Tekkies bly veelsydige aankope vir jou klerekas, ’n skoenstyl wat gemaklik maar ook meer netjies en gepoleerd gestileer kan word.
Ingeval jy wonder watter tekkie/sneaker-style tans in die mode is, is hierdie artikel vir jou. Hier’s 9 van vanjaar se top tekkie-trends op ons stylradar: Deur Justine Kroes
1. “Air” tekkies
Totsiens aan die bonkige “chunky sneaker” en hallo aan die nuwe gunsteling, die “air” tekkie. “Air” verwys na ’n ultra ligte en fyn tekkie met ’n nouer ontwerp en skaars-daar sole.

Gesien op 2026 mode loopplanke by ontwerpers Celine, Prada en Dries van Noten.
Stileerwenk: Kombineer jou ultradun en fyn “air” tekkie by jasse en wyepyp broeke vir ’n gepoleerde wintervoorkoms.
2. Sneakerinas

Ook bekend as die “ballet & sneaker hybrid”. Dink aan hierdie tekkiestyl as ’n balletskoen met veters of bandjies, die styl het ’n ronde voorpunt, en is gewoonlik sag en gemaklik. Soos ’n Mary Jane skoen, maar die tekkie weergawe daarvan.

Stileerwenk: Dra by rokke, rompe en gebreide truie vir kontras. Lyk klassiek sjiek by jou trench-styl jas.

Indien jy ’n nog meer vroulike weergawe van die sneakerina verkies, is die satyn sneaker of sneakerina ook nou ’n gewilde skoenkeuse.
3. Retro tekkies

Retro tekkiestyle verwys terug na die hardloopskoene van die 70’s en 80’s, met daardie slank, minimalistiese ontwerp. Nie net is hierdie styl gemaklik nie maar ook prakties wat hierdie tekkiestyl ideaal maak vir elke dag se dra.
Helder skakerings is veral gewild.
4. Bruin, teksture en sagte sweedsleer

Tekkies met tekstuur veral tekkies in skakerings van bruin met geweefde versierings en sweedsleer is tans ’n winter gunsteling.

Bruin bly steeds ‘n groot gunsteling vir tekkies, van donker sjokolade bruin tot ligte bruin en sweedsleer kombinasies.
5. Minimalisties wit en skoon (Die nuwe Plimsoll)

Sjiek, g’n fieterjasies of ekstra versierings wit lae profiel tekkie, die terugkeer van die plimsoll tipe tekkie is hier, danksy ontwerpers soos Celine wat ’n vars en moderne weergawe hiervan op die Somer/Lente 2026 loopplanke gedeel het.
’n Handige skoen wat ’n aanwins sal wees tot jou skoenekas heel jaar lank. Leer of seil style is beide gewilde opsies.

Hierdie neutrale tekkie pas byna by enige uitrusting, pakke vir werk, rompe en selfs rokke daarby. Van wit of beige tot iets met ’n helder spatsel kleur bly ’n stylvolle, sjiek tekkiekeuse.
6. Helder skakerings

Hoewel bruin steeds ‘n gewilde tekkie-skakering is word helder skakerings nou al hoe meer gewild. Bont skakerings (die trend word krayola colours genoem) dink aan kobaltblou, groen, rooi en kanariegeel, is veral volop.
Dit mag wel soos ’n oorweldigende besluit voel om ’n tekkie in ’n kleur te kies, want waarby gaan jy dit dra? En moet al die kleure en klere in my uitrusting met my skoene ooreenstem? Die antwoord is nee! Dit is juis die idee agter hierdie kleurtekkie tendens – dra dit as ’n “pop of colour” om ’n doodgewone uitrusting te laat uitstaan.

Stileerwenk: Gebruik jou helder winter tekkie om jou neutrale (beige swart of bruin) uitrustings ’n vars mode-hupstoot te gee. Of as jou stylpersoonlikheid meer dramaties is – gebruik jou helder tekkie om ‘n kleurblok oomblik te geniet teenoor jou helder uitrusting.
7. Skaatsplank-styl tekkies

Duidelike terugblik aan ons Avril Lavigne era – “skater” tekkies is tans weer groot nuus. Dink aan daardie aanglip Vans of Vans Old-Skool styl tekkies gestileer by ’n gemaklike of selfs meer netjies gepoleerde uitrusting. Met pragtige kleuropsies en die mooiste ontwerpe heroorweeg ons self hierdie tekkie-styl vir ons eie skoenekas.

Daar is ook ’n hele klomp skater-styl skoene wat met bekende ontwerpers ’n reeks vrygestel het, wat natuurlik verder hierdie skoenstyl se gewildheid aanhits.
8. Die silwer tekkie

Silwer is nou al ’n geruime tyd een van die moet-probeer tekkietrends en silwer, spieël-effek tekkies vanjaar ook.
Indien jy steeds geheg is aan jou wit en swart Adidas sambas, moedig ons jou aan om aan silwer tekkies dink as jou nuwe “wit” of neutrale paar tekkies. Want nes jou wit/ neutrale paar, sal jy aangenaam verras wees by hoe baie hierdie tekkieskakering pas.

Stileerwenk: Silwer is ’n gunsteling tekkiekeuse by grys, swart en kraakvars wit winter-uitrustings. Dit lyk sjiek en gepoleerd plus ’n tikkie ekstra modern en vars.
9. Tekkies met versierings

Van blink sequins tot geborduurde patrone, tekkies met versierings en selfs blink charms aan veters is groot nuus.

Vir opsies beskikbaar loer hier, en hier asook hier vir jou eie tekkie versierings.
Tekkies met allerhande verserisings is ook gesien by ontwerpers Dries van Noten Louis Vuitton en Valentino op 2026 moder vertonings se loopplanke.





