Somervakansie uitrustings en aantrek behoort moeiteloos te voel, die perfekte balans tussen sjiek en stylvol en gemaklik. Dink aan ligte lae, materiale wat asemhaal en slim bykomstighede wat enige uitrusting blitsvinnig verhef. Hier is 9 tydlose items wat jy in jou somerklerekas nodig het plus hoe om dit te stileer. Deur Justine Kroes
9 Somerklerekas items:
1. Kraakvars wit T-hemp
Die nederige wit T-hemp is ’n moet vir elkeen se somerklerekas, minimalisties, veelsydig en vir altyd cool. Geribde teksture en organiese katoen gee ’n luukse gevoel aan die doodgewone wit T-hemp.
Dra dit so: hierdie somer kombineer jou wit T-hemp by ’n bottergeel kortbroek of romp vir ’n vars somersgevoel. Jy kan ook altyd jou wit T-hemp onder ’n slooprok stileer. Vir ’n gemaklike voorkoms werk die hemp perfek by jou denim kortbroek/romp met aanglip sandale.
2. Goedvoel somersrok
Niks kom by die perfekte somersrok wat jy moeiteloos kan aangooi om blitsvinnig “klaar” en afgerond te lyk nie.
Vir 2025 silhoeëtte, kies ’n gemaklike lospassende rok in ligte materiale (dink aan linne en katoen) 2025 se snitte is lig, lekker los, sagter en effens minimalisties.
Kies skakerings van bottergeel, bruin, wit, pastelpienk of -blou.
Dra dit so: Vir die dag, dra jou gunsteling sandale en geweefde handsak by jou somersrok vir tekstuur, jy kan selfs ’n syserp om jou middel vasbind vir ’n ekstra stileer-element.
Dra ’n linnehemp (of ’n blazer) oor jou somersrok vir koeler aande uit.
3. Trendy sandale
Hierdie somerseisoen is die verskeidenheid van trendy sandaalstyle volop! Kies ’n styl wat die beste by jou stylpersoonlikheid pas en kombineer dit met al jou someruitrustings. ’n Paar van ons gunsteling style op die oomblik: jelly-sandale, visserman sandale, visplakkie-styl sandale, bonkige sandale en sandale met metaal- afwerkings/versierings.
Wenk: Kies jou gunsteling styl ja, maar maak seker hierdie sandaal is gemaklik genoeg om elke dag te dra en kies ’n kleur wat by die meeste items in jou klerekas sal pas.
Dra dit so: Dra jou bonkige sandale by jou denim kortbroek en wit T-hemp vir ’n gemaklike naweekvoorkoms. Dra jou fyner bandjiesandale saam met ’n somersrok vir ’n sagte, vroulike voorkoms.
Dra jou vissermansandale by jou oorgroot linnehemp vir ’n gesofistikeerde maar steeds cool voorkoms.
4. Oorgroot linnehemp
Lig, lugtig en altyd stylvol, die oorgroot linehemp hoort in elkeen se somervakansie klerekas. Die maklikste item om vinnig oor jou swembroek te gooi, by ’n kortbroek en selfs by jou somersrokke te dra.
Psst … jou oorgroot linnehemp hoef nie noodwendig wit te wees nie, kies een in ’n goedvoel skakering of een met strepe.
Dra dit so: bo oor jou swembroek met ’n geweefde sak, jou sonbril en hoed vir strand toe. Dra dit half ingesteek by jou denim of linnekortbroek vir ’n netjiese maar gemaklike voorkoms. Vir die aand, dra dit oop oor ’n sloop-syrok met blink juwele.
5. Linnebroek of romp
Linne bly tydloos en hou ook goed daarby – dis hoekom dit ’n slim somer aankoop vir enige iemand se klerekas is. Linne, ’n natuurlike vessel, hou jou lyf koel tydens warm somersdae, ’n materiaalstof waarsonder ons ons nie enige somer kan indink nie.
Die stylopsies is byna eindeloos. Dra jou linnebroek/linneromp by jou wit T-hemp, net so by jou swembroek, of met jou linnehemp daarby.
Hou dit eenvoudig en kies jou linnebroek/romp in neutrale skakerings of probeer ’n helder opsie vir ’n tikkie goedvoel verskil.
6. Sonhoed
Van geweefde sonhoede tot helder bucket hats en sjiek fedoras, ons deel van die mooiste somerhoedstyle op ons inkopielys hier:
Sjiek somerhoede wat jy regtig sal wil dra
7. Sjiek sonbrille
Jou sonbril het werklik die krag om jou somerklerekas te maak of breek. Boonop rond die regte sonbril blitsvinnig jou voorkoms netjies af. Klassieke vorme soos ’n katoog of groot rame in swart of subtiele bruine skree elegansie en is so gesofistikeerd.
Dit mag dalk die moeite werd wees om in gepolariseerde lense te belê, dit maak ’n reuse verskil en beskerm jou oë teen die skerp sonlig. Styl en veiligheid sommer so in een.
Ons is natuurlik groot aanhangers van die RS Sunglasses reeks sonbrille.
Hierdie Swart Vrydag kan jy groot spaar op ons gunsteling sonbrilstyle: Spaar tot en met 35% af op uitgesoekte RS Sunglass style, vanaf 10:00am op 25 November kan jy ons spesiale kode STYLVOL10 gebruik vir ’n ekstra 10% af.

Suzanne dra die katoog sonbril wat by elke gesigvorm pas! RS Sunglasses The Original One Forest Limited Edition (R3997) , gebruik die kode STYLVOL10 vir 10% afslag op jou sonbrilkopie. Justine dra RS Sunglasses The Tailored One (R3797)




8. Syserp
Julle, die nederige syserp is seker tans ons gunsteling somermodebykomstigheid, Suzanne dra graag haar syserp in haar hare en Justine gebruik dit as ’n gordel vasgebind om haar middel. Jy kan dit ook natuurlik a-la-bandana styl dra vir ’n sjiek modevoorkoms.
Nog ’n paar idees, bind dit om jou handsak bandjies of bind jou syserp om jou somer strooihoed vir ’n ekstra bietjie kleur.
As jou syserp groot genoeg is, kan jy dit as ’n toppie om jou bolyf bind.
9. Geweefde handsak
Geweefde teksture is nou al ’n rukkie groot nuus, en ’n geweefde handsak is die perfekte bykomstigheid om jou somerklerekas af te rond. Van Raffia, tot strooi, hekel (crochet) en rottang teksture en afwerkings is 2025 cool.
Kies ’n geweefde handsakstyl wat jy prakties vind en wat by die res van jou somerklerekas sal pas. Enige geweefde styl sak van oorgroot tot palmtas grootte is nou groot nuus.
Jy hoef ook nie noodwending ’n vervelige beige skakering te kies nie, kies ’n geweefde sak in helder skakerings, met interessante patrone of selfs metaalafwerkings.
Jou geweefde handsak werk perfek saam met somerrokke vir ’n vakansie-atmosfeer en is boonop natuurlik die perfekte strandsakstyl.
Jou somerklerekas formule
Die bogenoemde items behoort vir jou klassieke maar steeds trendy volmaakte uitrustings te skep. Byvoorbeeld, kies enige drie items (bv. Linnehemp+trendy sandale+ geweefde sak) en jy het onmiddellik ’n vars, stylvolle somersuitrusting.


































