Kwartaal drie se rapport was dalk nie wat jy of jou kind gehoop het nie, of dalk was dit beter. Nou is die laaste kwartaal hier, en die druk om op te maak of nog beter te doen en te presteer is groot. So ook die angs en bekommernis dat ons kinders nie eendag suksesvol sal wees nie. Hoe kan ons ons kinders help om vas te byt en veerkragtig te wees? Deur Milan Murray van The My Story Tribe.
Sewe stappe tussen faal en vasbyt
“Wat is sukses?” vra Chantel Griesel, raadgewende Arbeidsterapeut van The My Story Tribe in ’n onlangse onderhoud oor eksamenangstigheid. (Luister na die onderhoud hier)
“Ouers het deesdae ’n onrealistiese verwagting van kinders om deurgaans uitmuntend te wees. Waneer ouers praat van “gemiddeld”, verwys hulle in baie gevalle na 70%, alhoewel 70% in werklikheid bo-gemiddeld is!”
Hierdie druk en siening het die gevolg dat kinders namate verleer om deur te druk of weer te probeer.
Met die doel om hierdie groeiende gebrek aan veerkragtigheid in kinders te verstaan, het Chantel ’n studie gedoen oor die konsep van ‘vasbyt’. Hoe kan ons, ons kinders leer om vas te byt, aan te hou en deur te druk sonder om hulle moed te breek?
Chantel definieer deursettingsvermoë en veerkragtigheid as die vermoë om uitdagings met moed te trotseer, deur te druk in die aangesig van teëspoed, en weer te probeer ten spyte van teleurstellings. Sy het 7 struikelblokke geïdentifiseer wat kinders kniehalter in die proses:
1. Gebrek aan outonomie
Kinders floreer dikwels wanneer hulle ’n gevoel van beheer oor hul eie lewens het. ’n Gebrek aan outonomie kan hul vermoë om besluite te neem en uit hul foute te leer, benadeel.
Om onafhanklikheid te bevorder, kan ouers geleenthede bied vir hul kinders om keuses te maak – of dit nou is om hul eie klere te kies, aktiwiteite te beplan, of selfs om hul huiswerkskedules te bestuur. Dit verhoog nie net hul selfvertroue nie, maar moedig ook probleemoplossing en kritiese denke aan.
Wanneer ’n kind betrokke is by “waarom en hoe” hy/sy moet deurdruk, is dit meer as net ’n eksterne opdrag. So ’n kind neem makliker verantwoordelikheid vir sy/haar vordering.
2. Lae selfdoeltreffendheid
Selfdoeltreffendheid is effens anders as selfbeeld.
Selfdoeltreffendheid verwys na iemand se geloof in hul vermoë om te slaag.
Wanneer kinders aan hul vermoëns twyfel, mag hulle dalk moeilike uitdagings vermy. Ouers kan dit teenwerk deur realistiese doelwitte te stel en klein prestasies te vier. Positiewe versterking is noodsaaklik. Wanneer kinders hul vordering herken, is hulle meer geneig om nuwe uitdagings met ’n veerkragtige ingesteldheid aan te pak.
3. Vaste denkwyse
Waneer ’n kind ’n vaste of rigiede denkwyse het, is hulle geneig om te glo dat hul vermoëns onveranderlik is. Dit ontmoedig hulle om nuwe dinge te probeer of volharding deur moeilike tye te toon. Om ’n groeidenkwyse aan te leer — dat vaardighede en intelligensie ontwikkel kan word — kan lewensveranderend wees.
Waneer ’n kind glo dat groei moontlik is, dat prestasie moontlik is, dat vordering moontlik is, kan dit ’n kettingreaksie van energie en waagmoed tot gevolg hê.
Ouers kan hierdie denkwyse aanhelp deur moeite en inisiatief te prys, eerder as as net positiewe eindresultate.
4. Oorbeskerming
Terwyl dit natuurlik is om ons kinders teen seer en teleurstelling te wil beskerm, kan oorbeskerming hul vermoë om uitdagings onafhanklik te hanteer, benadeel. Wanneer ouers voortdurend tussenbeide tree, mis kinders waardevolle leerervaringe.
Laat eerder kinders toe om ouderdom-geskikte risiko’s te navigeer, terwyl jy hulle deur die proses lei eerder as om oor te neem.
Dit leer hulle hoe om selfstandig met mislukking en teëspoed om te gaan.
5. Onmiddellike beloning
In ’n tyd van kitsoplossings en onmiddellike belonings mag kinders sukkel om die waarde van harde werk en geduld te waardeer.
Normaliseer uitgestelde belonings en kweek só ’n kultuur van ‘vasbyt’.
Moedig aktiwiteite aan wat tyd en moeite vereis, soos om ’n uitdagende legkaart te voltooi of aan ’n langtermynprojek te werk. Bespreek die bevrediging wat spruit uit die positiewe resultate van sulke volharding, en beklemtoon die waarde van geduld.
6. Onrealistiese verwagtinge
Angela Duckworth, skrywer van die topverkoper “Grit”, moedig kinders aan om hulle eie doelwitte en verwagtinge te stel. Op so manier is dit ‘n persoonlike belegging en dus minder angswekkend. Waneer ouers te hoë verwagtinge stel, kan dit lei tot ’n gevoel van onvoldoendheid.
Kommunikeer openlik oor die verskil tussen ’n strewe na uitmuntendheid en die druk van perfeksionisme. Moedig kinders aan om op persoonlike groei te fokus eerder as om hulle met ander te vergelyk.
7. Gebrek aan passie
Waneer ’n kind konstant uitgedaag word om deur te druk met iets wat ver buite hulle belangstellingsveld is, kan dit toekomstige veerkragtigheid ontmoedig.
Ons kan kinders se dryfkrag aanwakker deur hulle te help om hulle passies te ontdek. Moedig die verkenning van verskeie aktiwiteite, stokperdjies, en vakke aan om te vind wat met hulle resoneer. Ondersteun hul strewe en drome en wees geduldig terwyl hulle tree vir tree nuwe paaie toets. Kinders verras ons gewoonlik met hoeveel hulle bereid is om op te offer en hoe gefokus hulle aan iets kan werk as die “saadjie” vir die uitdaging gegrond is in passie.
Inisieer ’n “Fail-a-Bration”
Een kragtige konsep om te oorweeg in die bevordering van vasbyt en veerkragtigheid is Brad Montague se idee van ‘n “failabration.”
Hierdie innoverende benadering moedig kinders aan om hul mislukkings te vier as waardevolle leerervaringe eerder as teëspoed.
Gaan besoek gerus hulle webblad of volg sy inspirerende Instagram blad @bradmontague ) om meer te lees oor hierdie beweging wat tans oor meer as net een kontinent gevier word!
Deur openlik foute te erken en te bespreek wat hulle daaruit kan leer, ontwikkel kinders ’n gesonder verhouding met mislukking. Hierdie perspektief verminder nie net die vrees om foute te maak nie, maar verhoog ook hul selfvertroue om weer te probeer.
Wanneer kinders verstaan dat mislukking ’n natuurlike deel van groei is en dat elke verkeerde stap tot nuwe insigte kan lei, is hulle meer bereid om risiko’s te neem, uitdagings aan te pak en in hul pogings volharding te toon.
Dalk kan ons ‘n vlaag van “Fail-a-Brations” oor die land inisieer. Heel moontlik sal meer as net ons kinders daardeur geïnspireer word!
Aktrise Milan Murray is die stigter van The My Story Tribe. Sy is ’n ma van twee en passievol oor die emosionele welwees, groei en geestesgesondheid van kinders.