9 slim modetruuks – dit gaan jy wil probeer

Het jy al gehoor van skeerroom op jou pet om grimering te verwyder? Of koeksoda vir sweet en deodorantmerke, of selfs vir skoene om weer vars te ruik. Van hierdie truuks klink dalk vreemd, maar is beslis ’n probeerslag werd! Hier is 9 slim modetruuks wat jy gaan wil probeer.  Deur Justine Kroes

25/08/2023

1. Verwyder wolletjies (pilling) op truie met ’n skeermes

Daardie wolletjies op truie is nou maar eenmaal ’n modeterugslag waarvan niemand hou nie. Om blitsvinnig hierdie wolletjies te verwyder, gebruik ’n skeermes om hulle versigtig af te skeer. Wees ekstra versigtig op ’n dun, fyner trui om nie ’n gat in te skeer nie. ’n Paar ander wenke: keer jou trui binneste buite voordat jy hom in die wasmasjien gooi en moenie saam met ander swaarder materiale was nie.

2. Watervlekke op leer

Indien jou leerskoen (of handsak) deur water or sout gevlek is, verwyder watervlekke met wit asyn en ’n sagte borsel (selfs ’n sagte tandeborsel kan werk), en werk baie saggies die vlek uit.

3. Rek skoene uit met dik sokkies en ‘n haardroër

As jou skoene dalk ’n bietjie knap sit, trek dik sokkies (sommer jou man se wintersokkies) aan en blaas met hitte van ’n haardroër op die gedeeltes waar die skoen ekstra styf sit. Die kombinasie van die hitte en die sokkies sal die skoen effens laat uitrek en dit sal meer gemaklik voel aan jou voete.

4. Koeksoda op deodorantvlekke

Dit is nou eenmaal ’n moeilike vlek om te verwyder – sweet en deodorantvlekke onder die arms bly sit was na was. Hierdie metode werk glo goed: maak ’n smeer (pasta) van water en koeksoda, wend op die vlek aan en was soos normaal. Die koeksoda sal oortollige deodorant oplos en verwyder.

5. Behou denim se kleur so:

Deur ’n halwe koppie asyn by jou wasmasjien se gewone was siklus te voeg sal jy verhoed dat jou denim sy kleur afgee. Onthou ook om altyd donker skakerings op ’n koue wassiklus in jou wasmasjien te was om te keer dat die kleur nie “bloei” nie.

Nog ’n vreemde, maar handige truuk wat werklik werk (ek het dit al getoets!) is om jou denim oornag in die vrieskas te stoor. Veral swart denims, hulle was so vinnig uit en lyk gou vaal. Om hul tussen wasse vars te hou, stoor jou donker denim oornag in die vrieskas, die ysige temperatuur neutraliseer enige ongewenste reuke en dit maak selfs glo bakterieë en kieme dood.

6. Skoene met ’n klankie

Hierdie een is dalk ’n goeie wenk vir Ma’s met tienerseuns in die huis. Sprinkel koeksoda in skoene om van enige ongewenste reuke ontslae te raak. Die koeksoda is glo ook antibakteries, wat skoene vir ’n ruk sal vars hou, reuke verwyder en vog absorbeer.

Om ‘n oop bakkie koeksoda in jou skoenekas te hou – hou glo die kas vars en absorbeer so ook enige reuke.

7. Skeerroom op klere (of pette)

Het jy al die skeerroom truuk gesien? Wend doodeenvoudig jou man se skeerroom aan jou bloes of kraag wanneer jou grimering dalk per ongeluk afgegee het. Ons sien dit veral aan die binnekant van ons pette waar die onderlaag van jou voorkop af afgee. Wend die skeerroom aan en vryf dit in. Was of klad die area liggies – jy sal die verskil nie glo nie!

8. Slim strykwenke:

As jy sopas jou klere klaar gestryk het, gee dit ’n minuut of twee om af te koel en te set, as jy dit dadelik na ’n stryk aantrek, sal die klere eenvoudig net weer kreukel.

Indien jy reis, en jy het nie ’n strykyster byderhand nie, gebruik jou haartang (hair straightener) om jou kraag en ander areas uit te stryk.

Nog ’n handige strykwenk – as jy nie ’n yster naby het nie, gebruik eenvoudig jou haardroër. Maak die gekreukelde area effens nat en blaas afwaarts droog met jou haardroër – die hitte sal blitsvinnig enige plooie uitstryk.

In ’n hotelkamer, en sonder strykyster? Gebruik die stoom van ’n ketel. Doen dit so: Om ’n rok of hemp met ’n oop ketel te “stoom” – haal eenvoudig die ketel se deksel af en laat die ketel kook. Beweeg die kledingstuk baie versigtig deur die stoom. Die die stoom sal werk soos enige stoomyster, wees net ekstra versgtig vir brand, die stoom raak vuurwarm!

9. Kam jou wollerige jasse en truie

Indien jou teddy jasse, truie of baadjies dalk ’n bietjie oud en moeg begin lyk na ’n lang winter, gee vir hul ’n klein bietjie ekstra liefde en gebruik ’n fyn kam of borsel om die faux-pels te kam. Die snoesige teksture lyk sommer dadelik meer plomp en wollerig, nes die dag toe jy dit gekoop het!

Lees ook: Pajamadag – hierdie het jy nodig

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
22 Uitstaanjasse vir die winter
error: Content is protected !!