8. Roteer jou uitrustings
Hang klere wat jy onlangs gedra het effens na agter in jou kas. Op dié manier gryp jy nie elke keer dieselfde top of broek nie, en jy kry kans om ander items weer uit te haal. Indien jy ’n item heeltyd oorslaan, is dit dalk tyd om daardie item te laat gaan.

9. Vetrou jou mode intuïsie
Susra sê “vertrou daardie gut feeling wat jy kry as iets jou pla van ’n kledingstuk, jy weet, daardie item wat jy nooit wil dra nie, en jy weet nie eintlik hoekom nie. Laat dit eerder gaan, die snit of kleur pas jou heel moontlik nie. Ek hoor gereeld na ’n konsultasie dan sê ’n klient “nou weet ek hoekom ek nooit daardie item dra nie!”.

Deur jou kas georganiseerd te hou en slim reëls te volg, sal dit voel asof jy altyd iets nuuts het om aan te trek – sonder die behoefte om elke maand te gaan mode-inkopies doen.





